Volgens Netwerk24 moet minstens ’n verdere R10 miljard gevind word om die reeds bankrot Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) van finale ondergang te probeer red.
Ongeveer 86 persent van SAL se krediteure het Dinsdag ingestem om die lugdiens se voorgestelde reddingsplan te aanvaar, berig Netwerk24. Meer as 75 persent van SAL se krediteure moes ten gunste van die voorgestelde reddingsplan stem voordat dit kragtens die Maatskappyewet aanvaar kon word.
Die Departement van Openbare Ondernemings het vroeër in ’n verklaring gesê die regering is daartoe verbind om die nodige hulpbronne vir die oorgang te finansier.
Die departement se waarnemende direkteur-generaal, Kgathatso Tlhakudi, sê volgens Netwerk24 dit is belangrik vir die land en die streek dat SAL weer sal vlieg. Netwerk24 berig hy het onder meer toerisme as voorbeeld gegee waarom die nasionale lugdiens behou moet word.
Die regering sal Woensdag ’n brief aan die sakereddingspraktisyns stuur waarin ’n onderneming gegee word vir die befondsing van die plan.
Een van die praktisyns, Siviwe Dongwana, sê die Departement van Openbare Ondernemings sal in die komende weke ’n nuwe tussentydse raad aanstel. Netwerk24 berig dat die bedryfshoof van die SAL, Philip Saunders, is as waarnemende uitvoerende hoof van SAL aangestel.
“En daar val die (gewaarborgde lening-) banke ‘hook, line and sinker’ vir die regering se scam met ons belastinggeld,” het George Burton op Netwerk24 se kommentaarblad geskryf. Hy sê nie een van hulle is dapper of slim genoeg om die “waarborg” van die “regering” op te eis nie. “Nogal snaaks, want dan kon hulle sommer nou al uitvind (wat gewone mense lankal uitgewerk het) dat ’n regeringswaarborg nie die papier werd sal wees waarop dit geskryf is nie. Stemkopery op sy siekste, met ander mense se geld.”
Vroeër het Netwerk24 berig dat die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging Sacca gedreig het om regstappe te doen indien die SAL gelikwideer word. Hulle het president Ramaphosa gevra om die minister van finansies, Tito Mboweni, af te dank omdat hy glo ten gunste daarvan is dat die SAL gelikwideer word, het Netwerk24 berig.
Die DA het reeds vroeër gesê hulle eis groter duidelikheid oor wie gaan betaal vir die plan wat die SAL se sakeredders voorgelê het om die lugdiens te red. Volgens die DA sal dit immoreel wees om reddingsboeie vir die SAL te finansier terwyl die land in ’n ekonomiese krisis verkeer.
Een van Netwerk24 se lesers, André du Toit, meen die krediteure het ten gunste van die “plan”, wat volgens hom net mooi niks gaan red nie, gestem, want die belastingbetaler staan pa en ma vir die skuld van die SAL.
Hy sê indien SAL gelikwideer was, het hulle “wasters in die rand” gekry. “Dit was dus van die begin af duidelik dat al wat gered gaan word is die krediteure en weer eens moet die belastingbetaler kom regstaan vir 10 (waarskynlik meer) van die bestes. Nou kan die kripvreters weer vetter word.”
“Ek is seker dom, maar ek verstaan nie mooi hoe mens stem vir iets waarvoor daar nie geld is nie? Of is dit maar net ’n manier om die tesourie af te pers om nog bloed uit die reeds-oorbelaste belastingbetaler te mergel?” wou Henk Roos weet.
Volgens Netwerk24 het Dongwana kort na Dinsdag se vergadering gesê die sakeredders verwelkom die besluit. Dit is volgens hom ’n belangrike stap vorentoe vir die lugdiens en bied die broodnodige sekerheid vir ’n herstruktureerde SAL.
Buro: MvH