Sidder die gerookte land

  • 0

Dit gaan “gerook” in die Suid-Afrikaanse presidentskantoor met betrekking tot verwikkelinge wat Cyril Ramaphosa en sy adjunk, Paul Mashatile, die nuus laat haal. “Dit gaan gerook” is ’n uitdrukking in Kaapse omgangstaal en beteken dat die skape deurmekaar gejaag word of dat ’n deurmekaarspul aan die gang is.

Maar asof dit nie erg genoeg is nie, verskyn ’n omstrede voormalige president, Jacob Zuma, nou boonop weer prominent op die nuustoneel – presies twee jaar nadat hy homself begin Julie 2021 aan die owerhede oorhandig het toe hy tronkstraf opgelê is vir die verontagsaming van ’n hofbevel.

Dié ongekende stap het saamgeval met grootskaalse oproer en plundery in sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, en ook in die land se ekonomiese hoofaar, Gauteng. Dit is veral winkelsentrums wat getref is, ’n geldelike knou van by die R50 miljard, en die lewensverlies het gou tot bo 350 gestyg.

’n Onafhanklike paneel onder leiding van die veiligheidskenner Sandy Africa het die geweld ná hul ondersoek toegeskryf aan hoofsaaklik drie faktore: swak staatsinstellings en hul onvermoë om maatreëls in werking te stel; oneffektiewe wetstoepassingsliggame; en die afwesigheid van ’n behoorlike oorsigrol op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak.

Ons sal terugkeer na die rede vir bogenoemde breedvoerige verwysing na die sogenaamde Zuma-onluste, maar eers die redes vir die jongste nuusdekking oor Zuma self, sy opvolger Ramaphosa en dié se adjunk, Mashatile, aan wie hy waarskynlik die leisels sal oorhandig.

Puntsgewys dan:

- In ’n rare interaksie met die media gedurende ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, bekla Ramaphosa verlede Sondag sy lot, naamlik dat sy presidentstermyn tot nou die een met die meeste uitdagings in die demokratiese era sou wees. Ramaphosa lys staatskaping en korrupsie, waardeur verskeie staatsinstellings en wetstoepassingsagentskappe op hul knieë gedwing is en disfunksioneel gelaat is, as van die vernaamste uitdagings. Ook die COVID 19-pandemie en die onluste van Julie 2021 was uniek, beklemtoon hy, in vergelyking met enige ander presidentstermyn sedert die beiëindiging van die ou bedeling.

Ramaphosa se klaaglied was in reaksie op vrae oor die (trae) vordering met wat hy as ’n nuwe daeraad belowe het toe hy die leisels in Februarie 2018 by Zuma oorgeneem het. Die vlam van verwagtinge het destyds hóóg gebrand vir behoorlike verandering in staatsbestuur, maar helaas wag die land nog op ’n aanduiding dat noemenswaardige vordering sedertdien gemaak is. Ramaphosa word dikwels (en met goeie rede) geloof vir die herstel wat by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens plaasgevind het nadat hy Edward Kieswetter as nuwe hoof aangestel het. Selfs al word hy bykomend erkenning gegee vir die leierskapverandering wat hy ook by die Nasionale Vervolgingsgesag teweeg gebring het, lyk dit toenemend asof Shamila Batohi nie die gewenste resultate lewer nie.

Ramaphosa het natuurlik ’n ander, meer persoonlike kopseer, te wete die geheimsinnige omstandighede van die diefstal van duisende dollar by sy Phala Phala-wildsplaas in Februarie 2020. Dit sou die opbrengs wees van ’n vreemde transaksie wat op Kersdag met ’n skatryk, Dubai-gebaseerde Soedannese sakeman aangegaan is. Pas het die waarnemende openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, in ’n verslag bevind dat Ramaphosa nie regstreekse vergoeding uit die transaksie verdien het nie; as dit die geval was, sou dit neerkom op ’n oortreding van die gedragskode vir die uitvoerende gesag, soos opposisiepartye in hul klagte aan die OB dit wou hê.

Maar ondersoeke na die Phala Phala-gebeure duur voort deur onder meer die Valke, Suid-Afrika se prioriteitsmisdade-ondersoekeenheid, oor die wyse waarop Ramaphosa se beskermingshoof, Wally Rhoode, die saak hanteer het nadat Ramaphosa hom daarvan verwittig het. Hieroor wys Gcaleka se verslag ’n beskuldigende vinger na – en eis optrede teen – Rhoode, wat uiteraard ook implikasies vir Ramaphosa kan inhou.

- Terselfdertyd het Ramaphosa dit nodig geag om die afgelope week te reageer op komplotbewerings deur sy adjunk en waarskynlike opvolger, Paul Mashatile, wat aangestel is nadat DD Mabuza in Maart vanjaar bedank het. Mashatile weet te vertel dat ondersteuners van Ramaphosa met ’n onderduimse veldtog doenig is om hom uit die Uniegebou verwyder te kry en hom sodoende, kan afgelei word, te verhoed om vir die land se belangrikste pos in aanmerking te kom wanneer Ramaphosa die tuig neerlê.

’n Kantaantekening: Mashatile se presidensiële ambisies hang grootliks daarvan af of die ANC ná die 2024-verkiesing die regerende party sal wees (en of hy in 2027 die partyleier sal word). Politieke waarnemers wil toenemend glo dat ’n koalisieregering ons voorland is – ’n opwindende vooruitsig vir sommige wat hoop dat huidige opposisiepartye aan die stuur van sake gestel moet word; ’n neerdrukkende een as die ANC en EFF in ’n koalisie saamspan.

Wat moontlik tot Mashatile se samesweringsteorie aanleiding kon gegee het, was die afgelope tyd se News24-onthullings dat hy ’n luukse lewenstyl sou lei, danksy sy (nou selfverklaarde) vriendskap en verbintenis met sakelui wat met staatskaping verbind word. Die jongste berigte hou verband met ’n byna R40 miljoen-huis wat sy skoonseun deur ’n lening van ’n Gautengse staatsorganisasie bekom het. Hierdie bewerings is die laaste ding waarop ’n onder-druk-Ramaphosa kon gehoop het, maar hy het dit gepas gevind om vir sy onderleier in die ANC in die bresse te tree. (Onthou, die party geniet altyd voorkeur.) Maar eerder as dat hy daarop aandring dat die bewerings oor Mashatile se voorkeur vir die “lus vir die oog” ondersoek word, ter wille van deursigtigheid, het hy sy adjunk gerus gestel dat geen komplot teen hom gesmee word nie.

- Indien dit daarop dui dat Ramaphosa en Mashatile die vredespyp gerook het, trek ’n onheilspellende rokie nou weer bó die groen heuwels waarmee die Nkandla-landgoed in KwaZulu-Natal omring word. Die man wat daar woon, het pas slegte nuus ontvang van ’n heuwel ver daarvandaan, waar die Konstitusionele Hof geleë is. Dié hof het bevind dat die Departement van Korrektiewe Dienste geen regsgronde het om ’n vroeëre hofuitspraak te betwis dat mediese parool in September 2021 ongeregverdig aan Zuma toegeken is nie. Die voormalige president is dus veronderstel om terug te keer tronk toe, maar hoe die saak nou deur die departement gehanteer gaan word, is vir seker nie voor die hand liggend nie.

Wat wel met ’n redelike mate van sekerheid gesê kan word, is dat dié uitspraak deur die Konsitusionele Hof ongetwyfeld die spoke van Julie 2021 se geweld, plundery en lewensverlies oproep. Selfs al het Ramaphosa die afgelope klompie dae weer rustiger begin slaap ná die gunstige OB-verslag oor Phala Phala, en dat dit sy adjunk was en nie hy nie wat in die kollig is oor ’n gekafoefel in luuksheid, sal sy slaap nou opnuut versteur word met die Konstitusionele Hof se bevel dat Zuma weer tronk toe gekarwei moet word.

Dit kan die terugkeer beteken van Msholozi se onheilspellende oorlogdans en strydlied (Umshini wami’) en sy gêgêgê-koggellaggie.

Sidder, gerookte land.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top