Samewerkende regering kry steun sowel as teenstand

  • 0

Die moontlikheid van ’n samewerkende regering van nasionale eenheid wat die ANC sowel as die DA insluit, is met uiteenlopende reaksies onder gewone Suid-Afrikaners, politieke partye en vakbonde begroet.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het gister (Donderdag) in Boksburg verder beraadslaag oor die opsies om ’n regering saam te stel nadat die party die meerderheidsteun van die land verloor het in die afgelope verkiesing.

Die ANC is ook intern verdeeld oor die vooruitsig om saam met die DA in ’n regering te werk. Sommige lede van die party se NUK beskou dit as verraad teenoor die vryheidstryd, terwyl ander meen dat dit in landsbelang is.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het Donderdag gesê die ANC is bereid om met almal te praat, insluitend die MK-party.

Die DA is bereid om met ander partye, onder andere die ANC, saam te werk, maar nie met partye soos die MK-party en die EFF wat die land se Grondwet wil opskeur nie. Die DA het op X gesê hulle sal die belang van Suid-Afrika vooropstel. “Daarom praat ons tans met ander politieke partye om seker te maak dat ’n regering gevorm word wat ons Grondwet beskerm teen partye wat dit wil opskeur.”

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) sê hulle beskou ’n ANC-DA-koalisie “nie as ’n lig aan die einde van die tonnel nie, maar ’n aankomende trein wat die werkersklas sal onderdruk en likwideer”, luidens ’n verklaring van sy hoofsekretaris, Irvin Jim.

Numsa het met uitgebreide massa-aksie gedreig indien die ANC en DA ’n koalisie vorm. Die vakbond beskou enige samewerking met die DA as verraad teenoor die werkersklas. Hulle sê die  rede waarom die ANC politieke mag verloor het, was die mislukking van die ANC sedert die bewindsoorname in 1994 om by ’n bevrydingsvisie te bly.

Die vakbond het nie ’n voorkeur vir ’n koalisievennoot vir die ANC uitgespreek nie, maar het gesê hy kan “koalisies aangaan met die res van ander progressiewe politieke partye wat setels gewen het”.

Die vakbond Solidariteit het op hulle beurt gesê hulle ondersteun ’n veelpartyregering met sekere sterk voorwaardes, soos dat “radikale partye”  nie deel moet wees van so ’n regering nie – ’n duidelike verwysing na die MK-party en die EFF.

Die voorsitter van Solidariteit, Flip Buys, het Donderdag tydens ’n nuuskonferensie gesê Solidariteit dring ook aan op ’n ruimte vir kulturele selfverwesenliking. Dit sluit die noodsaaklikheid in dat die omstrede Bela-wet in sy huidige vorm geskrap word, asook die wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Buys sê Solidariteit is bereid tot samewerking met so ’n regering, maar nie koöptering nie.

Hy het gesê Suid-Afrika is vandag ’n beter plek as voor die verkiesing en daar is ’n beter kans om die land uit die doodloopstraat te kry waarin die ANC dit die afgelope 30 jaar gelei het.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ook gesê hy steun ’n tipe samewerkende regering. Hy stem saam die land is ’n beter plek as twee weke gelede. Hermann sê deel van Solidariteit se voorwaardes om met die nuwe regering saam te werk, is ’n markvriendelike beleidsraamwerk wat tot groei, welvaart vir almal en werkskepping  sal lei.

ActionSA het uit die Veelpartyhandves onttrek en besluit om nie deel te wees van enige samewerking met die ANC nie. Die party sê in ’n verklaring hy sal voortgaan om sy verbintenis om ’n alternatief vir die ANC te wees, na te kom.

“As sodanig sal ActionSA geen werksverhouding met die ANC op enige regeringsvlak aanknoop nie.”

Die party sê hulle sal aanbly as lid van die Stad Tshwane se koalisieregering in sy huidige opset. Hulle is egter bereid om te onttrek en ’n konstruktiewe opposisie te wees “indien die politiek van die dag die ANC na die hoofstad sou terugbring”.

ActionSA sê hulle sal as ’n konstruktiewe opposisie in die Nasionale Vergadering en die drie wetgewers waar hulle verteenwoordig word, funksioneer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top