Sitting pretty: ’n onderhoud met Christi van der Westhuizen

  • 0

Sitting pretty: White Afrikaans women in postapartheid South Africa
Christi van der Westhuizen

Uitgewer: UKZN Press
ISBN: 9781869143763

Skrywers oor hul nuwe boeke: Christi van der Westhuizen gesels met Naomi Meyer oor Christi se boek Sitting pretty.

Christi, baie geluk met Sitting pretty. Ek het ’n onlangse kykNET-gesprek tussen jou, Kabous Meiring en Deborah Steinmair hieroor gesien en wil afskop met: Waarom het jy hierdie boek geskryf? Vertel my hiervan, en vertel my asseblief ook van jou ouma.

My vorige boek, White power & the rise and fall of the National Party, het vraagstukke oor ras, klas, politiek en ekonomie op die makrovlak getakel. Met die skryf daarvan het nuwe vrae by my ontstaan oor die vorming van identiteit, oftewel subjektiwiteit. Hoekom heg ons onsself aan onderdrukkende sosiale kategorieë soos ras, klas, geslag en seksualiteit? Ek wou sin maak van die kwessie binne my eie konteks van apartheid en Afrikaner-nasionalisme. In my familie is ek grootgemaak deur sterk vroue wat in mindere of meerdere mate Afrikaner-nasionalisties was. My een ouma (gebore Viljoen en getroud met ’n Erasmus) was ’n veldkornet in die Ossewa-Brandwag. Daarteenoor het haar dogter – my ma – reeds in die ’70’s apartheid as stelsel al meer begin bevraagteken en dit uiteindelik teen die vroeë ’80’s verwerp as onmenslik. Dit is die nalatenskap waaruit ek kom, en dit is belangrik vir my om dit te verstaan. Hoeveel agentskap het hulle gehad en hoeveel het ek? Kan ons as mense ’n meer etiese wêreld skep, of is ons oorgelewer aan ons omstandighede?

In die Prontuit-gesprek het jy gesê dat jy as Afrikaner identifiseer. Wat beteken dit vir jou?

My identifisering as Afrikaner is ’n etiese besluit, en wel om twee redes. Die eerste is dat ek binne ’n Afrikaner-nasionalistiese konteks grootgemaak is, met al die gepaardgaande regverdigings van rasse-, geslags- en ander hiërargieë, en met die bevoordeling wat apartheid vir veral wit Afrikaanssprekende mense teweeggebring het. Deur steeds as Afrikaner te identifiseer, erken ek my verlede en die voordele wat ek daaruit getrek het. Dit maak dit vir my moontlik om nie net krities nie, maar ook selfreflektief met daardie geskiedenis en die voortslepende effekte daarvan om te gaan, ook vir my persoonlik. Die tweede rede is dat ek binne daardie konteks positiewe persoonlike belewenisse gehad het, en dat daar menslik-bevestigende waardes met my gedeel is wat, paradoksaal, uiteindelik ook my kritiese posisie moontlik gemaak het. Deur as Afrikaner te identifiseer, erken ek hierdie emosionele en intellektuele bande, asook die bron van my etiese ingesteldheid van ontleding en selfkritiek.

’n Woord wat oor en oor genoem word: “ordentlikheid”. The done thing. Om iets in stand te hou, nie die bootjie te skommel nie, of ongemak te veroorsaak nie. Praat ons van vroue wat by mans langs die vuur gaan staan in plaas van slaai maak in die kombuis? Of deurtrek dit die samelewing, is dit méér as dit? En tog: soms kan mens nie anders as om binne ’n stelsel te funksioneer nie – dis tog orals. As die land se geldeenheid die rand is, kan mens nie betaal met die eenheid van jou keuse nie. Help my asseblief om die term te verstaan.

In my studie het ek gevind dat sommige wit Afrikaanssprekende mense nie meer as “Afrikaners” identifiseer nie. Ek moes ’n ander begrip vind om die identiteit te beskryf. Ordentlikheid is daardie begrip, omdat dit die verskillende dimensies van die identiteit die beste vasvat. Dit spreek tot ’n aspirasie om ’n sekere respektabelheid te verwesenlik deur ’n spesifieke stel reëls oor ras, klas, geslag en seksualiteit na te volg. Om as ’n Afrikaanssprekende wit vrou “ordentlik” te wees, moet ’n mens jou na ’n spesifieke klasgegronde vorm van wit patriargale heteroseksualiteit skik. Jou gedrag word gepolisieer met idees oor beleefdheid en goeie maniere. As jy nie aan die vasgestelde norme voldoen nie, loop jy die risiko van stigmatisering, marginalisering en uitsluiting. Maar daar is ook ’n dissidente vorm van ordentlikheid onder wit Afrikaanssprekendes wat, met ’n etiese oogmerk, ras- en geslagshiërargieë verwerp en aktief daarteen werk, soos in my boek beskryf. ’n Mens kan sê dat die verdeling van Afrikaanssprekendes in twee groepe op grond van ras in die 20ste eeu ’n grootskaalse en eerste proses van stigmatisering, marginalisering en uitsluiting was. Dit het gedemonstreer dat om ordentlik te wees, jy wit moet wees. Bruin Afrikaanssprekendes het ordentlikheid uiteraard anders gedefinieer, soos deur die antropoloog Elaine Salo beskryf.

Stadige geweld is iets anders waaraan ek gedink het terwyl ek na julle geluister het – dis nie alles oor vroue wat gemolesteer word of oor seksuele of verbale teistering nie, is dit? Die vrou wat as objek beskou word: is dit ook waaroor jou navorsing handel? Brei asseblief hierop uit.

Die skep van hiërargieë geskied dikwels deur stadige geweld. Die prosesse van rassifisering, seksualisering en om iemand in ’n sekere vorm van geslag vas te messel, is gewelddadig, en nie net op maniere wat ooglopend is nie. En in hierdie prosesse word vroue as objekte behandel. Maar in die era van neoliberale “goewermentaliteit” (governmentality) is die vraag ook hoe ons subjekte word, dit wil sê, hoe ons gerassifiseer, ensovoorts word. Interessant genoeg gryp wit Afrikaanssprekendes die neoliberale diskoers met groot ywer aan. Vir vroue behels dit dat jy jouself objektiveer, byvoorbeeld deur die klere wat jy dra, maar dít beskou as jou eie keuse, eerder as iets wat op jou afgedwing is. In my ontleding van die inhoud van Sarie-tydskrif as ’n dominante diskoers wat breë sanksie geniet, het ek die neoliberale idee van selfskepping (“wees die beste ‘jy’ wat jy kan wees”) gevind. Wat dit Afrikaans maak, is die bykomende idee dat jy jouself skep om andere te dien, en spesifiek wit andere.

Wat van ’n dogtertjie wat gewoon wil aantrek in iets waarin sy mooi voel? Wat self kies om soos Barbie te kyk, al stel jy voor ons kyk na iets minder blatant seksisties? Ons as vroue is allesbehalwe homogeen, en ditto mans. Vertel bietjie hoe jy vroulikheid sien, en hoe dit by jou boek aansluit.

Ek stem saam dat vroue nie homogeen is nie. Met my boek wil ek juis hierdie idee tuisbring. Maar ook die idee dat wanneer homogeniteit onder sekere groepe vroue (byvoorbeeld wit Afrikaanssprekendes) bestaan, dit die gevolg is van spesifieke norme waarna ons ons skik, eerder as iets wat “natuurlik” is. Die idee dat ’n dogtertjie “gewoon” iets aantrek om “mooi” wil voel, stel voor dat daar ’n “natuurlike” vroulikheid bestaan wat onaangetas is deur mense se verstaan van die wêreld. Maar wat gebeur as ’n seuntjie iets wil aantrek om mooi te voel? Die penalisering van sy aksie wys vir ons dat vroulikheid en manlikheid nie natuurlik is nie. Mense is simboliese wesens en ons skep voortdurend betekenisse wat ons deur taal aan mekaar oordra. Ons skep komplekse regimes van idees en voorskrifte, en daarmee skep ons hiërargieë. Geslag is een van daardie regimes. In die geval van geslag word spesifieke betekenisse aan die voorkoms van sekere geslag- en voortplantingsorgane geheg. Daarvolgens word twee geslagte geskep wat ongelyk is, en mense word by een van hierdie twee geslagte ingedeel. Die indeling word deur spesifieke norme van “hoe om ’n man te wees” en “hoe om ’n vrou te wees” in stand gehou. Ons skep en reguleer onsself en andere deur hierdie idees van geslag, byvoorbeeld dat dogtertjies iets “moois” wil aantrek, en seuntjies nie. Die argument hier is dus dat niemand net “gewoon” iets aantrek nie. Dit is altyd die produk van sosialisering. Maar ons is so gewoond aan die norme dat ons hulle as “natuurlik” beskou en nie besef dat hulle menslike skeppings is wat deur ons gehandhaaf word nie. Ons vra nie waarom dit is dat dogtertjies iets “moois” wil aantrek nie, en seuntjies nie. Of wat nou eintlik “mooi” is, hoe dit bepaal word en wat die effek van die voorskrif van skoonheid is op mense wat as “vroulik” bestempel word.

Hoekom wit, hoekom Afrikanervroue? Wat maak ons uniek in die wye wêreld? Dis immers ’n patriargale stelsel, die wêreld, of dan nie? Dalk kan mens nie so ver terugstaan en die hele planeet se vroue bekyk nie; dalk handel dit oor ’n groter prentjie juis deur die mikrokosmos te beskou? Of waarom was wit Afrikanervroue jou fokus?

Soos hier bo beskryf, stel ek belang in die spesifiekhede wat my en ander wit Afrikaanssprekende vroue vorm. Dit is waar dat patriargie oral bestaan, en dat witheid ’n wêreldwye verskynsel is. Maar dit is meer akkuraat om te praat van “patriargieë” en “withede” in die meervoud, want in plaaslike ruimtes word elkeen van hierdie verskynsels aan die hand van spesifieke historiese omstandighede gevorm. Ek wou daarby uitkom.

Wie is jou teikenmark? Móés daar een wees? En wie is jou ideale leser?

My teikenmark is almal wat in identiteit en sosiale verskille belangstel, of jy nou swart of wit, man of vrou, straight of gay is. Die boek is in ’n akademiese register geskryf, maar ek glo daaraan om nie lesers te verkleineer met aannames oor wie iets kan lees of nie. Soos my werk as kommentator wys, is dit vir my belangrik om nie net met ’n handvol ander akademici te praat nie. Daarom het ek bekendstellings in toeganklike plekke in die groot stede gehou, en het ek ’n paar bydraes oor die boek in die Afrikaanse en Engelse media gepubliseer. Daar is genoeg ingangspunte om lede van die breë publiek by die boek in te trek, en dat hulle by die inhoud sal aanklank vind. My ideale leser is iemand wat vrae vra, ook vir my.

So: Sit ons almal mooi? Lyk ons mooi? Omdat ons moet, omdat ons wil? Hoe weet ons wat die verskil is, want soos dekolonisering (ís dit ’n soort Dekolonisering 101, hierdie?), waar begin dit? Dis inherent deel van alles – hoe draai mens dit om? (Dalk vra ek jou oor jou bevindinge.)

Ek is verheug om te sê dat daar ’n wonderlike verskeidenheid posisies is wat wit Afrikaanssprekende vroue inneem. Die studie wys van die diskoerse wat ná apartheid aangewend word om ongelykhede te handhaaf, maar ook die diskoerse waarmee ongelykhede teengestaan word. Daar is openings in hierdie identiteit wat onmoontlik was gedurende apartheid en kolonialisme, en wat wys dat baie van hierdie groep vroue die bevrydende moontlikhede van demokrasie benut. Kortom, sommige sit minder mooi.

Hoe lyk jou ideale wêreld en haar Boeremeisies?

My ideale wêreld is een waar ons nie vasgevang word in die kategorieë wat andere op ander tye geskep het nie, maar waar ons bevraagtekenend en vernuwend omgaan met identiteit, en vloeibaarheid omhels, en bewustelik ons eie vooroordele en bevoorregting aftakel. Dit is ’n wêreld waarin andersheid nie ’n bedreiging is nie, maar ’n bate.

Jou opmerking oor (wit) vroue wat ná die ABO hul mans uit die slagofferskap (wat hulle ervaar het) moes ophef, en dit nou weer doen, na die verandering in politieke bestel, het my diep laat nadink.

Slagofferskap het verskillende gebruike deur die dekades gehad, ook in Afrikanerpolitiek. Na die Suid-Afrikaanse Oorlog is Afrikanervroue voorgestel as slagoffers wat mans se beskerming en toesig nodig gehad het. Die rede hiervoor was dat veral die vroue teen die beëindiging van die oorlog gekant was, en die manlike leiers hulle wou kry om by die vredesplanne in te val. Die manlike leiers het die simboliek van slagofferskap gebruik om die vroue weer ’n posisie van onderdanigheid te laat inneem nadat hulle tydens die oorlog weens die afwesigheid van hul mans alleen geboer het, die oorlog met proviand en hul anti-Engelse sentiment aan die gang gehou het, en selfstandig oor die weg gekom het. Interessant sien ons nou, na die val van apartheid, dat wit Afrikaanssprekende mans as slagoffers voorgestel word, dié keer van demokrasie. In my boek vind ek spesifieke diskoerse wat daarop gemik is om Afrikaner-manlikheid in ere te herstel. Vroue is veral hard aan die werk wat dit betref. Anders as wat sommige studies oor nasionalisme voorstel, dui dit op ’n spesifieke belegging in manlikheid, eerder as vroulikheid, as die morele hoeksteen van Afrikaner-identiteit.

Foto van Christi van der Westhuizen: Menán van Heerden

Buro: NM
  • 0
Top