Suid-Afrikaners is woedend en geskok oor die beweerde verkragting verlede week van ’n graad 1-leerder in Gauteng by haar skool.
Die sesjarige kind is na bewering by die Khensani-laerskool in Soshanguve deur ’n werknemer van die skool verkrag toe sy die skool se toilet besoek het.
Haar ma het die voorval die volgende dag by die skoolowerhede aangemeld nadat die kind haar daarvan vertel het.
Gauteng se Departement van Onderwys het die voorval bevestig, en die provinsie se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het in ’n verklaring sy woede en ontsteltenis daaroor uitgespreek.
Volgens die aanvanklike berigte het die voorval op Maandag 2 Augustus tydens skoolure plaasgevind toe die kind gevra het om toilet toe te gaan.
Sy het haar ma die volgende dag van die beweerde aanranding en verkragting vertel wat volgens haar deur een van die skool se algemene werkers gepleeg is.
Lesufi sê in sy verklaring sy departement streef altyd daarna om te sorg dat skole ’n veilige plek is om leerders te huisves en hy is woedend oor die voorval.
[Read] Gauteng Education MEC Panyaza Lesufi has expressed his anger at the alleged sexual assault of a Grade 1 learner at Khensani Primary School in Soshanguve, Tshwane @EducationGP1 @Lesufi https://t.co/EhEu7XeTXQ pic.twitter.com/yoEuopZwge
— @SAgovnews (@SAgovnews) August 11, 2021
Hy het ’n beroep op almal gedoen wat enige inligting oor die voorval het en wat kan help om die skuldige aan te keer om met die betrokke owerhede in verbinding te tree.
Lesufi het gesê die departement se psigososiale eenheid het die skool reeds besoek om ondersteuning aan die gesin van die leerder te bied.
"Ons kan verder bevestig dat die leerder mediese hulp ontvang het en nog nie terug by die skool is nie. ’n Saak is by die polisie geopen.
"Ons veroordeel alle optrede wat ons leerders in gevaar stel en het die polisie versoek om vinnig op te tree oor sulke aangeleenthede, sodat ons kan verseker dat ons skole veilig is vir alle leerders," het die LUR gesê.
Die kind se ma het aan Pretoria News gesê dit is vir haar hartverskeurend. “Ek het gevoel ek wil my eie lewe neem wanneer ek dink wat met my dogter gebeur het. Ek het myself afgevra waarom die verkragter gekies het om ’n minderjarige kind te verkrag en nie liewer ’n volwassene soos ek nie,” het die ma aan die koerant gesê.
The @pretorianews was told that the young girl was on her way to the toilet when she was followed – unaware – by one of the general workers, who allegedly raped her. #crime #dontlookaway #rape
https://t.co/EZ0NKW2WAT— IOL News (@IOL) August 11, 2021
Die Progressive Student Movement (PSM) het die skool vroeër die week besoek om meer inligting oor die voorval by die skoolhoof te bekom en die kind se ouers by te staan.
Die beweging sê op Facebook hulle het ook regshulp bekom om die familie te staan.
Van die gemeenskap se inwoners het aan die koerant gesê die beweerde verkragter meld glo steeds vir diens aan by die skool ondanks die bewerings teen hom.
Volgens die PSM kan hulle bevestig dat die kind se mediese verslag toon dat sy seksueel gemolesteer is en dat daar ’n saak by die polisie geopen is.
’n Woordvoerder van die PSM, Kabelo Nthekiso, het aan die media gesê hulle is steeds besorg oor die ouers se bekommernisse, wat volgens hulle deur die skool en die departement geïgnoreer word .
Die beweerde verkragter het volgens Pretoria News ’n masker gedra wat sy mond en neus bedek het, maar is deur die dogtertjie uitgeken as een van die werkers wat na die plante by die skool omsien.
Pretoria News berig dat die voorval woede in die gemeenskap ontketen het en dat ontstoke ouers op die skool toegesak het om ’n verduideliking te eis. Hulle wil hê die skool moet sluit totdat die skuldige aangekeer is, omdat hulle vir hulle kinders se veiligheid vrees.