SAUK was ’n nes van teistering en magsug

  • 0

Werknemers van die SAUK is deur magsbehepde base geterroriseer en die openbare uitsaaier is lamgelê deur werknemers se vrees, frustrasie, pyn en hulpeloosheid. Dit is enkele van die bevindings wat Maandag bekendgemaak is in die ondersoek na bewerings van redaksionele inmenging by die SAUK. Dit volg nadat die SAUK in Mei 2018 ’n kommissie aangestel het om verskeie bewerings van politieke en redaksionele inmenging in sy nuuskantore te ondersoek. 

Drie van die SABC8 – Thandeka Gqubule, Foeta Krige en wyle Suna Venter – tydens een van verskeie betogings ter ondersteuning van mediavryheid. (Foto: verskaf)

Daar kon geen bewyse gevind word van ’n direkte lyn tussen die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis, en die besluite van die SAUK se nuuskantoor nie, maar die gees van die ANC het blykbaar soos ’n wolk oor die nuuskantoor gehang.

Daar het, na bewering, ongekende magsmisbruik by die SAUK plaasgevind.

Die kommissie van ondersoek na redaksionele inmenging by die SAUK het bevind dat redaksionele personeel opdragte ontvang het van ANC-leiers, veral die voormalige Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, en voormalige raadslede soos Ellen Tshabalala.

Joe Thloloe, uitvoerende direkteur van die persraad en voorsitter van die kommissie, sê hoewel daar geen bewyse van ’n regstreekse lyn tussen die SAUK en die ANC is nie, kan hy nie die moontlikheid uitsluit nie.

Die diktatoriale bestuurstyl van die voormalige SABC-baas Hlaudi Motsoeneng word ook in die verslag oopgevlek. Thloloe sê Motsoeneng het opdrag gegee dat die SAUK se menslike hulpbronne sekere mense afdank, bevorder of aanstel. Hy het aanbeveel dat ’n oudit van die aanstelling en bevordering van senior bestuurslede by die openbare uitsaaier gedoen word.

Die bevindings in die verslag bevestig die ervarings van joernaliste soos die SABC8 wat in 2016 afgedank is omdat hulle beswaar gemaak het teen die magsmisbruik en redaksionele inmenging in die SAUK se nuuskantoor.

In ’n onderhoud wat later die week op LitNet verskyn, vertel die veteraanjoernalis Foeta Krige hoe vrees en agterdog genormaliseer is en die grense van oordeel, etiek en integriteit laat vervaag het. Selfbehoud en oorlewing in moeilike ekonomiese- en bedryfstoestande het volgens Krige gelei tot oorversigtigheid en oordeelsfoute.

“Vir baie mense binne die SAUK was die Hlaudi-era ’n eerste en die besluit om openlik weerstand te bied, ondenkbaar of moeilik.”

Volgens Krige het die SABC8-saga en die ongekende ondersteuning van die plaaslike en internasionale media, die publiek, die opposisiepartye, die burgerlike samelewing en regslui bewys dat daar niks is om voor bang te wees nie.

Dit, gekoppel met die feit dat die nuwe nuusbaas en uitvoerende beamptes nou duidelik mediavryheid ondersteun en beskerm, behoort dit volgens Krige vir enigeen makliker te maak om etiese joernalistiek te bedryf.

Die SAUK is ongelukkig soos ’n staatsdiensdepartement bedryf, het Krige aan LitNet gesê. “Die afgelope tien jaar is dit vir werkskepping gebruik en nou is die werksmag hopeloos te groot, die base en die ondersteuningspersoneel te veel en die produk verwaarloos.”

Hy sê as SAUK wil oorleef, moet daar ontslae geraak word van oortollige en dooie hout. “Die rol, funksie en noodsaak van ’n openbare uitsaaier moet herdefinieer word en daar moet grootskaalse herstrukturering plaasvind om aan te pas by die nuwe media-omgewing. Die mense wat daar werk, sal of moet deel word van die proses en saam leer en verander, of hulle sal saam ondergaan. Daar gaan nie plek wees vir passasiers nie.”

Die volledige onderhoud met Krige verskyn later die week op LitNet.

In die verslag wat Maandag bekendgemaak is, sê Thloloe die kommissie het bevind dat die SAUK gely het onder ’n gekonkel van mag om personeel te terroriseer. Die ondersoek het bevind die SAUK is vermink deur pyn, woede en angs. Die openbare uitsaaier is ook, na bewering, gekenmerk deur frustrasie, kommer en apatie, asook afsydigheid en hulpeloosheid.

Die kommissie se volledige verslag kan hier gelees word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top