"Saterdagpappas" is tog beter as geen pappas nie

  • 0

Soms kry ek die voorreg om op harde regopstoele om ’n lendelam tafel tee te drink met ’n aantal vroue uit die omliggende buurt.

Dit is ’n sogenaamde bruin buurt, dig bewoon vanaf ’n diep kom met ’n steil helling waarteen fietse gestoot moet word en motors van allerlei aard brullend die hoogte moet uitry. Mense met inkopiesakke loop beurend op die sypaadjies die hoogte uit.

Van die armstes in ons dorp woon hier. Ook wel van die mees gesiene mense in ons dorp, Stellenbosch: professore, sakelui, kunstenaars.

Herinnering loop nog sterk aan ’n tyd toe ’n ouer generasie, van wie baie nou al dood is, deur apartheidswetgewing vanuit die middedorp hierheen moes trek. Kinders vertel hoe hul ouers met ou vragmotors volgelaai met meubels en kombuisgerei van “regte” huise hier na klein baksteenhuisies moes trek.

Oorbevolking het toegeneem en daarmee saam die sosiale euwels van werkloosheid, dwelmmisbruik en ’n uiters aktiewe kultuur van georganiseerde misdaad.

Die skole is oorvol. Die huisvesting is beroerd ontoereikend. Sommige strate word beset deur kinders wat nie skool toe gaan nie, net in die strate speel.

Opvallend is die groot aantal houthutte wat dig teen geboude huise staangemaak is. Die buurt noem die hutte “hokke”. Dis waar plek gemaak word vir familie of vriende wat nie huisvesting het nie.

Jare lank het ek die opwinding meegedeel van teaterwerk in hierdie gebied. ’n Vlaming, dr Benoni Dehaeck, het na die plaaslike universiteit gekom as dosent in drama. Gou het hy gesien dat drama-opvoeding in die “bruin” gebied nie net groot uitkoms sou bied nie, maar ook beslis talent sou oplewer. So het die gevierde “Breugel” ontstaan. Die regte spelling van die kompleks is nooit uitgeklaar nie, maar inderdaad het Dok, soos hy genoem is, ’n twee dekades van uitstekende teater met ewe uitstekende talent hier laat bloei.

Tyd, koste en geskille het met die afsterwe van Dok ook die teateromgewing laat sterf.

Wat gebly het, was mense soos onder meer hierdie ouerige dames om hierdie tafel. Hulle kan nie bekostig om eers aan iets so luuks soos teater te dink nie. Hulle is in ’n byna onoorwinlike stryd vasgevang: hulle moet kinders sonder vaders grootmaak. Baie van daardie kinders is nie hul eie kinders of kleinkinders nie.

Een dame – noem haar maar ouma Lenna – het sewe kinders in haar huis en in twee “hokke” op haar erf. Die oudste kind is dertien. Sy verwys na hom as haar “slim klong wat nog vir advokaat gaan leer”.

Om die tafel spog die vroue graag oor die oulike kinders, en ewe hartseer vertel hulle ook van die siek en verstandelik vertraagde kinders na wie sommige vroue omsien. Kosvoorsiening is problematies. Brood is dikwels al kos wat hulle het.

Ons almal om die tafel weet dat die grootste probleem nie soseer die armoede is nie, maar die vaderloosheid.

Ek vertel, onnodig, hoe daar jare gelede ’n liedjie was wat knaend gesing was: “O mein Papa, war eine schöne Mann”. Mens kon gek raak van die herhaling van dié stroopsoete liedjie, vertel ek.    

Ouma Lenna wil hoor hoe die liedjie klink. Ek probeer die eerste frase en die vroue skud soos hulle lag. Een stel voor ons sing ’n liedjie: “O, my afwesige pappa.”

In 2017 het die Instituut vir Rasseverhoudinge bevind dat 18 miljoen kinders uit ’n bevolking van 57 miljoen in Suid-Afrika nie teenwoordige vaders het nie.

Dit word as een van die dwingendste maatskaplike probleme beskou: mans wat geen verantwoordelikheid vir die kinders wat hulle verwek, neem nie.

Dit word dikwels aan werkloosheid, dwelmmisbruik, onvolwassenheid toegeskryf.

Jong moeders wat nie kan werk of selfs terug skool toe kan gaan nie, kan wel aansoek doen om staatstoelae. Baie van hierdie moeders het self alkoholmisbruikprobleme of agterlike intelligensie. Haglike toestande, ook onvolwassenheid, maak dat toevlug na grootmoeders geneem word of selfs na ander ouer vroue. Ouma Lenna het net een eie kleinkind onder die kroos wat sy versorg.

In die afgelope twee maande is twee gevalle in die breër omgewing aangemeld waar babatjies in afvoerpype gegooi is. ’n Maatskaplike werkster van die Kaapse Vlakte – ’n uitgestrekte klomp nedersettings – het vertel dat daar in 2018 dertig pasgebore babas in die veld gevind is, van wie twaalf nog gelewe het.

Kindermoord, veral in die Kaapse woongebiede, skok met reëlmaat. Sommige moordenaars wat wel aangekeer is, getuig van werkloosheid en ook dwelmmisbruik.

Die vroue om hierdie tafel waar ek as ’n geskokte en moedelose gas sit, wil planne maak om ’n plek te kry waar voorskoolse kinders basiese onderrig kan kry. Die plaaslike kleuterskole is oorvol; nie almal kan bekostig om kinders in ander inrigtings te kry nie.

Is hier iemand om die tafel, vra iemand, wat ’n groot genoeg “jaart” ( ’n tuin of agterplaas) het om sowat 20 kindertjies te leer speletjies speel, sing en dans?

Niemand het nie.

As daar tog net pappas was om rolmodelle vir veral die seuns te wees, is die versugting, totdat antie Evalien haar elmboë op die tafel sit, vingers bymekaar bring en van een vrou na die ander kyk.

Nou kom, sê sy, kom ons kry vir die kinders pappas. Die vroue lag, maar antie Evalien hou vol. Ons kry pappas wat Saterdae na kerkgronde of skoolgronde sal kom om vir die oggend vir ons kinders “pappa” te speel.

Evalien weet hoe om te oortuig. Toe ons mekaar groet, was die planne klaar om die plaaslike predikante, skoolhoofde en selfs die polisiemanne te gaan vra of hulle nie “Saterdagpappas” wil word nie.

Ek hou my hart vas. Maar hierdie vroue is gebore planmakers. Hoe anders sal hulle so baie kindertjies kan versorg?

Saterdagpappas is tog baie beter as geen pappas nie.    

  • Intussen het ek verneem dat sommige buurtskole spesiale Saterdagoggend-sportbyeenkomste hou waar veral vaderlose kinders met ’n “vaderlike” persoon te doene kry.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top