Shell groet Nederland, en nuwe hoop met entstowwe

  • 0
Oliereus vertrek uit Nederland

Royal Dutch Shell het Maandag aangekondig dat hy besluit het om sy hoofkantoor in Den Haag prys te gee en volledig na Londen gaan verhuis. Die demissionêre minister van ekonomiese sake, Stef Blok, het sy skok uitgespreek ná die aankondiging en sê hy was “onaangenaam verras”. Tog is die aankondiging nie heeltemal ’n verrassing nie. Die NOS berig beleggers kla al jare lank oor die verskillende aandele in Shell: aandele A vir die Amsterdamse AEX en aandele B vir die Londense FTSE-indeks. En die grootste struikelblok? In Nederland betaal ’n mens dividendbelasting, maar nie in die Verenigde Koninkryk nie. Shell sê in ’n verklaring die oogmerk is om die maatskappy se aandelestruktuur te vereenvoudig. Volgens die maatskappy sal die vereenvoudiging die transformasie in die energiesektor versnel.

Dit is nie die eerste keer dat dividendbelasting onder die loep kom nie. Shell het reeds in 2005 hieroor gekla en toe verneem dat dit afgeskaf sou word, maar dit het nooit gebeur nie.

Nie die enigste wat vertrek weens dividendbelasting nie

Shell se aankondiging volg byna ’n jaar nadat nóg ’n groot voormalige Nederlands-Britse bedryf ook die polders vir Big Ben verruil het. Unilever het reeds in 2018, voor Brexit, besluit om eerder net een kantoor te hê. Aanvanklik is wel op Rotterdam besluit, maar na verset deur “invloedrijke aandeelhouders” is tog besluit om eerder na Londen te gaan, berig die NOS. Ook hier was die nie-afskaffing van dividendbelasting in Nederland een van die faktore wat tot dié besluit aanleiding gegee het.

Milieudefensie

Die NOS berig dat Shell se vertrek geen uitwerking sal hê op die hofuitspraak in Mei ingevolge waarvan Shell gedwing word om sy fossielbrandstofvrystelling daadwerklik in te kort nie. Shell se appèl teen die uitspraak sal steeds in Nederland aangehoor word.

Moontlike boete

Die party GroenLinks het al eerder voorgestel dat maatskappye wat Nederland verlaat, ’n vertrekboete moet betaal. Die finale stemming oor die onttrekking uit Nederland sal op 10 Desember plaasvind. Hoewel Shell ’n belangrike rolspeler in die Nederlandse ekonomie is, word daar nie verwag dat die vertrek tot noemenswaardige afleggings sal lei nie.

Intussen het die Nederlandse kabinet te kenne gegee dat hy weer na die afskaffing van dividendbelasting gaan kyk.

Strenger beperkings in Nederland

Demissionêre minister-president Mark Rutte het Vrydagaand strenger maatreëls aangekondig om die ongekende styging in COVID-19-infeksies die hoof te bied. Dinsdag is meer as 20 000 nuwe besmettings aangeteken – dit is 80% meer as ’n week gelede. Altesaam 2 071 mense word tans in hospitale vir COVID-19 behandel. Die meeste positiewe gevalle is onder kinders van tussen 10 en 14 jaar wat nog nie ingeënt is nie.

Volgens die maatreëls wat Rutte Vrydag aangekondig het, moet Nederlanders voortaan weer by die anderhalwe meter-afstand van mekaar hou waar die koronatoegangsbewys nie gebruik word nie. Op plekke waar die toegangsbewys gebruik word, moet mense op ’n bepaalde plek sit – byvoorbeeld by tafels in restaurante of op stoele tydens ’n konsert.

Nienoodsaaklike winkels moet hul deure om 18:00 sluit en restaurante en supermarkte om 20:00. Byeenkomste soos Kersmarkte moet ook om 18:00 sluit. Teaters en bioskope mag gewone tye oop bly. Sportwedstryde en -oefensessies mag voortgaan, maar sonder toeskouers. By skole en universiteite mag voortaan slegs 75% van studente en leerders aanwesig wees. Daar word verwag dat die kabinet oor ’n paar weke ’n aankondiging sal maak oor die invoer van ’n 2-G-beleid. Dit behels dat slegs mense wat ingeënt is of COVID-19 gehad het, by openbare plekke toegelaat word en nie meer net mense wat negatief getoets het nie. Die maatreël is al in buurlande soos Duitsland ingevoer, maar daar bestaan nog heelwat teenkanting onder opposisiepartye en selfs binne die koalisie oor die invoer van dié beleid.

Verpligte inenting vir verpleegpersoneel in België

Die federale regering in België het intussen verpligte inenting van verpleegpersoneel goedgekeur, berig VRTNWS. Vanaf 1 April volgende jaar kan werknemers in hospitale of versorgingstehuise wat hulle nie wil laat inent nie, ontslaan word. Verreweg die meeste verpleegpersoneel is wel al ingeënt. “We zijn die heel dankbaar daarvoor, maar het kan niet zo zijn dat er nog een kleine minderheid is die zich niet gevaccineerd heeft,” sê die Belgiese minister van volksgesondheid, Frank Vandenbroucke, in ’n onderhoud met VRTNWS. Hospitale het die Minister al vantevore gevra om dié maatreël in te stel, maar vakbonde het vasgeskop. Die Belgiese regering het intussen ook besluit dat mense voortaan by die huis moet werk en beslis nie meer as een dag per week op kantoor nie.

Nóg ’n entstof teen die Delta-variant

Die Katolieke Universiteit Leuven het pas ’n COVID-19-entstof bekendgestel wat ook die hoogs aansteeklike Delta-variant heeltemal kan keer. Die viroloog Johan Neyts en sy span navorsers sê aan die begin het hulle soos ander navorsers ook na ’n entstof gesoek om die oorspronklike variant te bestry.

“Maar intussen zijn er allerlei varianten van het coronavirus beginnen te circuleren. De oervariant uit China is helemaal van onze planeet verdwenen. Op dit moment is de zeer besmettelijke deltavariant dominant,” sê Neyts. “Vandaar dat we begonnen te werken aan een vaccin versie 2.0. Dat moest effectief zijn tegen de alfa-, beta-, gamma- én deltavariant.”

Die eerste resultate blyk suksesvol te wees: “We hebben hamsters het coronavirus toegediend via de neus. Bij de dieren die niet gevaccineerd waren, vonden we nadien heel veel virus terug in de longen. Maar bij de gevaccineerde hamsters vonden we geen enkel virusdeeltje meer in de longen. Het maakte niet uit met welke variant de dieren geïnfecteerd waren. Ons kandidaat-vaccin werkt tegen de vier belangrijkste varianten,” verduidelik Neyts.

Kunshartinplanting – ’n eerste in Nederland

Dokters van die Mediese Hospitaal UMC Utrecht het vir die eerste keer in Nederland suksesvol ’n volledige kunshart ingeplant in ’n pasiënt wat aan ernstige hartversaking ly, berig die NOS. ’n Kardioloog verbonde aan die UMC Utrecht, Linda van Laake, sê: “In Nederland is een groot tekort aan donorharten. Dit kunsthart helpt niet alleen mensen die te lang moeten wachten op een donorhart, het heeft ook de potentie om mensen te helpen die de transplantatie van een normaal donorhart niet zouden overleven.” Die rede daarvoor is dat pasiënte wat ’n oorgeplante hart kry, vir die res van hul lewens immuunonderdrukkende medikasie moet gebruik om te keer dat hul liggaam hul nuwe hart verwerp. By kunsharte is dit nie ’n probleem nie. Die hartchirurg Faiz Ramjankhan sê die operasie het vier jaar se voorbereiding geverg. “Met ons team zijn we sinds 2017 bezig om de implantatie van een kunsthart mogelijk te maken in het kader van onderzoek. We zijn trots om als een van de eerste centra deel uit te mogen maken van de studie die deze nieuwe kunstharttechnologie onderzoekt,” sê Ramjankhan. Die navorsers wil nou ondersoek instel of die lewensduur van pasiënte met ’n kunshart verleng kan word. “Wij denken dat dit hart veel langer gebruikt kan worden. We willen dit verder onderzoeken en zijn nu bezig met het werven van fondsen voor dit onderzoek,” sê Van Laake.

Voëlgriep versprei verder

’n Hoenderplaas in Tzum in Friesland is die jongste om deur die huidige voëlgriepplaag in Nederland geteister te word. Die owerhede vermoed dat dit die ernstig besmetlike variant van die virus is. Om te keer dat die griep verder versprei, is sowat 122 500 vleiskuikens van kant gemaak. Daar word ook gekyk of besoekers aan die terrein nie die virus versprei het nie, berig die NOS. In ’n radius van 10 km vanaf die plaas mag geen voëls vervoer word nie. Sedert 26 Oktober moet alle kommersiële voëls in Nederland in hokke bly.

Kleuter glip weg uit crèche in Brussel

’n Vierjarige kleuter het Maandag uit ’n crèche in die Belgiese hoofstad Brussel ontsnap, ? [klink asof die kind daar gevange gehou is!]  berig VRTNWS. Die kind is wel na ’n soektog op ’n beduidende afstand van die crèche in goeie gesondheid gevind, meld die Brusselse polisie. Die crèche is naby die Clémenceau-moltreinstasie. Die kind is later op Fonsnylaan gevind van waar hy na die polisie geneem is en later met sy ouers herenig is. “Het kind stelde het goed, maar we gaan onderzoeken hoe dit is kunnen gebeuren,” sê die polisie.

Talle passasiers verpas vlugte weens protesoptrede

Lede van vier polisievakbonde in België het Dinsdag in die middestad van Brussel en by die lughawe in Zaventem betoog. Die toegangsroete na die lughawe is versper en by grenskontroles het hulle ’n sloerstaking gehou wat veroorsaak het dat sowat 200 passasiers hul vlugte verpas het. Teen halfelf Dinsdagoggend was sowat 30 vlugte met ’n uur en ’n half vertraag. Die lughawe het reisigers vroeër aangeraai om tot drie uur vroeër na die lughawe te kom. Sommige van die tonnels in en om die stad is ook versper, wat groot verkeersontwrigting veroorsaak het. Die polisievakbonde betoog al twee dae lank oor die dooie punt in die loononderhandelinge. Maandag is koning Albert, koningin Paola en ook prins Laurent by hul aankoms ter viering van Koningsdag uitgejou. Die vakbonde hoop dat ’n ooreenkoms binnekort bereik word.

Kroonprinses Amalia openhartig oor geestesgesondheid in boek

Ter herdenking van haar 18de verjaardag volgende maand het daar Dinsdag ’n boek oor prinses Amalia verskyn. In die boek vertel sy dat sy as jong meisie ’n kindersielkundige gespreek het en steeds haar geestesgesondheid met ’n kenner bespreek. “Ik vind het geen taboe. En geen probleem om dat in het openbaar te zeggen,” sê sy in die boek, wat deur Claudia de Breij geskryf is. “Soms wordt het me allemaal te veel, school, vrienden en dan praat ik met iemand. Als ik er behoefte aan heb, maak ik een afspraak. Even je hart luchten en dan ben ik weer voor een maand klaar.” Prinses Amalia sê geestesgesondheid is vir haar net so belangrik soos fisieke gesondheid. In die boek word ook geskryf dat die prinses dit as ’n besondere eer beskou dat sy eendag koningin sal word. Daar word ook vertel van familierusies en die hartseer van haar tante Inés en oom prins Friso se afsterwe. Amalia vertel ook van haar belangstelling in geskiedenis, ekonomie en regte, hoewel sy nog nie seker is wat sy eendag wil word nie. Sy is nog nie seker of sy soos haar voorgangers almal in Leiden gaan studeer nie. De Breij skryf ook oor Amalia se verborge talente – dat sy byvoorbeeld ’n behendige skemerkelkiemaker is en baie mooi kan sing.

  • 0
Top