Nog ’n Suid-Afrikaner is by sy eie vrou in die verleentheid nadat hy ’n skrapsgeklede foto van homself in sy onderbroek aan ’n ander vrou gestuur het.
Die slag is dit nie die politikus Malusi Gigaba wat hom tot sosiale media gewend het om sy gesin verskoning te vra vir sy optrede nie, maar die bekende Afrikaanse sanger Jay du Plessis wat voorheen lid was van die popgroep Eden.
Du Plessis, wat bekend is op sy voornaam Jay, het op Facebook verskoning gevra vir die glips. “So ek het die jaar ’n fout gemaak en ’n foto van myself in ’n onderbroek vir ’n ander vrou gestuur. Ek is erg spyt daaroor, ek sê dit sodat niemand daaroor hoef te skinder nie. Dis waar. Ek voel soos ’n hond en ek hoop ek kan dit regmaak met die res van die tyd wat God my spaar,” het Jay op Facebook geskryf.
Jay wat saam met sy vrou en vier seuns op ’n gesinsfoto op sy Facebook-profiel pryk, het behoorlik die tonge los gehad met sy bekentenis.
Du Plessis het die ATKV Crescendo-sangkompetisie in 2001 saam met Joe Niemand – wat tans ’n gewilde Afrikaanse gospelsanger is – gewen. Hy het daarna by Eden aangesluit voordat hy sy solo-loopbaan begin het. Hy is ook al by twee geleenthede vir ’n SAMMA genomineer en van sy albums het platinumstatus bereik.
Sy aanhangers het uiteenlopend reageer. Sommige wou hom kruisig, ander het vir hom in die bres getree en party het gereken dit is ’n gekskeerdery of dat iemand sy rekening sonder sy toestemming gebruik. Die meeste het vir hom gebid.
“Ek hoop regtig dat hierdie ’n grap is of dat die foon gesteel of gehack is ... ek judge glad nie, maar as ’n vrou wat self sulke dinge moes deurgaan, weet ek hoe Jay se vrou voel! As hierdie waar is, bid ek dat julle oor hierdie kan kom, want julle is so ’n beautiful gesin! Ek sê vanaand vir julle ’n extra gebedjie op ... baie sterkte, staan Mia by en verstaan as sy seer en gekneus voel, moet nie druk op haar plaas nou nie,” het een van sy aanhangers Sonya Steyn haar hart uitgestort op Jay se Facebook-blad.
Nog iemand anders het geskryf: “Jay sing seker iewers heel onskuldig terwyl iemand anders goed pos op sy Facebook-blad. Klink glad nie soos hy nie.”
Hy moes hulle egter teleurstel en erken dit is waar. “Self teleurgesteld en daar is geen verskoning nie. Swakheid van my. Nou moet ek dit net face en hopelik kry ek ’n kans om dit beter te maak,” het hy sy teleurgestelde aanhangers probeer troos.
Sy Facebook-pos waarin hy verskoning vra vir sy onderbroekfoto aan ’n ander vrou het reeds sowat 1 000 kommentare en reaksies ontlok. Hy het sowat 150 000 volgelinge op Facebook.
Madri Botes meen “dis ’n eina wat net Liewe Jesus kan reg maak. Ek struggle self om te vergeet, laat my wonder of ek vergewe het as ek nie kan vergeet nie. Maar mens probeer terwille van jou eie liefde vir die persoon. Ek dank die Here my hart het nie dood gegaan nie. Elke dag is wel ’n reminder ... maar ek bly glo.”
Terwyl sommige van sy ondersteuners hom die Leviete voorgelees het, het ander hom verdedig. Leatitia Beylefeld skryf soos volg: “Daar is in elk geval glo ek baie ander sangers wat seker ook daardie vout (sic) begaan het satan ly mens in versoeking daagliks en emosies gaan woes wees media gaan nou veral gefokus wees op elke klein voutjie (sic) love ur music was al by baie shows God will never let you to it if He cant get you through it ! Sterkte aan gesin altyd jul op via gekyk! Mag God jul pyn saam laat dra en mekaar net nader in plas van verder verdryf !.” Verbatim aldus Leatitia.
Dit lyk egter of die storm gou oorgewaai en die stof gaan lê het, want die afgelope week nooi hy sy bewonderaars vuur en vlam uit na sy optredes en lyk of die meeste hom vergewe het.
Buro: NB