Die Suid-Afrikaanse Sataniese Kerk is die duiwel in omdat satanisme verbind word met die grumoord op ’n 13-jarige kind van Klawer in die Wes-Kaap.
Die 56-jarige Klawer-man wat gearresteer is vir die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk, het na bewering aan sy prokureur gesê sy optrede was deel van okkultiese moorde wat hy sedert sy kinderjare beoefen het.
Daniel Smit het die afgelope week sy eerste verskyning in die Klawer-landdroshof gemaak nadat menslike oorskot in ’n drein op sy eiendom in Klawer gevind is.
Die Suid-Afrikaanse Sataniese Kerk (South African Satanic Church) het egter met skok en verontwaardiging reageer op die bewering dat die moord deur satanisme geïnspireer is.
Die kerk het die prokureur van die beweerde kindermoordenaar, Santie Human, skerp gekritiseer omdat sy beweer haar kliënt Daniel Smit het die moord gepleeg omdat hy ’n praktiserende satanis is.
Die Suid-Afrikaanse Sataniese Kerk is in Februarie 2020 gestig. Volgens die kerk se Facebook-blad is hulle missie om satanisme in die steeds veranderende Suid-Afrikaanse godsdienstige arena te verteenwoordig. Satanisme en die beoefening daarvan word, volgens hulle, deur die Suid-Afrikaanse Grondwet erken en beskerm.
Die kerk se leraars, Riaan Swiegelaar en Adri Norton, sê in ’n verklaring op Facebook hulle is geskok oor die gebeure wat op 2 Februarie 2022 in Klawer plaasgevind het, waar die 13-jarige kind na bewering vermoor is.
“’n Video is onder ons aandag gebring waarin die prokureur, Santie Human, beweer haar kliënt Daniel Smit het die moord gepleeg omdat hy ’n satanis was en die okkulte beoefen het.”
In die video noem sy dat 2 Februarie ’n godsdienstige dag vir okkultiese praktisyns is en weens die datum 2 Februarie 2022 met soveel 2's kon haar kliënt homself nie meer beheer nie en moes hy iemand doodmaak. Daniel beweer ook dat hy moes doodmaak om van “bose geeste” bevry te word.
Hy was na bewering voorheen betrokke by ’n kultus in Seepunt wat hom geleer het hoe om van lyke ontslae te raak.
Volgens die Sataniese Kerk is satanisme ’n godsdiens wat daarop fokus om die lewe te vier en om op ’n gesonde en verantwoordelike manier die mens se tyd hier op aarde die beste te benut.
“Om dood te maak is nie in ooreenstemming met satanisme nie, aangesien dit nie respek vir die lewe is nie. Bladsy 89 van die Sataniese Bybel, geskryf deur Anton LaVey, en die enigste teks wat hedendaagse satanisme gekodifiseer het, sê dat geen satanis ’n dier of kind mag doodmaak nie,” lui die verklaring.
Volgens hulle is daar geen kultusse in satanisme nie en om aan ’n kultus te behoort is nie satanies nie.
“As sataniste glo ons ook nie in die bestaan van bose geeste of ‘die duiwel’ nie. Dikwels is ‘die duiwel’ in hierdie aansprake ’n verwysing na die Christelike duiwel wat sataniste glo nie bestaan nie.”
Volgens die Sataniese Kerk is daar ook geen sataniese godsdiensdag, Hoogdag of viering wat op 2 Februarie plaasvind nie. Die enigste betekenisvolle dag in satanisme is volgens hulle jou eie verjaarsdag.
“Enigiemand wat beweer dat hulle die okkulte en satanisme beoefen en daarom ’n mens of dier moet doodmaak, beoefen beslis nie die okkulte en satanisme nie. Om die okkulte en satanisme te beoefen is om jouself as mens op ’n gesonde manier te genees en te verryk sodat jy die meeste van jou lewe hier op aarde kan maak.
“Die inligting wat Daniel Smit na vore gebring het oor sy betrokkenheid by die okkulte, kultusse en satanisme, soos Santie Human beweer, strook nie met satanisme en die okkulte nie.”
Volgens die Sataniese Kerk is elkeen verantwoordelik vir hul eie dade en moet onder die gevolge daarvan ly. Die Suid-Afrikaanse Sataniese Kerk sê hulle hoop dat geregtigheid seëvier en dat die moordenaar met die volle gesag van die wet gestraf sal word.
Die verklaring eindig met die woorde: “Hail Satan.”