"Siek" Zuma speel kat-en-muis met hof

  • 0

Oudpresident Jacob Zuma se kat-en-muis-spelletje met die howe het Dinsdag voortgeduur toe hy nie by die hof opgedaag het waar hy tereg staan op verskeie ernstige aanklagte teen hom nie.

Jacob Zuma (Foto: Copyright World Economic Forum www.weforum.org / Eric Miller emiller@iafrica.com [CC BY-SA], via Wikimedia Commons)

Net soos vroeër vanjaar toe hy voor die Zondo-kommissie moes verskyn, het sy regsverteenwoordigers Dinsdag ’n geheime siekte as rede aangevoer waarom die oudstaatshoof nie sy “dag in die hof” kan kry soos wat hy reeds jare gelede wou gehad het nie.

Zuma staan saam met die Franse wapenvervaardiger Thales tereg op 18 aanklagte van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery.

Sy regsverteenwoordigers het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Maandag laat weet Zuma is siek en kan nie die hofverrigtinge bywoon nie.

Vroeër vanjaar het Zuma presies dieselfde verskoning gebruik toe hy vir ’n tweede keer voor regter Zondo moes verskyn om vrae te antwoord oor sy beweerde betrokkenheid by staatskaping. Daar is toe gesê sy mediese span sal die aard van sy siekte persoonlik aan regter Zondo verduidelik maar die aard daarvan is geheim.

Tydens Dinsdag se verhoor het Zuma se regverteenwoordiger mediese dokumente voorgelê om sy geheime siekte te staaf, maar die mediese brief was vaag en onvolledig en dit was nie eers duidelik of dit deur ’n mediese dokter onderteken is nie.

Regter Dhaya Pillay was glad nie beïndruk nie. Sy het gesê van die datums op die dokument is verander en daar is geen aanduiding op die dokument dat dit deur ’n mediese dokter onderteken is nie.

Een van Zuma se kenmerke is dat hy telkens tot op nommer 99 wag voordat hy die betrokke instansies inlig dat hy weens sy siekte nie die verrigtinge kan bywoon nie.

In die geval van die Zondo-kommissie het sy regspan eers die Maandagmiddag ongeveer 16:00 voor sy verskyning die volgende dag laat weet hy is siek en sal nie beskikbaar wees om te getuig nie. Die storie oor Zuma se siekte is toe reeds deur verskeie mense bevraagteken.

Beide die DA en die VF+ het aangedring op bewyse vir sy siekte en gesê hulle glo nie hy is regtig siek nie.

Regter Pillay het Dinsdag op versoek van die staat se regspan ’n lasbrief vir Zuma se inhegtenisname uitgereik omdat hy nie by die hof opgedaag het nie. Sy het gesê Zuma kan nie verwag die hof moet hom anders behandel as enigiemand anders nie. Daarom het sy geen ander keuse as om die lasbrief uit te reik nie.

Dit beteken egter nie dat Zuma binnekort in hegtenis geneem sal word nie. Die regter het die saak uitgestel tot 6 Mei en die lasbrief eers van krag word indien hy sy volgende hofdatum ook minag sonder om die nodige reëlings te tref. Ten minste tot dan is hy steeds veilig en kan hy na hartelus rondrits om waar ook al behandeling vir sy geheime sieke te kry.

Buro: MvH
  • 0
Top