SA kunstenaars in Australië verneder oor Afrikaans

  • 0

Suid-Afrikaanse kunstenaars is woedend omdat hulle nie toegelaat is om Afrikaanse en Kaapse liedjies te sing tydens ’n musiekfees in Australië wat deur die Suid-Afrikaanse Toerismeraad gereël is nie.

Die skrywer en kunste-aanbieder Beryl Crosher-Serges het haar frustrasie op Facebook uitgestort toe een van die vertonings wat sy help reël het, kortgeknip is omdat daar ook Afrikaanse en Kaapse liedjies gesing is.

Die vereiste was glo dat daar 10 Afrika-liedjies in die vertoning moet wees, maar SA Toerisme het daarop aangedring dat al 10 liedjies slegs in swart Afrikatale gesing mag word.

“Ek wil my uiterste afkeur en teleurstelling uitspreek vir die manier waarop die Suid-Afrikaanse kunstenaars Alistair Izobell, Loukmaan Adams en Devanish Hendricks deur SA Toerisme in Australië behandel is tydens die geleentheid,” het sy op Facebook geskryf.

Sy sê hulle het opdrag gekry om ’n lys liedjies vir die geleentheid voor te berei waaronder 10 “Afrika”-liedjies. Die Suid-Afrikaanse toerismebeampte wat betrokke was, is ’n Australiër en die geleentheidsorganiseerder is glo ook ’n Australiër met weinig kennis van Suid-Afrikaanse musiek. Die kunstenaars het ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse en ander musiek voorberei om op te voer. Hulle wou ’n vrolike atmosfeer skep soos wat hulle die opdrag verstaan het en het al 11 Suid-Afrikaanse tale ingesluit.

“Die kliënt (SA Toerisme) het beswaar gemaak teen sommige van die liedjies en daarop aangedring dat al die Suid-Afrikaanse liedjies in swart tale moet wees. Hulle wou nie die Afrikaanse of Kaaps-Maleise musiek hoor van mense soos Taliep Petersen of David Kramer en selfs nie die meer populêre liedjies soos Tony Schilder se ‘Montreal’ of nie-kulturele liedjies soos ‘Hope Johanna’, ‘Hot, Hot, Ho’ en ook nie Abdullah Ebrahim se ‘Manenberg’ en Jonathan Butler se ‘7th Avenue’ nie.”

Skermgreep van gesprek op Facebook

Hulle het aangedring al 10 Suid-Afrikaanse liedjies moet in swart tale gesing word tydens ’n geleentheid wat Suid-Afrikaanse expats wou aanmoedig om “huis toe te kom vir ’n kuier”. Die kunstenaars sê die geleentheid was beslis nie verteenwoordigend van Suid-Afrika se kultuur nie.

“Ek kon nie glo hoe daar so blatant en sonder respek teen die kunstenaars opgetree word tydens ’n geleentheid wat veronderstel was om Suid-Afrika se kultuur te bevorder nie,” sê Beryl. Hulle is glo totaal geïgnoreer deur die seremoniemeester.

Beryl sê die marginalisering van sekere voorheen benadeelde Suid-Afrikaners moet end kry. “Ons het ook ’n geskiedenis. Erken dit.”

“Waarom kan die musiek van Taliep Petersen, David Kramer, Tony Schilder en Zane Adams nie erkenning geniet saam met ander groot kunstenaars soos Brenda Fassie, Miriam Makeba, Hugh Masekela, Mandoza en ander nie? Waarom?”

Verskeie Suid-Afrikaners het ook hul misnoeë op sosiale media te kenne gegee.

Sy sê sy het nog nooit voorheen ervaar dat die “kliënt” tydens ’n vertoning op die verhoog stap en die kunstenaar aansê om op te hou sing, soos tydens dié opvoering  nie. “Ek is woedend,” het sy op Facebook geskryf.

“Die dame wat die organiseerder was en die geleentheid moes koördineer, het op die verhoog gestap en gesê sy is nie tevrede met die liedjies nie omdat dit nie Suid-Afrikaans is nie.”

Beryl sê die Suid-Afrikaanse kunstenaars is ’n verskoning verskuldig vir die manier waarop hulle behandel is. “Dit was vernederend en die minste waarop hulle geregtig is, is ’n verskoning.”

News24 berig dat hulle tevergeefs probeer het om kommentaar te kry by die departement van toerisme. Die departement se woordvoerder Blessing Manale was glo nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Beryl Crosher-Serges het almal in ’n opvolgboodskap op Facebook bedank vir hulle ondersteuning. Sy sê as gevolg van die oorvloed steun wat van die Suid-Afrikaners ontvang word, geniet die voorval nou tot op die hoogste vlak aandag. “Die openbare vernedering van hierdie kunstenaars sal nie ongesiens verbygaan nie,” het sy op Facebook geskryf.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top