Seks, kuns en die waarheid

  • 0

Twee weke gelede het Catherine Deneuve en 99 ander Franse vroue 'n manifes in die koerant Le Monde onderteken wat baie vroue – en mans – wêreldwyd ontstig het omdat dit mans se “vryheid om vroue lastig te val” verdedig. Ná 'n week van stilte in die oog van 'n internasionale mediastorm het Deneuve 'n gedeeltelike verskoning aangebied aan al die slagoffers van seksuele aanvalle wat geskok kon gewees het deur die woordkeuse van die manifes – maar steeds dele daarvan verdedig.

Aangesien ek self ook my daaglikse brood verdien in wat seker as Die Kunste beskryf kan word, voel ek net so sterk soos die beroemde Franse aktrise oor minstens één deel van daardie manifes. Dis die stukkie waarin die vrees uitgespreek word dat daar 'n verwarring kan ontstaan tussen kunstenaars se persoonlike lewe en hulle werk – wat tot belaglike uiterstes van sensuur kan lei en ons kulturele lewe oneindig sal verarm. En hoewel my broodjie baie meer beskeie as Catherine Deneuve s'n is – kom ons sê maar 'n Afrikaanse braaibroodjie eerder as 'n gesofistikeerde Franse croissant – raak ek net so benoud soos sy oor die toenemende geur van puritanisme in die kunswêreld. Onverdraagsame en dikwels onkundige mense wat daarop aandring dat Balthus se skilderye uit museums verwyder moet word omdat hy moontlik pedofiliese neigings getoon het. Of dat Roman Polanski se rolprente geboikot word omdat hy 'n halwe eeu gelede skuldig was aan 'n seksuele misdaad. Of dat Woody Allen, wat nog nooit skuldig bevind is nie, maar al jare deur 'n enkele persoon beskuldig word, nou uit Hollywood gejaag word.

Natuurlik moet ek dadelik byvoeg dat enige moontlike slagoffer van seksuele wangedrag se woord nie langer betwyfel mag word nie. Té veel vroue in magtelose posisies moes té lank stilbly wanneer hulle deur mans in magsposisies geteister is. Maar nes daar 'n onbetwiste verskil is tussen 'n verkragter en 'n pateet wat sy geslagsdele teen vroue in die metro vryf, so is daar sekerlik ook 'n verskil tussen iemand soos Harvey Weinstein of Bill Cosby wat dekades lank honderde vroue geteister en verneder het, en iemand soos Woody Allen of Roman Polanksi wat 'n enkele keer beskuldig is. Daar is tog 'n verskil tussen 'n gewoontemisdadiger en 'n eenmalige oortreder?  

Maar of die sondaar nou Harvey Weinstein of Woody Allen genoem word, dit klink ewe ondeurdag om nou skielik al hulle werk tot dusver te boikot of te verbied. As ons elke rolprent moes verbied waarin enige van die betrokkenes – vervaardiger, regisseur, akteur of selfs klankman  – van seksuele wangedrag beskuldig word, dan sou ons 'n groot deel van die geskiedenis van Hollywood uitwis.

Dieselfde kan van die res van die kunswêreld gesê word. Die beste kunstenaars was nog nooit, en is helaas steeds nie, die mees morele mense nie. Caravaggio was 'n straatbakleier, 'n tronkvoël en 'n moordenaar. Dit maak nie die kleure van sy skilderye minder verruklik nie. Die Franse skrywer Celine was giftig antisemities, om maar één van sy sondes te noem, en tog is Voyage to the end of the night 'n literêre meesterstuk.

Kunstenaars is juis nie “ordentlike” mense wat altyd doen wat die samelewing van hulle verwag nie. Soos Catherine Deneuve baie goed weet. Sy het die “ordentlike” samelewing keer op keer geskok in rolprente soos Bunuel se Belle de Jour, waarin sy 'n bourgeois vrou vertolk wat haar geheime fantasieë as deeltydse prostituut uitleef.

Ons het almal demone om teen te baklei, vuil wasgoed om weg te steek, nare neigings in onsself wat ons graag in die donker sou wou hou. Die verskil tussen kunstenaars en die res van die mensdom is dat skilders, skrywers en musikante dikwels hulle eie donkertes gebruik om kuns te skep – en as die res van die mensdom dan hulle eie onderdrukte drange in die kunswerke herken, skrik hulle só groot dat hulle dadelik uitroep: Kom ons verbied dit! Kom ons haal dit van die mure af! Kom ons jaag hulle uit Hollywood!

Ek stem heelhartig saam met Catherine Deneuve dat blindelingse sensuur nie die oplossing is vir alles wat verkeerd is in die magsverhouding tussen mans en vroue nie. As skrywer glo ek in elk geval dat sensuur nóóit die antwoord is nie – wat die vraag ook al is. Ons kan nie die verlede verander nie, en die verlede van die kunswêreld is so vervuil van seksisme soos die res van die wêreld.

En tog ondersteun ek 'n beweging soos #MeToo of Hollywood se Time's Up-veldtog of die massiewe vroue-optogte die afgelope naweek oral in die VSA, want dit maak dit vir miljoene vroue moontlik om te begin droom dat ons ten minste die toekoms kan verander. Indien dit te laat is vir baie van ons om hierby te baat, sal dit hopelik die volgende geslag kan help. Ons dogters en kleindogters vir wie Oprah Winfrey by die onlangse Golden Globe-toekennings daardie lank verwagte “new dawn” belowe het. 

Ek voeg graag my stem by enige pleidooi téén sensuur. 'n Deel van die roeping van kunstenaars was nog altyd om ordentlikheid te ontstig. Ek hoop dit sal altyd so bly, anders sal daar nie meer kuns wees nie, net gawe werkies waaroor almal kan saamstem.

Maar ek hoop óók dat enige toekomstige ontstigting in 'n meer regverdige wêreld vir vroue sal gebeur. Dis ingewikkeld, ja. Seks is ingewikkeld, geslag is ingewikkeld, kuns is ingewikkeld, die waarheid is altyd ingewikkel. Maar soos Nietzsche gesê het, ons het kuns nodig sodat ons nie doodgaan van die waarheid nie. 

Buro: NM
  • 0
Top