Indien president Cyril Ramaphosa sy dag met ’n doenlysie begin, behoort die volgende drie items tans prioriteit op sodanige lysie te geniet:
- Suid-Afrika se verhouding met president Donald Trump
- onsekerheid oor die RNE
- voorbereidings vir later vanjaar se G20-beraad, waarvoor hy en die land as gasheer aangewys is.
Die drie items is nie noodwendig in die volgorde van belangrikheid gelys nie. Om die waarheid te sê, die drie is uiteindelik met mekaar ineengevleg.
Trump geniet wel die soort aandag wat hom vooropstel, misplaas soos wat sy kommentaar oor Suid-Afrika ook al mag wees. Die kommentaar word gevoed deur die onwaarhede wat sy oor bereik het, wat hy duidelik glo en wat hy pas weer op sy Truth Social-platform gedeel het – onder meer dat ’n menseslagting teen wit Suid-Afrikaners gepleeg word en dat hul grond op groot skaal gegryp word. Wat ’n mens opval, is dat dit nie voorkom asof Ramaphosa op sy RNE-vennote (wil) steun vir ’n teen-Trump strategie nie – asof hy glo dat hy self (of hy en sy ANC-kollegas) al die kennis en kundigheid in pag het om met ’n oplossing vorendag te kom vir wat ’n ongelooflike internasionale diplomatieke krisis is.
Maar intussen maak hy wel staat daarop dat Trump die G20-beraad sal bywoon – nie slegs omdat hy dan die presidentskap van dié groepering van die wêreld se belangrikste ekonomiese moondhede aan die VSA moet oorhandig nie, maar ook omdat die teenwoordigheid van ’n Amerikaanse president by enige vername internasionale byeenkoms nogal prominensie aan so ’n geleentheid verleen; en natuurlik ook die gasheer se profiel ’n hupstoot gee.
Nou het Trump egter reeds ’n groot vraagteken gehang oor of Amerika enigsins die beraad “behoort” by te woon, gegee dit wat hy gehoor het in Suid-Afrika aan die gebeur is en – wat sy verstand te bowe gaan, voeg hy in sy sosialemediaplasing by – dat die media nie daaroor berig nie. Hiernaas het hy videomateriaal gebruik met opruiende en gewelddadige uitsprake deur die EFF-leier Julius Malema as bewys of bevestiging van dit wat hy oortuig is aan die gang is aan die onderpunt van die Afrika-vasteland.
Ramaphosa se aanstelling van Mcebisi Jonas, ’n voormalige adjunkminister van finansies, stryder teen staatskaping en deesdae sakeleier, as sy spesiale gesant na Amerika, word tegelykertyd verwelkom én bevraagteken. (Die reaksie het op ’n manier te doen met die punt wat ek vroeër gemaak het oor Ramaphosa en die ANC se “eiewysheid” in sy bestuur van die Uniegebou of in Luthuli-huis, hoofkwartier van die party). Jonas laat egter in die algemeen die indruk dat hy diplomaties genoeg is – en ook emosioneel intelligent – om die land en die President se saak met grasie te kan stel.
Grasie is weliswaar nie noodwendig die vaardigheidstel wat in die tyd van Trump benodig word om “diplomatieke” sukses te behaal nie; gedienstigheid sal dalk meer vrugte dra.
Jonas het, soos ons nou uitgeskopte ambassadeur, Ebrahim Rasool, ook reeds kritiese uitsprake gemaak oor Die Groot Wetmaker van Washington. Selfs al was dit reeds in 2020 gedurende die 11de Ahmed Kathrada-stigting se jaarlikse gedenklesing en in ’n bepaalde konteks gedoen, slaan dit steeds hard en is dit in ooreenstemming met die soort beswaddering (verdienstelik of ten onregte) wat vandag steeds na Trump geslinger word: “racist” en “homophobic”, het Jonas hom toe genoem; en ook ’n “narcissistic right-winger”. En nou moet hy dié “homofoob”, “rassis”, “narsis” en “regse” leier of sy verteenwoordigers gaan ontmoet om voortgesette samewerking tussen Amerika en Suid-Afrika te bewerkstellig? Wat jy wáár kry?
Ramaphosa het dan ook sy eie houertjie olie op die vuur gegooi toe hy aan die begin van die storm verklaar het: “Ons sal onsself nie laat boelie nie. (...) Trump kan sy Amerika hou en ons sal ons Suid-Afrika hou.”
Nou waarom sal Trump hom aan vertoë vir vredemaking steur as hy weet wat ons land se leier(s) werklik van hom dink? Tog is alles nie verlore nie. Ramaphosa se Panado vir dié hoofpyn is om dalk self op die vliegtuig te klim en as’t ware met ’n jammer-sê-plakkaat (of -geskenk) by die Withuis op te daag. Dit is duidelik dat Trump se ego gestreel moet word sodat hy altyd moet voel hy is in beheer van situasies; dat jy hom nie durf verkeerd probeer bewys nie; en dat jy hom gee wat hy wil hê en vat wat jy kry.
Hieroor kan Ramaphosa iets leer by die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, wat op pad na Suid-Afrika is en met pap op die gesig weg is ná sy laaste besoek aan Trump. Om na Trump se hand te speel beteken nie dat hy reg is en jy verkeerd nie; dit beteken dat jy besluit wat die belangrikste is – en as goeie verhoudinge met Amerika oor die volgende vier jaar hoog op jou prioriteitslys as staatshoof is, stel jy jou land se belange voorop en nie jou eie ego nie.
Of het Ramaphosa die sjarme verloor waarmee hy die oorgangsonderhandelinge bestuur het en met sy bewindsoorname in 2018 ’n euforie kon teweegbring? In welke geval ons moontlik moet begin soek na ’n volgende leier wat oor die vereiste vaardighede vir vandag se geopolitieke chaos beskik.