Die Suid-Afrikaanse regering word ten sterkste verkwalik omdat verskeie hooggeplaastes in die regering tydens ’n skemeronthaal glasies op die Russiese weermag geklink het enkele ure nadat Rusland Oekraïne verlede week binnegeval het.
Op die dag van die inval het die ANC-regering se minister van verdediging en militêre veterane, haar departement se spesiale adviseur, en die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ’n glasie vonkelwyn op die Russiese weermag geklink.
Die skemerkelkie by die Russiese ambassadeurswoning in Pretoria ter ere van die Russiese weermag is aangebied deur die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, Ilja Rogatsjof, en die Russiese verdedigingsattaché, kolonel Dmitriy Priimachuck.
Alle Navo-lidlande het die geleentheid geboikot.
Dié inligting is Maandag deur die DA-leier, John Steenhuisen, in ’n verklaring bekend gemaak.
Steenhuisen sê Rusland se aanval op Oekraïne het Thandi Modise, haar direkteur-generaal se spesiale raadgewer, Tsepe Motumi, en die hoof van die SANW, Rudzani Maphwanya, in volle uniform, nie gekeer om glase te klink en sjampanje te drink terwyl hulle die mag van ’n leër gevier het wat pas sy buurland binnegeval het nie.
Hy eis dat president Ramaphosa onmiddellik sy en die regering se standpunt oor die inval van Oekraïne verduidelik.
On the day of Russia’s invasion of Ukraine, ANC Ministers attended a cocktail function in honour of the Russian Defence Force.
President Ramaphosa must immediately clarify his and his government’s position on the invasion of Ukraine. - @jsteenhuisen https://t.co/30PXVdQ7o9
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 28, 2022
“Die groteskheid van hierdie gebaar kan nie oorbeklemtoon word nie. Stel jou voor dat jy ’n glas lig op die mag van die Duitse leër by die Duitse ambassade op die dag dat Hitler Pole binnegeval het,” sê Steenhuisen in sy verklaring.
Hy sê in ’n tyd waarin die wêreld verenig is in sy veroordeling van Rusland se oorlogsverklaring teen ’n soewereine staat – wanneer die sterkste Poetin-bondgenote, soos die Hongaarse premier en die Tsjeggiese president, teen hom gedraai het, en selfs China buite stemming gebly het tydens ’n VN-Veiligheidsraad-stemming eerder as om Rusland te ondersteun – kon die ANC-regering nie vinnig genoeg na die verkeerde kant van die geskiedenis skarrel nie.
“Om die situasie te vererger het hierdie skemerkelkiegeleentheid plaasgevind slegs twee ure nadat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking ’n verklaring uitgereik het waarin gevra word dat Rusland uit die Oekraïne moet onttrek.”
Steenhuisen sê die land het ’n minister van buitelandse sake, Naledi Pandor, wat verskillende deuntjies sing. Eers volgens die Russiese gesangblad in haar Sona-debattoespraak, en dan ’n ommekeer deur haar departement in die vorm van ’n oproep vir ’n Russiese onttrekking. Daarna word dít weer onmiddellik weerspreek deur haar ANC-kollegas se bywoning van ’n geleentheid wat die Russiese inval verheerlik.
Wat is werklik aan die gang? Dit wil Steenhuisen weet. “Waar staan die ANC-regering en president Ramaphosa oor die Russiese inval in die Oekraïne? Hoe kan die een kant nie weet wat die ander doen tydens ’n groot wêreldkrisis nie? Elke ander wêreldleier het dit op een of ander manier moontlik gevind om ’n duidelike standpunt te stel. Hoekom het ons nie in absolute en ondubbelsinnige terme van president Ramaphosa gehoor waar hy staan nie?”
Die DA-leier sê Rusland is nou ’n wêreldwye pariastaat danksy die meedoënlose oorlogvoering van sy despotiese leier. “Hulle het nie meer vriende en bondgenote gehad nie, en met reg. Behalwe hier in Suid-Afrika, waar jy nog die laaste eensame buitepos sal vind van ondersteuning vir ’n brutale regime wat geen agting het vir internasionale reg of die heiligheid van lewe nie.”
Volgens Steenhuisen kan die ANC die land nie nog verder in die verleentheid stel op die wêreldtoneel nie, selfs al probeer hulle.
“Dit is onaanvaarbaar dat president Ramaphosa toelaat dat hierdie verwarring voortduur, en dat ons land se beeld deur die modder gesleep word. Die DA doen ’n beroep op hom om onmiddellik die nasie en die wêreld oor die saak toe te spreek en sy en sy regering se standpunt oor die inval in die Oekraïne deur die Russiese Federasie onder Wladimir Poetin te stel,” het hy gesê.