Die Russiese president, Wladimir Poetin, moet ver van Suid-Afrika af bly totdat sy naam wetlik skoongemaak is. Geen Suid-Afrikaanse wetgewing moet gewysig word net om hom, of enigiemand anders, vir een besoek te beskerm nie.
So sê die politieke kommentator en stigter van The United South Africa Movement (Tusam), Solly Moeng.
Tusam is ’n burgerlikesamelewingsbeweging van besorgde Suid-Afrikaners wat verlede maand gestig is met die doel om ’n landsberaad te vorm wat die trajek wat Suid-Afrika sedert die begin van demokrasie geneem het, te ondersoek met die oog op volgende jaar se verkiesing.
Moeng sê Suid-Afrika moet ’n lid van die Internasionale Strafhof (IS) bly, asook ondertekenaar van die Statuut van Rome.
As jy nie ’n misdadiger is nie, het jy niks om van die IS te vrees nie, sê die opskrif van Moeng se jongste nuusbrief.
If you're not a criminal, you have nothing to fear from the ICC https://t.co/VU6ZlIqFNB via @LinkedIn
— Solly MOENG (@Solitoliquido) May 7, 2023
Ten spyte van die vinnige bollemakiesie deur president Ramaphosa oor Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die IS, debatteer Suid-Afrikaners steeds onder mekaar oor die wenslikheid al dan nie daarvan dat die land uit die IS moet onttrek.
Moeng skryf in sy gereelde nuusbrief, Africa Brand Summit, dat om in die IS te bly, soos ’n wettige versekeringspolis vir die man op straat is.
“Dit is slegs vir mans en vroue wat dikwels tot politieke ampte verkies word en in despote of menseregtemisbruikers verander, ’n moontlike bedreiging. Dit is misdadigers, nie gewone burgers nie, wat baie het om te vrees. Leiers wat binne die oppergesag van die reg en in die belang van die burgers van hul lande optree, moet nie bekommerd wees oor die moontlikheid om na die IS verwys te word vir strafregtelike vervolging terwyl hul hande skoon is nie.”
Oproepe vir ’n Afrika-hof om die IS te vervang, maak ook nie sin nie, het Moeng sy argument op Facebook verder gevoer.
“Sou so ’n hof deur die Weste of deur Afrika-state gefinansier word? Indien eersgenoemde, sou dit nie blootgestel word aan beheer deur sogenaamde witmonopoliekapitaal/kolonialiste en uiteindelik enige legitimiteit verloor wat dit nodig het nie?”
Hy wil ook weet of so ’n hof alleen gelaat sal word om sy werk sonder vrees, guns of vooroordeel te doen as dit deur Afrika-state befonds word.
“Sou sittende despote in Afrika hulle aan die jurisdiksie van so ’n Afrika-hof onderwerp? Of sou dit as ’n skild gebruik word deur mense wat op aansprake op argaïese Afrika-tradisies inspeel om die onverdedigbare te verdedig?”
Moeng sê daar was ’n tyd toe dit ’n mens ’n gevoel van trots gegee het wanneer ook al wêreldnuusopskrifte begin het met "Suid-Afrika het dit of dat gedoen" of “... sal dit of dat doen”, met die wete dat wat dit ook al was, betrekking het op ’n besluit wat geneem is deur ’n regering wat ons met trots, ten volle, as ons s’n omarm het – ’n regering deur die mense vir die mense wat besluite geneem het in die belang van alle Suid-Afrikaners.
Hy sê dit is egter binnekort 30 jaar dat die politieke stert die hond swaai wat Suid-Afrika betref, en dit moet eindig.
Om te verwag dat Suid-Afrika wetgewing moet verander om eenmalige immuniteit te gee aan mense soos Poetin in ’n geval soos dié, soos wat regeringslui soos die minister van justisie voorstel, is totale waansin, sê Moeng. “As hulle hul middelvinger na die IS en die res van die wêreld wil swaai, moet hulle dit van elders af doen, nie deur ons as pionne in hul gevegte te gebruik nie.”
Moeng gee toe dat die IS tans soos ’n vrywillige klub van nasies saamgestel is. Hy sê in plaas daarvan om te dreig om hul lidmaatskap te onttrek op grond van simpel redes wat geen belang vir gewone mense het nie, moet Suid-Afrika en ander ondertekenaars van die Statuut van Rome liewer van binne af steun werf vir enige hervormings wat hulle verlang, nie deur gewone burgers te beroof van die wetlike versekeringsdekking wat hulle het teen growwe misbruik van hul regte nie.