In ’n seldsame gebaar van solidariteit in die Suid-Afrikaanse politiek het opposisiepartye met uiteenlopende beginsels en oortuigings kragte saamgesnoer om antwoorde uit president Cyril Ramaphosa te kry oor die beweerde gebeure op sy wildplaas.
Sewe van die land se politieke partye aan teenoorgestelde pole van die Suid-Afrikaanse politiek eis antwoorde van die President oor die diefstal van miljoene rand op sy plaas.
Die partye het Woensdag in ’n gesamentlike verklaring gesê hulle is eenparig in hulle eis dat Ramaphosa aanspreeklik gehou word vir enige moontlike oortreding van wette ten opsigte van wat by Phala Phala gebeur het en hom kan impliseer.
Die sewe opposisiepartye wat die verklaring onderteken het, is die Demokratiese Alliansie (DA), Economic Freedom Fighters (EFF), Inkatha Vryheidsparty (IVP), National Freedom Party (NFP), African Transformation Movement (ATM), United Democratic Movement (UDM) en African Christian Democratic Party (ACDP).
Al hierdie partye word in die parlement se Nasionale Vergadering verteenwoordig.
Volgens hulle gesamentlik verklaring is daar tydens ’n vergadering wat in Johannesburg gehou is, besluit om hulle kragte te konsolideer in hulle poging om antwoorde uit die President te kry oor wat op sy wildplaas gebeur het
“Die primêre agenda en fokus van die vergadering was om opposisiepartye se vasberadenheid en toewyding te konsolideer en te versterk om die regering en president Cyril Ramaphosa aanspreeklik te hou; veral in die lig van die ernstige aantygings wat hy in die gesig staar oor Phala Phala en die skending van die Suid-Afrikaanse Grondwet,” lui die sewe partye se verklaring.
Hulle sê hulle is eenparig dat die President as ’n saak van dringendheid aanspreeklik gehou moet word en geen vertragings, afleidings en uitstel moet toegelaat word nie.
Al die opposisiepartye het bedenkinge en ontevredenheid uitgespreek oor die wyse waarop die speaker van die Nasionale Vergadering tot dusver die eise van politieke partye hanteer het om die President aanspreeklik te hou.
Hulle stem ook saam dat die geheimhouding van sy antwoorde aan die Openbare Beskermer oor die Phala Phala-aangeleentheid onaanvaarbaar is en uitgedaag moet word.
Die partye sê in ’n poging om die land se grondwetlike demokrasie te beskerm, is daar op verskeie beginsels ooreengekom.
Hulle eerste eis is dat die parlement hom aanspreeklik moet hou vir die moontlike oortreding van wette met betrekking tot wat na bewering by Phala Phala gebeur het en hom mag impliseer.
Die opposisiepartye sê hulle sal breër konsultasies met burgerlikesamelewingsorganisasies, niewinsgewende organisasies, vakbonde en godsdiensliggame inisieer en daaraan deelneem om ’n gemeenskaplike benadering en reaksie te konsolideer.
Hulle eis verder dat die Openbare Beskermer as ’n saak van dringendheid, en soos deur die wet vereis word, die verslag oor die Phala Phala-ondersoeke bekend moet maak.
’n Opvolgvergadering gaan deur die opposisiepartye met die speaker van die Nasionale Vergadering aangevra word om alle aanspreeklikheidskwessies te bespreek, insluitend die gebruik van ’n geheime stemming vir mosies van wantroue.
“Opposisiepartye sal ons kollektiewe en individuele hofaksies teen die speaker van die Nasionale Vergadering en alle ander instellings wat poog om die parlement se grondwetlike verpligtinge om die uitvoerende bestuur en parlement aanspreeklik te hou, te onderdruk, verskerp,” lui hulle verklaring.
Hulle eis dat die parlement fisies byeengeroep moet word om alle parlementêre kwessies en sy agenda te hanteer.
Die opposisiepartye sê hulle sal volgende Woensdag, 10 Augustus, ’n opvolgvergadering hou om ’n gemeenskaplike benadering oor die instelling van ’n artikel 89-komitee, parlementêre ad hoc-komitees en ’n benadering tot ’n mosie van wantroue in die President te finaliseer.
Die DA-leier Johan Steenhuisen sê in ’n afsonderlike verklaring dit is onverklaarbaar en onaanvaarbaar, in ’n moderne, oop demokrasie, dat die President se finansiële sake en sakebelange ’n geheim bly vir die publiek en die media.
DA Leader @jsteenhuisen visited the Union Buildings, to view President Ramaphosa’s declaration of interests as head of the executive.
It is unacceptable that the president’s financial affairs and business interests remain a secret from the public.https://t.co/p865tRhDzr
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 4, 2022
Steenhuisen sê die jongste skandaal rondom die beweerde diefstal en toesmeer van ’n groot bedrag oënskynlik onverklaarde buitelandse valuta van die President se plaas het ’n nuwe kollig op hierdie kwessie laat skyn, maar dit is geensins die eerste of enigste sodanige voorval nie.
Hy en die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, het Donderdag (4 Augustus) die Uniegebou besoek in ’n poging om meer inligting te probeer bekom oor die Phala Phala-onthullings. Hy sê al is hulle toegelaat om die President se verklaring te sien, bly dit in geheimhouding gehul sonder dat media toegelaat word, en daar lê die probleem.