Vroue in Suid-Afrika dra steeds ’n buitensporige las van werkloosheid, onderindiensneming en laer arbeidsmagdeelname in vergeleke met mans, al het meer vroue onlangs werk gekry.
Dit blyk uit die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname wat Dinsdag deur Statistiek SA vrygestel is.
Volgens Statistiek SA is dit deels omdat vroue meer geneig is om huishoudelike pligte, kinderopvoeding en ander verantwoordelikhede op te neem, wat hul geleenthede in die arbeidsmark beperk.
Die neigings in die arbeidsmagdeelname en opnamekoerse vir mans en vroue vanaf 2014 tot 2024 dui daarop dat minder vroue aan die arbeidsmark deelgeneem het in vergelyking met mans.
Die algehele werkloosheidskoers in Suid-Afrika het volgens Statistiek SA weer gestyg en staan nou op 33,5% in die tweede kwartaal van 2024. Dié syfer was in die eerste kwartaal 32,9%.
Although women’s labour force participation rate has been increasing over time. Men’s participation in the labour force is higher than women participation.
Read more here: https://t.co/Migk1JcPxG#StatsSA #employment #WomensMonth2024 #WomensMonth pic.twitter.com/YeXUnjBsLd
— Stats SA (@StatsSA) August 13, 2024
Statistiek SA sê in ’n verklaring Vrouedag, wat hierdie maand gevier word, dien as ’n kragtige herinnering aan die voortdurende stryd vir geslagsgelykheid en die dringende behoefte om geslagsongelykhede in verskeie sfere aan te spreek, veral in die arbeidsmark.
“Ten spyte van aansienlike vordering in vroueregte, staar baie steeds uitdagings in die gesig, soos hoër werkloosheidsyfers, onderindiensneming en hindernisse tot loopbaanvordering in vergelyking met mans. Hierdie ongelykhede beïnvloed nie net vroue se ekonomiese onafhanklikheid nie, maar beperk ook algehele ekonomiese groei.”
Daar was in die tweede kwartaal ’n afname van 92 000 in die aantal werkende persone tot 16,7 miljoen vergeleke met die vorige kwartaal. Daar was ’n toename van 158 000 in die aantal werkloses tot 8,4 miljoen vergeleke met die vorige kwartaal se resultate.
Volgens die jongste resultate het ontmoedigde werksoekers in totaal met 147 000 toegeneem (meer as 4,8%), terwyl die aantal persone wat, om ander redes as moedeloosheid, nie ekonomies aktief was nie, tussen die twee kwartale met 75 000 (0,6%) gedaal het. Dit het gelei tot ’n toename van 72 000 in die aantal persone wat nie ekonomies aktief was nie. Die syfer staan nou op 16,3 miljoen in die tweede kwartaal van 2024.
Vroue was meer geneig om werksaam te wees in gemeenskaps- en maatskaplike dienste, handel en private huishoudings, in vergelyking met mans.
Vir vroue het die arbeidsmag-deelnamekoerse wel oor die meeste onderwysvlakke gestyg, al is die agterstande nog lank nie uitgewis nie.
Die mees betekenisvolle toenames in arbeidsmagdeelname is waargeneem onder vroue met minder as ’n matriekkwalifikasie (styg van 40,0% tot 43,1%, ’n toename van 3,1 persentasiepunte) en gegradueerdes (styg van 85,7% tot 87,2%, ’n toename van 1,5 persentasiepunte) oor die tydperk van 10 jaar.
Women were more likely to be employed in Community & Social services, Trade and Private households as compared to men. Tune in to Radio Turf at 14h14 as #StatsSA unpacks the latest #labour statistics.
More here: https://t.co/AEQ2Q6vp8e#WomensMonth #GenderStatistics pic.twitter.com/7PPzxM8WYA— Stats SA (@StatsSA) August 13, 2024
Indiensneming in die formele sektor het in die tweede kwartaal met 77 000 afgeneem, terwyl die informele sektor se indiensneming oor dieselfde tydperk met 48 000 toegeneem het.
Daar was in die tweede kwartaal ’n afname van indiensneming in die handel (111 000), landbou (45 000), private huishoudings (18 000), konstruksie (11 000), sowel as finansiële nywerhede (9 000). Toenames in indiensneming is hoofsaaklik aangeteken in vervaardiging (49 000), gemeenskaps- en maatskaplike dienste (36 000) en nutsdienste (9 000).
Die resultate dui ook aan dat die grootste afnames in indiensneming waargeneem is in die Wes-Kaap (65 000), Mpumalanga (50 000) en KwaZulu-Natal (49 000), terwyl die grootste toenames in Gauteng (42 000), Limpopo (31 000) en die Oos-Kaap (25 000) was.
Vergelykings tussen die eerste kwartaal van 2024 en die tweede kwartaal van 2024 se resultate toon dat die totale aantal werklose vroue met 93 000 tot 4,1 miljoen toegeneem het, terwyl die aantal werkende vroue met 28 000 tot 7,4 miljoen afgeneem het. Dit het daartoe gelei dat die vroue se werkloosheidsyfer van 35,2% in die eerste kwartaal van 2024 tot 35,8% gestyg het in die tweede kwartaal van 2024.
Vir meer inligting, laai die kwartaallikse arbeidsmagopname, kwaartaal 2:2024, hier af.