SA skiet nog ver te kort na 28 jaar se demokrasie

  • 0

Suid-Afrikaners het Woensdag 28 jaar van demokrasie gevier, maar almal in die land is dit eens dat die land van melk en heuning wat beloof is, steeds net ’n droom is.

Terwyl president Cyril Ramaphosa tydens sy Vryheidsdagtoespraak klem gelê het op die voordele wat demokrasie gebring het, het opposisiepartye van links tot regs op die politieke spektrum kritiek uitgespreek op die ANC-regering se onvermoë om ware vryheid in die land te laat realiseer.

Agt-en-twintig jaar gelede, net voor middernag op 26 April, is die ou Suid-Afrikaanse vlag vir die laaste keer regoor die land laat sak.

Vir 66 jaar was dit ’n simbool van onderdrukking, diskriminasie en segregasie, het Ramaphosa in sy toespraak gesê.

Oomblikke later is die vlag van die demokratiese Suid-Afrika vir die eerste keer gehys.

Die volgende dag, 27 April 1994, het ’n nuwe era aangebreek toe nagenoeg 20 miljoen Suid-Afrikaners vir die eerste keer hul stem uitgebring het.

Ramaphosa het gesê die land onthou die onsterflike woorde van oudpresident Nelson Mandela die dag toe hy ingehuldig is, toe hy gesê het:  “Nooit, nooit en nooit weer sal dit wees dat hierdie pragtige land weer die onderdrukking van die een deur die ander sal ervaar nie. Laat vryheid heers.”

Die DA-leier, John Steenhuisen, het in die Oos-Kaap gesê 28 jaar later is daar groeiende armoede, werkloosheid en chaos wat deur die ANC-regering veroorsaak word. Meer as 30 miljoen Suid-Afrikaners is in diepe armoede vasgevang.

“Werkloosheid is op ’n rekordhoogtepunt. Dinge word elke jaar erger en erger. Agt-en-twintig jaar later weet ons nou dat politieke vryheid nie outomaties werklike vryheid bring nie,” het Steenhuisen gesê.

Hy sê werklike vryheid kom van werk, skoon water, elektrisiteit, goeie paaie, soliede huise, goeie klinieke en goeie skole. “Vryheid sonder hierdie regte dinge is nie die ware vryheid waarvan mense gedroom het nie. Dit is nie vryheid wat mense kan gebruik nie. Hier in hierdie vergete area van die Oos-Kaap is werklike vryheid nêrens te sien nie.”

Steenhuisen sê na 28 jaar besef al hoe meer Suid-Afrikaners dat die ANC nie werklike vryheid kan en sal lewer nie. Dis hoekom die ANC tot ’n einde kom. Hulle sal nie ná 2024 die nasionale regering wees nie.

Die EFF-leier, Julius Malema,  het by sy party se Vryheidsdaggeleentheid in Mamelodi gepraat. Malema het in sy toespraak op misdaad, werkloosheid en geslagsgebaseerde geweld gefokus.

Malema sê vryheid beteken dat almal gelyk moet wees, ongeag geslag of ras. Vryheid is volgens hom betekenisloos vir Suid-Afrikaanse vroue.

Soos gewoonlik het hy weer die grondkwessie opgehaal en gesê dat gelykheid ook strek tot ’n gelyke aandeel in die grond en die ekonomie. Hy sê Suid-Afrikaners sou na die beloofde land van melk en heuning gelei word, maar is vasgevang in ’n land van permanente pyn.

In sy toespraak het die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, gesê sy party sal nie ophou om te wys op die ongeregtighede van Swart Ekonomiese Bemagtiging en regstellende aksie nie, want solank daar rasdiskriminerende wette bestaan, sal minderhede in Suid-Afrika nie waarlik vry wees nie.

“Veral op die dag waarop vryheid in Suid-Afrika gevier word, is dit belangrik om opnuut daarvan kennis te neem dat nie alle mense ingevolge hul grondwetlike regte vryelik sake kan doen en hul potensiaal kan verwesenlik nie,” het Groenewald gesê.

Groenewald het ook geskimp in die rigting van ’n onafhanklike Wes-Kaap. Woensdag se optog in Kaapstad wat vra vir onafhanklikheid wys volgens hom dat daar ’n groeiende besef en behoefte ontstaan om “weg te breek van hierdie onderdrukking”. Hy sê ’n gevoel vir ’n onafhanklike Wes-Kaap het al sterk inklank aanklank begin vind.

Volgens mediaberigte het daar egter slegs sowat 300 mense die optog in die Moederstad bygewoon wat vir ’n onafhanklike Wes-Kaap vra.

Ramaphosa het toegegee dat die visie van ’n beloofde land van vryheid, gelykheid en gedeelde welvaart na 28 jaar nog nie gerealiseer het nie. Hy sê dié visie is beswadder deur dade van korrupsie en staatskaping.

Hy het verskeie van die land se prestasies gelys, maar sê ten spyte van al hierdie prestasies, en ten spyte van baie vordering, is ons nog nie waar ons wil wees nie.

Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om verantwoordelikheid te neem om die Suid-Afrika te bou wat deur die Grondwet beloof is. “Ons het keer op keer bewys dat ons bo ons verskille kan uitstyg; dat ons sterk kan uitkom te midde van teëspoed. Kom ons neem verantwoordelikheid, een en almal. Kom ons neem verantwoordelikheid binne ons gesinne, in ons gemeenskappe, in ons werkplekke en studieplekke, en in ons plekke van aanbidding. Kom ons neem verantwoordelikheid in ons daaglikse interaksies met ons landgenote. Kom ons bou die brûe van verdraagsaamheid en begrip wat die basis van ons nasieskap is,” het Ramaphosa gesê. 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top