Die Nederlands-gebore sjef Margot Janse, wat al verskeie male as een van Suid-Afrika se top sjefs gekroon is, se webwerf vir haar Isabelo-welsynsprojek, waarvoor sy die glanskombuise verruil het, begin so: “Elke oggend sou ek na my restaurant The Tasting Room (Le Quartier Français, Franschhoek, Suid-Afrika) ry en links onder in die pad draai. Binne ’n kilometer is ek in my pragtige kombuis, omring deur die beste kosprodukte.
“As ek regs sou draai onder in die pad, sou ek in die middel van ’n plakkerskamp gewees het; omring deur hongersnood en armoede en waar kinders met leë mae skool toe gaan.”
Sy skryf voorts: “Die verskil is net té groot en ek moes iets doen om ’n verskil te maak.”
Margot Janse
Dit was 2009. Saam met ’n dieetkundige ontwikkel sy ’n baie voedsame muffinresep. Elke Vrydag bak sy die muffins en lewer dit by ’n klein speelskooltjie aan 70 honger kindertjies af. Danksy donasies kon hulle gou gesonde maaltye aan 100 kinders in twee verskillende speelskooltjies verskaf – vyf dae per week.
In 2011 reis sy na Nederland, en ná ’n baie suksesvolle fondsinsamelingsete kan sy en haar restaurantspan voedsame maaltye aan 185 kinders in drie skole lewer. Margot vertel: “Vriende het die aand organiseer. ’n Meubelvervaardiger se vertoonkamer is omskep in ’n restaurant en ek het gekook. Ons was só oorweldig deur die bedrag wat ingesamel is.
“Ons kon begin diversifiseer en Isabelo het die Kusasa Ontbytklub wat elke skooldag ontbyt aan 1 100 skoolkinders in Franschhoek verskaf, oorgeneem. Hulle kry pap, vrugte en melk.”
Isabelo beteken rofweg uit Xhosa vertaal: “Omgee is deel.”
“In 2013 kon ons die ontbyt nog meer voedsaam maak, deur drie maal per week ’n eier by te voeg.”
Margot sê ongeveer 90% van hul donasies is geld, en ’n klein persentasie is varsprodukte. “Dit was glad nie moeilik om te doen terwyl ek by die restaurant was nie. Ons het soggens tussen 08:00 en 10:00 die maaltye gekook en een van die hotel se drywers het die kos by die skole afgelewer.
“Ons het alles in plek gehad: groot yskaste, vrieskaste en stowe. Dit was deel van die daaglikse roetiene en al die sjefs het geweet wat om te doen. Niemand het ooit gekla oor die ekstra werk nie.”
Margot vertel dat sy in 2014 nog fondse kon insamel deur die Kaapstad-marathon te voltooi. Met dié geld en hulp van borge, takel hulle die kombuise by Dalubuhle en Wes-Eind Primêre Skole, waar die Kusasa-ontbytklub elke skooldag ontbyte verskaf.
Die Kusasa-projek is in 2006 deur die vriende Dave Riordan en Doug Gurr op die dorp begin. Hulle het ’n broodnodige behoefte aan geletterdheid, sport en voeding vir veral voorskoolse kinders uit plakkerskampe waargeneem.
Die afwesigheid van enige voorskoolse fasiliteite vir die armes – in ’n stadium in kinders se lewens wanneer hierdie fondasies gelê moet word – was hul grootste doelwit. In 2010 het hulle ’n onafhanklike laerskool vir minderbevoorregte kinders geopen. Isabelo verskaf sedert hul eerste dag aan die kinders ontbyt, wat kinders by die skool geniet – mits hulle betyds opdaag.
Agt jaar nadat Margot Isabelo begin het, besluit sy om na 22 jaar haar uitvoerende-sjef-voorskoot by The Tasting Room vir goed op te hang.
Op daardie stadium was sy die liefling van die Suid-Afrikaanse gourmetwêreld. Tydens haar 22 jaar by Le Quartier Français is sy twee maal as Eat Out DStv-sjef van die jaar bekroon (2002 en 2012). Die restaurant het die agtste plek behaal in The World's 50 Best Restaurants. Teen 2012 was die restaurant 11 maal in die top 10-lys van Suid-Afrika se beste restaurante ingesluit.
Toe sy die restaurant agterlaat, neem sy Isabelo saam met haar. “Ek moes toe my hele aanslag verander en sien hoe ek dieselfde invloed kan hê as voorheen, maar nou as eenvrousaak. Een euro verskaf middagete aan een kind; 50 eurosent gee ontbyt. En elke sent help om Isabelo se leuse dat geen kind op ’n leë maag kan leer nie, gestand te doen.
“My garage word toe die verspreidingsentrum. Ek het ’n baie groot staanvrieskas gekoop en ’n gasvryheidsmaatskappy in Kaapstad opgespoor wat heilsame maaltye kook. Ek het elke week die maaltye gaan haal en daagliks met melk, vrugte en hawermout versprei.”
Sy het onlangs ’n perseel op ’n plaas ontdek wat sy in Isabelo se hoofkantoor wil omskep. Daar wil sy goedere van restaurante, plaaslike supermarkte en plase ontvang.
Margot vertel dat die Pebbles Project verlede jaar ’n supermoderne kombuis geopen het en nou al haar gekookte etes verskaf. Sy betaal vir die etes, wat een maal per week afgelewer word. “Wanneer ek groot varsprodukteskenkings ontvang, laat ek dit by hulle aflewer, want ek kan dit nie verwerk nie. Ons het ’n wonderlike verhouding en help mekaar waar ons kan.”
Margot behartig daagliks die ontbyt en Isabelo betaal vyf ongelooflike vroue wat by die twee skole vrywillige werk doen en die ontbyt voorberei.
Maar om haar huidige passie te verstaan, moet jy haar storie by die begin gaan haal. Hierdie boorling van Naarden, wat in Bussum grootgeword het, het ná skool drama studeer. Haar paadjie loop na Afrika danksy ’n Suid-Afrikaanse kêrel wat as joernalis in Zimbabwe werk. Hulle woon vir ’n paar maande in Harare, waar sy foto’s neem vir haar kêrel se nuusstories.
Toe apartheid in 1993 tot ’n val kom, verhuis sy na Johannesburg. Haar liefde vir kos begin die oorhand kry en sy klop by die gerespekteerde restaurateur Ciro Molinaro aan. Hy stem in om haar in sy kombuis op te lei. Twee jaar van swoeg en sweet leer haar elke aspek van die kombuis en dis Ciro se aanmoediging om met kos te eksperimenteer en te speel wat Margot leer om kosgrense te verskuif.
Later trek sy na Kaapstad en werk by die Bay Hotel as chef de Partie en word later bevorder tot junior sous-sjef.
In 1995 begin sy as sous-sjef by Le Quartier Français in Franschhoek. Toe die hoofsjef die restaurant verlaat, word sy in dié pos aangestel. Die restaurant het toe reeds toekennings gewen en was Suid-Afrika se Restaurant van die Jaar. Dis geen maklike paar skoene om vol te staan nie, maar sy laat haar nie van stryk bring nie.
Margot stel die Suid-Afrikaanse publiek bekend aan proespyskaarte toe sy The Tasting Room binne die restaurant open. In 2000 werk sy vir ’n ruk by The French Laundry saam met die sjef Thomas Keller.
Die Nederlands-gebore sjef Margot Janse, wat al verskeie male as een van Suid-Afrika se top sjefs bekroon is, is op haar gelukkigste as sy in die kombuis kan wees. Margot se Isabelo-welsynsprojek, waarvoor sy die glanskombuise verruil het, vier vanjaar sy 11de verjaardag.
In Februarie 2019, met Isabelo se 10de verjaardag, reis sy na Brussels. Drie top restaurante, Bon Bon, Bozar en Le Chalet de La Foret, speel gasheer vir die wêreld se 25 voorste sjefs. ’n Tiengangmaaltyd word gekook en al die fondse wat ingesamel word, gaan aan Isabelo. Hulle kan vir 12 maande jong kinders voed. Die name wat daardie aand hul slag gewys het, was onder meer Virgilio Martinez, Alain Passard, Ana Roš, May Chow en Pascal Barbot.
Elke sjef se gereg is geïnspireer deur Suid-Afrikaanse bestanddele wat Margot laat invlieg het. Dink aan boegoe, kremetart, heuningbos, maroelaneute, sorghum en selfs Baleni-sout van ’n warmbron in die noorde van Suid-Afrika.
Verlede jaar twiet sy op 5 Desember dat sy 30 jaar in Suid-Afrika vier, en dit ook ses jaar sedert Nelson Mandela (Madiba) oorlede is. Dit was ’n groot jaar vir haar.
Margot vertel dat Isabelo deel is van wie sy is en wat sy doen. “Jy kan nie in so ’n pragtige land bly sonder om terug te gee nie.”
Die twee wêrelde waarin sy haar bevind het, verskil soos dag en nag: Margot erken dat sy die spanwerk van ’n besige restaurantkombuis mis. Daardie gevoel dat jy aan ’n groep behoort. “Ek het regtig ’n ongelooflike span gehad. Ons het elke dag die stryd gestry en mekaar se belange op die hart gedra. Ek mis dit.”
Sy sonder die sjef Susan Huxter uit as ’n groot inspirasie in haar lewe en noem haar ’n superdinamo na wie sy opkyk en vir wie sy groot respek het.
Margot vertel dat sy baie gereeld teruggaan Nederland toe en dan familiekuiers en sake kombineer. Vanjaar gaan dit nie gebeur nie, en as sy te veel verlang, maak sy haar ma se frikkadelle, gehaktballen. Sy geniet graag ’n glas yskoue chenin blanc; of ’n gin en soda; of Copeland-rum met grenadellas uit haar tuin en baie ys. Sy hou nie van suiker nie.
Haar trooskos is wonderlike brood, gesoute botter en jong boerenkaas. Mens kan die meisie uit Nederland haal, maar nie Nederland uit die meisie nie ...
Met 2020 se sjampanjeproppe wat klap en blink Nuwejaarsvoornemens kon niemand voorsien hoe die wêreld in April sou lyk nie. Die koronavirus saai paniek en chaos. Suid-Afrika is sedert 27 Maart onder ’n staat van inperking: Almal moet tuisbly. Hotelle, restaurante, winkels is gesluit en net noodsaaklikhede soos mediese toerusting, skoonmaakmiddels en kos kan gekoop word.
Dit het natuurlik ook tot in die Franschhoek-vallei gekruip en Margot moes die afgelope paar weke haar hele aanslag verander. Sy is ’n vryskutsjef en hoofbeoordelaar van die Eat Out-restaurant-toekennings. Danksy die virus is albei hierdie inkomstebronne afgesny. Dus het sy geen inkomste vir die volgende paar maande nie – ’n posisie waarin miljoene ander Suid-Afrikaners hulle nou bevind.
Dis hier waar haar ouers se raad haar nou daagliks help. “My pa het my geleer dat jy reeds ’nee’ in jou hand het. As jy nie probeer nie, sal dit nooit ’n ‘ja’ word nie. Ek is nie skaam om vir hulp te vra nie.” En voeg hierby haar ma se raad om altyd jou beste te lewer en jy het die suksesresep van Isabelo.
Hoewel sy sê niemand weet hoe lank die virus die wêreld gaan lamlê nie, was daar honger voor die virus en daar gaan honger daarna wees. “Ons moet aanhou. My grootste uitdaging is om genoeg kos voor te berei en genoeg produkte te hê om dit volhoubaar te kan doen. Ongelukkig is ons nog nie daar nie.”
Margot se span het intussen uitgebrei om gesinne tydens inperking en stygende werkloosheid te voed. Die projek is ’n verlenging van haar gewone projek en staan as Disaster Management Franschhoek bekend. Dit verskaf weeklikse kospakkies aan meer as 500 arm gesinne en senior burgers in die gebied.
Hoe kan lesers help? Heilsame varsprodukte is hul grootste behoefte. Daar is tans ’n span van meer as 200 vrywilligers, van wie heelwat bekroonde sjefs, soos Chris Erasmus en Liam Tomlin, wat daagliks berge kos verwerk en heilsame maaltye kook wat versprei word.
’n Span van 200 vrywilligers werk nou daagliks saam met Margot Janse om meer as 500 kospakkies gereed te maak vir weeklikse aflewering. Die skole in Suid-Afrika is al vir bykans sewe weke gesluit en Isabelo se skoolvoedingsprojek kan dus nie normaal voortgaan nie; hulle wy hulle nou toe aan die Disaster Management Franschhoek-projek. Bekroonde sjefs verwerk elke dag tonne vars groente en vleis in heilsame maaltye wat uitgedeel word. Sjefs in die omgewing het almal hul kombuise beskikbaar gestel, waar hierdie kos berei word.
“Ons pak ook kospakkies met droë bestanddele en daarvoor het ons geld nodig. Die sjefs het hul kombuise beskikbaar gestel om al hierdie kos te kook en daarvoor het ons geld vir gas en elektrisiteit nodig.”
Enige skenkings kan deur www.isabelocharity.com gemaak word. Merk jou skenking duidelik met “Covid-19” as jy hiertoe wil bydra.
En waarvan droom sy vir die toekoms? “Ek hoop op volledige integrasie binne gemeenskappe, sodat almal waarlik na almal in die hele gemeenskap omsien. En dit begin hier in Franschhoek.”
Interessante feite oor die gewone werkinge van Isabelo:
In 2020 sal Isabelo 40 600 warm middagetes aan kinders verskaf; 296 380 gesonde ontbyte; 336 980 heilsame maaltye aan die kinders in die Franschhoek-vallei; maandeliks ongeveer €5 000 aan maaltye spandeer.
- Teks: Maryke Roberts
- Foto’s: Claire Gunn