SA se draadsittery oor Oekraïne wyd gekritiseer

  • 0

Skets deur Prawny | Pixabay

 

Talle Suid-Afrikaners het hulle misnoeë uitgespreek omdat die Suid-Afrikaanse regering nie ’n ferm standpunt by die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering ingeneem het teen Rusland se inval in Oekraïne nie.

Suid-Afrika het buite stemming gebly toe die VN Woensdagaand oor ’n resolusie gestem het wat Rusland se inval in Oekraïne ten sterkste veroordeel.

Die uitvoerende hoof van Agri SA, Christo van der Rheede, het op sy Facebookblad gesê Suid-Afrika se leierskap kies nou openlik kant, nie by die Russiese volk wat vrede soek nie, maar by die kant van ’n diktator wat deur die Russiese oligargie ondersteun word.

“Terwyl die meerderheid van die wêreld die resolusie ondersteun, raai wie was deel van die paar wat hulle stem weerhou het? Suid-Afrika!” het hy sy frustrasie op Facebook uitgestort.

PEN Afrikaans, wat uit skrywers en joernaliste bestaan, het in ’n skerp verklaring die regering se houding beskryf as “’n onhoudbare morele posisie terwyl ’n sinnelose oorlog woed wat mense hul lewens en vryhede kos.”

PEN Afrikaans sê ook: “As ’n skrywersvereniging in ’n grondwetlike demokrasie wat teen groot koste tot stand gekom het, ken ons die waarde van woorde en van stemme wat opklink ​​teen sosiale onreg. Ons weet dat stilbly nie ’n opsie behoort te wees nie.”

Suid-Afrika was een van 35 lande wat buite stemming gebly het, terwyl 141 lande vir die resolusie gestem het en vyf daarteen. Van Suid-Afrika se BRICS-vennote was Rusland die enigste land wat teen die resolusie gestem het. Indië en China het, soos Suid-Afrika, buite stemming gebly, terwyl Brasilië al BRICS-land was wat ten gunste van die resolusie gestem het.

Slegs vier lande behalwe Rusland het teen die resolusie gestem. Hulle is Eritrea, Belarus, Noord-Korea en Sirië – almal lande met ’n uiters swak menseregterekord en geen demokrasie nie.

Suid-Afrika se weiering om hom by die meerderheid van die internasionale gemeenskap te skaar in hul verwerping van Rusland se optrede in Oekraïne is in skrille kontras met die wense van Westerse moondhede en die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing.

Op sosiale media is die regering onder andere daarvan beskuldig dat die ANC-leierskap al vir te lank in die bed is met die Russe.

Daily Maverick berig Suid-Afrikaanse geestelikes, akademici en leiers van die burgerlike samelewing het vroeër ’n petisie gesirkuleer wat geëis het dat Suid-Afrika moet vra vir die einde van die Oekraïnse oorlog.

“Ons moet dit doen sonder ambivalensie of dubbelspraak.”

“As Rusland goeie betrekkinge met Suid-Afrika wil hê, moet hy die gewelddadige omverwerping van sy buurland staak,” lui die petisie waarna die koerant verwys.

Die DA het ook hulle ontsteltenis uitgespreek omdat Suid-Afrika buite stemming gebly het. Die party sê in ’n verklaring dit was ’n geskikte tyd vir die regering om ’n duidelike en morele standpunt in te neem wat hulle veld sou laat wen het.

“Dit is ongelooflik dat Suid-Afrika dubbele standaarde kan hê wanneer dit by menseregte kom, en dit ontneem die land van sy laaste aanspraak op morele legitimiteit.”

Die DA sê om jou by Rusland te skaar is ’n teken van medepligtigheid van wat in Oekraïne gebeur of dat mens dit goedpraat. “Ons doen ’n beroep op Suid-Afrika om Rusland aanspreeklik te hou aan internasionale reg in ooreenstemming met die Geneefse Konvensie,” sê die DA in hulle verklaring.

“Ons doen verder ’n beroep op Suid-Afrika om sy lidmaatskap van BRICS te gebruik om met Rusland te probeer skakel om hul onttrekking uit die Oekraïne te bewerkstellig.”

Blinde lojaliteit gedrapeer in historiese verbintenisse kan volgens die DA nie ’n rede wees om gebonde te wees aan toekomstige besluite nie. Die party sê die Suid-Afrikaanse regering het nog kans om standpunt in te neem en hulle moet die regte ding doen.

Suid-Afrika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Mathu Joyini, het in ’n verklaring walgegooi en probeer verduidelik waarom die land nie vir of teen die veroordeling van Rusland se inval in Oekraïne gestem het nie.

Suid-Afrika sou volgens haar ’n oop en deursigtige proses verkies het om oor die resolusie te onderhandel. “Dit sou ons almal, as gelyke lede van die Vergadering toegelaat het om ons standpunte te stel en ideaal gesproke ’n vlak van begrip te bereik voordat die teks ter tafel gelê is.”

Sy sê lidlande moet voortgaan om saam te werk om vrede te bevorder. Gebare wat bloot die indruk skep dat dit vrede bevorder sonder betekenisvolle optrede, sal nie help nie, het sy gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top