SAL stuur af op ’n totale ramp

  • 0

Die bankrot Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se einde kom al hoe vinniger nader en daar is feitlik geen kans meer dat dié internasionale lugredery meer gered kan word nie.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het reeds voorgestel dat SAL se vlerke geknip en hul deure gesluit word. Hy het erken dat daar geen salf meer te smeer is aan hierdie korrupte en bankrot semi-staatsinstelling nie.

Sommige senior politici in die regering hoop egter steeds om die SAL te privatiseer en dat daar kundiges is wat die lugdiens weer winsgewend kan maak. Ekonomiese kenners is dit eens dat dit lankal neusie verby is met die SAL. Hulle sê geen privaat instansie sal met ’n tang daaraan wil raak nie omdat die SAL se skuldlas eenvoudig te groot is.

Terwyl Mboweni die SAL se lyding so gou as moontlik agter die rug wil kry, wil die ANC ten alle koste probeer om weer lewe te blaas in ’n onderneming wat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers miljoene rand kos.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordan, hoop ook om nog ’n haas uit die hoed te trek. Hy het die SAL se direksie opdrag gegee om hulle huis in orde te kry en met ’n omkeerstrategie vorendag te kom.

Gordan het aan SAL-personeel in Kemptonpark gesê vir die SAL om weer lewensvatbaar te word, moet die korrupsie wat die lugdiens nou al jare lank kenmerk uitgeroei word en diegene wat die SAL besteel het, moet die geld teruggee.

Die kanse dat die eens trotse lugredery wat selfs die apartheidsanksies kon oorleef nog gered kan word, lyk al hoe skraler.

Die SAL het op 1 Februarie 1934 tot stand gekom, en op 10 November 1945 begin met die Springbokdiens, die eerste internasionale diens tussen Johannesburg en die stad Bournemouth in die Verenigde Koninkryk.

Dit was die eerste lugredery buite die Verenigde Koninkryk wat stralers in gebruik geneem het (die Comet I).

Toe Afrikalande hulle lugruim as gevolg van apartheid vir die lugdiens gesluit het, het SAL sy vlerke gesprei en in 1963 ’n nuwe lugroete om die weskus van Afrika vir sy dienste gebruik.

Die SAL het sedert 1994 al hoe verder agteruitgegaan en word lankal nie meer as een van die voorste lugrederye gereken nie.

Die rubriekskrywer Johan Maarman het SAL die afgelope week in ’n rubriek op Netwerk24 beskryf as een van die staatsentiteite wat soos ’n zombie is.

“Die SAL verdien om van die radar te verdwyn. Dis nou een semi-staatsinstelling wat gulsig geld opslurp en wat jaarliks vetgevoer moet word met belastingbetalers se geld,” skryf Maarman in sy rubriek.

Hy sê hul diens is vrot en hulle kan nie meer met die voorste lugdienste in die wêreld saamgesels as dit by korporatiewe bestuur kom nie.

Die ekonoom prof Jannie Rossouw meen SAL moet eenvoudig weggegee word. Hy het tydens ’n vergadering van die parlement se finansieskomitee gesê die belastingbetaler kan nie langer bekostig om SAL elke keer van ondergang te red nie.

Die DA is ook gekant teen enige verdere reddingsboeie vir die SAL en sê die onderneming moet gesluit word. Die party verwelkom Mboweni se soortgelyke standpunt en sê dit is in skrille kontras met die ANC se herhaalde mantra in die parlement dat die land dit nie kan bekostig om sy vlagskip lugdiens vaarwel te roep nie.

Terwyl die ANC toutrek oor die SAL se toekoms, word voorspel dat dit die belastingbetalers in die volgende drie jaar nog ’n verdere R21 miljard sal kos aan reddingsboeie om SAL in die lug te hou as die regering nie hulle vlerke wil knip nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top