Ses van wêreld se gevaarlikste stede is in Suid-Afrika

  • 0

Suid-Afrika het al weer die bedenklike voorreg om met van die wêreld se gevaarlikste stede te spog.

Volgens ’n misdaadindeks van stede in 2021 wat deur die statistiekwebtuiste Numbeo.com gedoen is, val ses van Suid-Afrika se stede vanjaar onder die top 20 gevaarlikste stede in die wêreld.

[LUISTERAARSVRAAG, 8 FEBRUARIE]: Volgens 'n Misdaad-indeks van Stede in 2021 wat deur die statistieke-webtuiste,...

Posted by Monitor en Spektrum op RSG on Sunday, February 7, 2021

 

Pretoria word beskou as die gevaarlikste stad in die land. Dit beklee die derde plek van die top 20 gevaarlike stede in die wêreld. Volgens die indeks is Durban vierde, Johannesburg vyfde, Pietermaritzburg in die sewende plek, Port Elizabeth nommer 14 en Kaapstad nommer 19.

Numbeo, wat dié opname doen oor lewenskwaliteit, hoe duur dit is om stede te woon, misdaadindekse en eiendomskoste regoor die wêreld, sê die opname oor misdaad in stede vir 2021 was ’n persepsie-indeks wat gebaseer was op respondente se gevoelens oor misdaad eerder as op misdaadstatistiek.

Die stad wat die eerste plek op die lys beklee as die gevaarlikste stad ter wêreld, is Caracas in Venezuela, gevolg deur Port Moresby in Nieu-Guinee.

Ander stede wat oor die algemeen as gevaarlike stede beskou word, soos Damaskus in Sirië, is volgens die indeks nommer 31; Bagdad in Irak beklee die 55ste plek, en Bogotá in Colombia is nommer 58.

Aan die ander kant van die skaal is Abu Dhabi aangewys as die veiligste stad ter wêreld, terwyl Dubai en Sjarja, wat ook albei in die Verenigde Arabiese Emirate is, onder die top tien veiligste stede saam met stede soos Doha in Katar, Genève in Switserland, Taipei in Taiwan en Quebec-stad in Kanada.

Suid-Afrikaners was nie verbaas oor die jongste statistiek nie. RSG se aktualiteitsprogram Monitor wou Dinsdagoggend by hulle luisteraars weet wat hulle daarvan dink en hoe hulle hulself beveilig.

Een van die luisteraars, Gerhard Ras, het op Monitor en Spektrum se Facebookblad gesê die plasing van ses van Suid-Afrika stede onder die top 20 mees misdadige stede in die wêreld is ’n pluimpie vir die misdadige Suid-Afrikaanse regering.

“Die misdadige voorbeeld wat hulle aan die wêreld voorhou, geniet uiteindelik wêrelderkenning. As dit nie so ironies was nie, kon hulle dit selfs gevier het.”

Volgens Ras lê die probleem ongetwyfeld by die justisiestelsel (SAPD, DKD, NVG, Justisie) wat deur korrupsie infiltreer is met die gevolg dat wetstoepassing en misdaadbestraffing uiters gebrekkig is. Hy meen solank die diep verdeeldheid in die ANC voortduur, sal die gesaghebbende suiwering van die justisiestelsel van korrupsie in gebreke bly en misdaad sal eskaleer.

Volgens Numbeo was die vrae wat aan die respondente gestel is, soortgelyk aan dié in wetenskaplike en regeringsopnames in die wêreld en verteenwoordig dit ’n blik op die huidige persepsies in die onderskeie stede op ’n spesifieke tyd.

Om die jongste indeks te bepaal is daar gebruik gemaak van die voorafgaande 36 maande se data. Slegs stede waarvoor daar genoeg statistiek beskikbaar is, word in ag geneem; hulle misdaadindeks is een van die belangrike aanwysers om te bepaal hoe gevaarlik ’n stad is.

Die navorsers beskou misdaadvlakke laer as 20 as baie laag; misdaadvlakke tussen 20 en 40 as laag; tussen 40 en 60 as gemiddeld; tussen 60 en 80 as hoog; en hoër as 80 as baie hoog.

Volgens die jongste indeks was Pretoria se misdaadindeks 81,4, Durban s’n 80,84, Johannesburg s’n 80,65, Pietermaritzburg s’n 79,73, Port Elizabeth s’n 75,92 en Kaapstad s’n 73,78.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top