SA-stede met meeste geweld: Kaapstad, Nelson Mandelabaai en Durban

  • 0

Kaapstad, wat algemeen bekend is as een van die wêreld se mooiste stede, is nie net mooi nie. Dit is ook een van die mees gewelddadige stede ter wêreld. 

Hierdie bedenklike eer het die Moederstad weer te beurt geval in ’n verslag wat die wêreld se mees gewelddadige stede in volgorde lys. Kaapstad is volgens  ’n verslag van die Mexican Council for Public Security and Criminal Justice aangewys as die 11de gewelddadigste stad ter wêreld.

Die drie stede met die meeste geweld in die land, in volgorde van geweld, is Kaapstad, Nelson Mandelabaai en Durban. 

Die verslag lys die 50 stede met die meeste geweld in die wêreld volgens die aantal moorde wat elke jaar in die onderskeie stede gepleeg word per 100 000 mense. Slegs stede met ’n bevolking van meer as 300 000 waarvan die moordstatistiek bekend is, word in ag geneem.

Soos in vorige jare is die stede met die meeste moorde in die Amerikas, veral Mexiko en Suid-Amerika. Suid-Afrika is die enigste land buite die Amerikas wat die bedenklike eer het om dié lys te haal.

In 2018 se lys was Kaapstad eerste in Suid-Afrika met ’n moordsyfer van 66,4 vir elke 100 000 inwoners. Dit is aansienlik meer as die 62,3 per 100 000 mense wat in 2017 in die stad vermoor is. Kaapstad het in 2018 ’n bevolking van 4 322 031 gehad met 2 868 moorde.

Ten spyte van die feit dat Johannesburg deur baie mense as een van die gewelddadigste stede in die land beskou word, het die Goudstad nie die lys gehaal as een van die top 50 stede in die wêreld met die meeste moorde nie. Johannesburg het laas die lys in 2015 gehaal toe dit nommer 47 was.

Die twee ander stede wat saam met Kaapstad op die lys verskyn, is heelwat laer met Nelson Mandelabaai op nommer 45 en Durban op nommer 47.

Nelson Mandelabaai se moordsyfer het toegeneem van 37,5 moorde per 100 000 tot 39,2 per 100 000 in 2018 wat dit die tweede gewelddadigste stad in die land maak en nommer 45 wêreldwyd. In 2018 het Nelson Mandelabaai ’n bevolking van 1 220 616 gehad en 478 moorde.

Durban se moordsyfer het ook effens toegeneem van 38,1 per 100 000 in 2017 tot 38,5 per 100 000 verlede jaar. Die stad se algehele posisie op die lys het egter ietwat verbeter en gedaal van nommer 44 in 2017 tot nommer 47 verlede jaar.

Van die 50 stede in die wêreld met die meeste moorde is 17 in Brasilië, 12 in Mexico, vyf in Venezuela, vier in die VSA, drie in Colombia, drie in Suid-Afrika, twee in Honduras en een elk in El Salvador, Guatemala, Puerto Rico en Jamaika.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top