SA skitter by Statebondspele

  • 0

Foto: https://www.teamsa.co.za

Suid-Afrika se atlete skitter by die Statebondspele in Australië.

Van die hoogtepunte wat Suid-Afrika reeds tydens vanjaar se Statebondspele behaal het, sluit in goue, silwer en bronsmedaljes asook wêreld-, Statebond- en Afrika-rekords.

In net meer as ’n uur het die Suid-Afrikaanse atlete Maandag vier goue medaljes by die spele ingepalm. Drie van die goue medaljes is gewen deur die swemmers Cameron van der Burg in die 50m-borsslag, Tatjana Schoenmaker in die 100m-borsslag en Chad Le Clos in die 100m-vlinderslag. Nog ’n goue medalje behoort aan Akani Simbine wat die 100m naelloop gewen het. Charl du Toit, ’n para-atleet het met ’n tyd van 11,35 sekondes ’n nuwe wêreldrekord in die T37-klas vir gestremde atlete opgestel.

Die afgelope week se goue medaljes het ingestroom voordat Caster Semenya die 1 500 m Dinsdagmiddag aangedurf het. Sy het nie teleurgestel nie en die goue medalje in die 1 500 m op die spele verower met ’n persoonlike beste tyd en ook die Statebondrekord verbeter. Dié rekord is 34 jaar gelede deur ’n ander Suid-Afrikaner, kaalvoet Zola Budd, opgestel.  

Suid-Afrika se Brad Tandy het die tweede Statebondspele van sy loopbaan op ’n hoë noot afgesluit toe hy ’n silwermedalje gewen het in die 50m-vryslag en later weer op die podium gestaan het om brons te wen as lid van die 4x100 wisselslag-aflosspan.

Twee van vanjaar se Suid-Afrikaanse sporthelde wat die verbeelding aangegryp het, is die naelloopatlete Akani Simbine en Henricho Bruintjies wat onderskeidelik goud en silwer ingepalm het in die 100m.

Die media bestempel hulle prestasie as een van die groot oomblikke in Suid-Afrikaanse atletiek. Simbine se verskyning op die podium was te wagte maar Bruintjies was ’n algehele buitestaander. Sy prestasie het almal verras toe hy ’n silwermedalje wen.

Simbine het op Team SA se webwerf gesê ’n groot deel van die wedloop was vir hom effens van ’n droom wat hy nie kan onthou nie.

Dit was eers van die 60m merk dat sy gedagtes weer koers gekry het. “Ek onthou die wedloop letterlik eers van die 60m merk af,” het hy op Team SA se webwerf gesê. Dit was Simbine se eerste goue medalje tydens ’n groot kampioenskap en ongetwyfeld die hoogtepunt van sy atletiek-loopbaan.

Suid-Afrika hoop om nog ’n paar medaljes in te palm tydens die spele. Simbine en Bruintjies sal ook deelneem aan die 4x100m aflos en hulle is oorgehaal om die span te laat wen.

“Ek gaan met twee goues huis toe,” het Simbine aan Team SA gesê. “Dit was ’n groot mylpaal om nie net een nie, maar twee Suid-Afrikaners op die podium te sien staan en dis iets om te vier,” het hy na die tyd oor sy en Bruintjies se uitsonderlike prestasie gesê.

Hy het die hoop uitgespreek dat hulle prestasie ander jong Suid-Afrikaners sal aanspoor om hard te oefen en dat hulle moet weet dit is moontlik om die beste ter wêreld te wen as mens hard oefen met ’n doelwit voor oë.

Gelukwense vir die Suid-Afrikaanse atlete by die Statebondspele het van oral ingestroom. Die Blitsbokke se afrigter Neil Powell het op Twitter gesê die hele land is geïnspireer deur die vertonings van Team SA tydens die Statebondspele.

Daar is nog verskeie atlete wat dopgehou moet word en die spele en atlete se prestasies kan gevolg op word op Team SA se webwerf by https://www.teamsa.co.za.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top