SA juig oor Guptas, maar uitlewering kan maande sloer

  • 0

Suid-Afrikaners is hoog in die wolke dat twee van die Guptas wat by staatskaping betrek word, uiteindelik in Dubai in hegtenis geneem is. Dit kan egter nog maande duur voordat die twee omstrede broers in Suid-Afrika op die bewerings teen hulle teregstaan .

Rajesh en Atul Gupta word pertinent in regter Raymond Zondo se verslag oor staatskaping genoem as twee van die voorbokke wat na bewering miljoene rand van die land se belastinggeld gesteel het deur middel van staatskaping.

Hulle inhegtenisname is wyd verwelkom deur politieke partye, burgerlike organisasies en gewone Suid-Afrikaners, wat nie kan wag dat hulle in oranje oorpakke geklee word nie.

Die DA, ANC en Action SA het in verklarings gesê hulle wil sien dat geregtigheid geskied en dat diegene wat agter grootskaalse staatskaping is, aan die man gebring word. Die burgerregtegroep Defend our Democracy het in sy reaksie gesê die inhegtenisnemings is ’n belangrike oorwinning vir reg en geregtigheid.

Defend our Democracy sê in hulle verklaring as die Guptas aan Suid-Afrika uitgelewer gaan word om aanklagte in die gesig te staar, sal dit ’n belangrike oorwinning wees vir die talle burgerlike organisasies en gewone burgers wat vir geregtigheid en aanspreeklikheid gevra het.

Action SA sê hulle verwelkom die nuus van die Guptas se inhegtenisname na die uitreiking van ’n rooi kennisgewing deur Interpol. Die party sê dit moet egter opgevolg word deur sterk burgerlike verantwoordbaarheid.

Die arrestasie het gekom nadat ’n ondersoek na die massiewe plundering van staatsinstellings tydens Zuma se bewind afgehandel is. Atul en Rajesh Gupta word daarvan beskuldig dat hulle voordeel getrek het uit hul noue bande met oudpresident Jacob Zuma en na bewering onbillike invloed op regeringslui en amptenare uitgeoefen het.

Suid-Afrika se ministerie van justisie het Maandagaand “bevestig dat hy inligting van wetstoepassingsowerhede in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) ontvang het dat voortvlugtiges van geregtigheid, naamlik Rajesh en Atul Gupta in hegtenis geneem is”.

Daar lê egter nog ’n lang pad voor voordat die twee broers in ’n Suid-Afrikaanse hof sal verskyn. Hulle sal na verwagting alles in hul vermoë doen om nie aan Suid-Afrika uitgelewer te word nie.

Die Suid-Afrikaanse regering het Dinsdag gesê Suid-Afrika sal voortgaan om met die VAE saam te werk en volgens Suid-Afrikaanse amptenare vind uitleweringsgesprekke reeds met die VAE plaas. Die uitleweringsproses vanuit die VAE na Suid-Afrika kan egter maande neem.

Die Guptas het in 1993 na Suid-Afrika gekom om ’n sakeryk in mynbou, rekenaartegnologie en media te bou. Hulle het selfs Suid-Afrikaanse burgerskap gekry. Albei het landuit gevlug kort nadat die Zondo-kommissie in 2018 met sy werksaamhede  begin het.

Regter Zondo het in sy verslag bevind dat die Guptas skynbaar diep betrokke was by staatskaping. Daar is glo tot op die hoogste regeringvlak en met van die ANC se topleiers gekonkel om hulself deur middel van staatskaping te verryk.

Daily Maverick het Dinsdag berig dat daar ’n mate van frustrasie onder die land se sekuriteitsgroep is oor die manier waarop die nuus van die arrestasies Maandagaand uitgelek het. Hulle sou glo verkies het dit deur die VAE of Interpol self bekendgemaak word.

Dit is volgens die koerant as gevolg van die baie delikate diplomatieke eierdans wat aan die gang is tussen Suid-Afrika en die VAE oor die uitleweringskwessie.

Volgens Daily Maverick is Suid-Afrikaanse prokureurs reeds in die VAE om aan die saak te werk. Een van die moeilikste aspekte is watter aanklagte teen die Guptas aanhangig gemaak moet word. Dit sal moet voldoen aan die vereistes van die VAE-wetgewing en ook rotsvas moet wees in die lig van die Guptas se verwagte regsaanslag daarteen.

Daar was teen Dinsdag nog geen amptelike bevestiging van die aanklagte teen die Guptas nie, hoewel News24 berig het dat hulle aangekla sal word in verband met die Nulane Investment-bedrog- en -geldwasserysaak wat in September in die Bloemfonteinse Hooggeregshof aanhangig gemaak is.

Die DA het in hulle reaksie gesê hulle neem kennis van berigte van die arrestasies van die twee “staatskaping-konings”.

“Ons hoop dat dit inderdaad die begin is van arrestasies en vervolging van diegene wat – plaaslik en in die buiteland – ons land vir jare geplunder het en direk verantwoordelik is vir die ontberings wat miljoene Suid-Afrikaners vandag in die gesig staar.”

Die DA sê hulle sien uit na meer inligting rakende die arrestasies en die proses wat ná die arrestasies gevolg sal word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top