Skadelike kopieregwetsontwerp voor parlement

  • 0

’n Hoogs omstrede wetsontwerp wat ernstige gevolge vir Suid-Afrikaanse skrywers se bestaande regte inhou en hulle van broodnodige inkomstebronne sal ontneem, sal waarskynlik vandag (Donderdag) voor die parlement dien.

Die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg, wat aanvanklik sowat vier jaar gelede deur die President van die hand gewys is, word dié week deur die Nasionale Vergadering heroorweeg.

Skrywers wêreldwyd het die afgelope week opnuut gepleit dat die parlement nie die wetsontwerp goedkeur nie. Dit maak onder meer voorsiening daarvoor dat inhoud uit boeke en rolprente “binne redelike perke” gereproduseer kan word sonder enige vergoeding of tantieme vir die oorspronklike kunstenaar.

Drie plaaslike skrywersverenigings, PEN Afrikaans, ANFASA en PEN Suid-Afrika, het ook gevra dat Suid-Afrikaners hulle stem dik maak teen die wetsontwerp. Hulle het in samewerking met die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) ’n petisie beskikbaar gestel as deel van ’n gesamentlike protesaksie teen die wetsontwerp, wat vandag vir aanvaarding voor die Nasionale Vergadering sal dien.

Suid-Afrikaanse skrywersverenigings het ’n beroep op hulle lede en ondersteuners gedoen om die petisie dringend te onderteken voordat die wet in die parlement bespreek word. Hulle sê skrywers verdien beter as die verreikende verswakking van outeursregbeskerming wat in die wetsontwerp voorgestel word.

Hulle is onder meer bekommerd dat die wetsontwerp kopieregbeskerming uitermate verswak deur die oorkoepelende "billike gebruik"-beginsel in artikel 12A in te voer, sowel as ander spesifieke kopiereguitsonderings wat te wyd is.

Die Internasionale Konfederasie van Verenigings van Skrywers en Komponiste, bekend as CISAC, het hulle in ’n verklaring wat verlede Saterdag uitgereik, is ook teen die wetsontwerp uitgespreek. Hulle waarsku dat dit Suid-Afrika se kreatiewe gemeenskap sal benadeel.

CISAC is die wêreld se voorste netwerk van skrywersverenigings, met ’n globale gemeenskap van lede wat meer as vyf miljoen skeppers van alle artistieke repertoriums wêreldwyd verteenwoordig.

Hulle sê in hulle verklaring as dit aanvaar word, sal die wetsontwerp Suid-Afrika se kreatiewe gemeenskap benadeel, skeppers se werke devalueer en uit pas wees met internasionale beste praktyke.

Die wetsontwerp is die eerste omvattende poging in 50 jaar om Suid-Afrika se kopieregwet te moderniseer. Dit is ’n geleentheid om die kopieregstelsel te moderniseer en te verseker dat skeppers se regte effektief beskerm word tot ver in die toekoms. Ten spyte van protes van die kreatiewe gemeenskap oor die laaste paar jaar, bly die wetsontwerp egter gebrekkig.

“Dit sal kopiereg verswak, wat die grondslag van skeppers se ekonomiese lewensonderhoud is. Dit sal ernstige ekonomiese gevolge hê vir diegene wat ’n bestaan ​​in die kreatiewe bedrywe maak, en sal die volgende generasie skeppers in gevaar stel,” lui CISAC se verklaring.

“Soos herhaaldelik deur die kreatiewe sektor uitgelig is, skiet die wetsontwerp op verskeie maniere te kort. Eerstens sluit dit ’n lang en oop lys van uitsonderings op kopiereg in. Hierdie oormatige fokus op uitsonderings, in plaas van die regte van skeppers, is nie wat die funksie van ’n nuwe kopieregwet behoort te wees nie. Dit devalueer werke, wat baie nuwe gebruike oopmaak waarvoor skeppers nie meer die reg sal hê om tantieme te verdien nie.”

Tweedens is daar ’n konsep van "billike gebruik" wat blykbaar Amerikaanse wetgewing kopieer, maar dit in werklikheid veel verder voer. Dit is ’n verloor-verloor-situasie vir beide skeppers en gebruikers wat sal lei tot onsekerheid in die mark, waarvoor die enigste oplossing duur en verkwistende litigasie sou wees.

Skrywers en kunsskeppers het volgens die beswaardes nie diep sakke om hofsake oor die wetgewing  te bekostig nie. Hulle sê om tyd en hulpbronne daarop in howe te spandeer, is nie wat goeie wetgewing tot gevolg moet hê nie.

Lees ook:

Wysigings aan die kopieregwetgewing: Gys Visser werp lig op die probleme met die "fair use"-leerstuk

Persverklaring: Teken die petisie #StopTheCopyrightAmendmentBill

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top