Skok en woede na leerder skoolmeisie glo aanrand

  • 0

Suid-Afrikaners het woedend reageer nadat ’n video Woensdag op die internet versprei is waar ’n hoërskoolseun ’n skoolmeisie op die skoolterrein na bewering aanrand. 

Die voorval waarvan die video soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, het glo by Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp plaasgevind.

Die video is onder andere deur Ian Cameron, die drukgroep Action Society se direkteur van veiligheid, op Twitter gedeel.

In die videogreep van net minder as dertig sekondes kan gesien word hoe twee skoolseuns die meisie konfronteer. Die seuns raak in ’n argument betrokke met die meisie, waarna sy opstaan met haar hande op die heupe terwyl die een seun verder met haar argumenteer.

In een stadium gee hy iets aan die leerling langs hom voordat hy die meisie met geweld omstamp sodat sy op die grond val. Die meisie probeer haarself dan verdedig, waarna die seun wat haar omgestamp het, haar wild en wakker begin klap.

TimesLIVE berig die Gautengse Departement van Onderwys het gesê dat ’n graad 10-leerling wat glo by hierdie voorval betrokke was, geskors is.

Die skool het ook in 2008 opslae gemaak toe ’n graad 12-leerling ’n masker opgesit en ’n medeleerling, Jacques Pretorius, doodgekap het. Morné Harmse, bekend as die "samoeraimoordenaar", het ook drie ander leerders gewond.

Hy is skuldig bevind op ’n aanklag van moord en drie aanklagte van poging tot moord. Hy is in 2009 tot effektief 20 jaar agter tralies gevonnis. Harmse is verlede jaar in Maart op parool vrygelaat.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het intussen hulle teenboeliepraatjies by verskeie skole in die land hervat om leerders bewus te maak van boeliegedrag en te leer wat om te doen wanneer hulle geboelie word. Daar word veral op boeliegedrag op sosiale media (kuberafknouery) en die gevare daarvan gekonsentreer.

AfriForum sê in ’n verklaring dit is belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. “Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies waar afknouery plaasvind op te tree en om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer hoe om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van hierdie praatjies is om leerders te bemagtig,” sê AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, Magdel Jansen van Vuuren.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top