SABC wil selfooneienaars vir TV-lisensies laat betaal

  • 0

Die SAUK hoop om sy leë geldkoffers te vul met bykomende lisensiegeld wat van tablette, selfone en verskaffers van betaaldienste soos Netflix en MultiChoice (DStv) afkomstig is.

Suid-Afrikaners het woedend reageer op die voorstel wat Dinsdag in die parlement deur die SAUK aan die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie voorgestel is.

Ruan Lotter het op Twitter gesê die korrupte Suid-Afrikaanse regering raak nou werklik desperaat. “Steel hulle nie reeds genoeg van ons nie? Hierdie is ’n groot grap. Wat van YouTube? Vimeo? AppleTV? Amazon? En al die ander duisende VOD-platforms? Moet ons nou ons regering daarvoor ook betaal?”

Die nasionale uitsaaier het in ’n voorlegging aan die parlement gesê die voorstel is deel van die uitsaaier se plan om inkomste te genereer. Volgens die voorlegging deur die adjunkminister van kommunikasie, Pinky Kekana, is die huidige definisie van ’n TV- lisensie uitgedien en behoort dit aangepas te word om tred te hou met die nuwe tegnologie en ook ander toestelle en verskaffers buite die SAUK in te sluit.

Die SAUK sê so ’n regulasie sal soortgelyk wees aan munisipaliteite wat verkeersboetes insamel en motorvoertuiglisensieskyfies as bron van inkomste gebruik. Die huidige regulasies belemmer glo die SAUK se vermoë om ’n volhoubare inkomste te genereer.

Mybroadband berig Kekana het tydens sy voorlegging aan die parlementêre komitee gesê die regering se voorstel om die SAUK te help om sy finansiële posisie te verbeter behels onder andere dat die openbare uitsaaier ook lisensiegeld kan vorder van mense wat nie TV-gebruikers is nie.

“Insluitend onderhandelings met diegene wat van die SAUK se programme op hul betaalkanale uitsaai, hoe maak ons deur ICASA seker dat ook hulle ons kan help om TV-lisensiegeld in te samel?” het Kekana gevra.

Hy het gesê dit word egter nie slegs tot TV’s beperk nie. Hy sê daar is ook ander platforms waar daar van die SAUK se inhoud gebruik word.

Dit beteken die SAUK wil gebruikers wat op toestelle soos skootrekenaars en slimfone na van sy inhoud kyk, ook dwing om lisensiegeld te betaal.

Die SAUK se Redakteursforum, bestaande uit lede van die nuusredaksie, het intussen bewerings deur die SAUK se topbestuur ontken dat die nuusafdeling te veel personeel het. Die Redakteursforum onder leiding van die nasionale bulletinredakteur vir radio, Zolisa Sigabi, het volgens RSG-nuus in ’n voorlegging aan die komitee gesê dat 748 permanente personeel en 398 vryskutpersoneel verantwoordelik is vir nuus op radio-, televisie- en digitale platforms wat in al die 11 landstale en op die Afrika-vasteland uitgesaai word.

Dit volg nadat die SAUK werknemers Maandag in kennis gestel het dat hy nou ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge eensydig kan voortgaan met beplande afleggings nadat onderhandelings by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie misluk het.

Sowat 600 personeellede se poste is in gedrang. Die SAUK sê in sy omsendbrief dat hy wel nog ’n skriftelike voorlegging oor alternatiewe oplossings sal bekyk.

Die DA se woordvoerder oor kommunikasie, Phumzile van Damme, het die SAUK, vakbonde en ander rolspelers gevra om saam te werk om oplossings vir die korporasie se probleme te vind. Die vakbond BEMAWU het met regstappe gedreig indien die SAUK voortgaan met afleggings. Van Damme het gepraat nadat verskeie rolspelers voorleggings by die parlement se kommunikasiekomitee gemaak het. Sy sê die partye moet raakpunte vind, omdat die voortdurende vyandigheid en bakleiery tot niemand se voordeel is nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top