Skok na moord op onderwyser by skool

  • 0

Die koelbloedige moord op ’n onderwyser in Kaapstad reg voor die skool terwyl hy in sy motor gesit het, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Thulani Mangoyi (52), ’n graad 6-onderwyser by die Heinz Park Laerskool in Philippi, is Dinsdagoggend deur twee onbekende mans in sy motor buite die skool doodgeskiet.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê in ’n verklaring sy is geskok en hartseer oor die grusame moord.

Motshekga sê die aantal gewelddadige misdade teen onderwysers in skole en elders in gemeenskappe is uiters kommerwekkend. “Ons veroordeel enige vorm van geweld in ons skole.”

Sy sê haar departement werk saam met die polisie om die veiligheid van onderwysers te verseker. Dit geld ook die veiligheid van leerders en die hele skoolgemeenskap teen misdadigers wat voortgaan om hulle te terroriseer by wat veronderstel is om ’n veilige skoolgemeenskap te wees.

Die twee verdagtes het die onderwyser se motor genader kort voordat die skool begin het. Hulle het hom ten aanskoue van kinders doodgeskiet voordat hulle op die vlug geslaan het. Hy was in sy voertuig besig om sy Bybel te lees.

’n Groep vroue wat in die omgewing was en ’n veilheidswag het hom te hulp gesnel, maar hy het op die toneel aan sy skietwonde omgekom.

Die provinsiale minister van onderwys, Debbie Schäfer, het ook haar skok uitgespreek. Sy het haar meegevoel met die onderwyser se naasbestaandes uitgespreek en sê dit is onaanvaarbaar dat onderwysers nie veilig is by die werk nie.

Die Daily Maverick berig dat die moord beskou word as ’n sluipmoord wat doelbewus op die spesifieke onderwyser gemik was. Die motief vir die moord is nog onbekend en is deel van die polisieondersoek.

Die voorsitter van Mitchells Plain se gemeenskapspolisieforum, Norman Jantjies, het aan die koerant gesê die voortgesette geweld in Mitchells Plain is ’n bron van groot kommer. “Dit is afskuwelik en onaanvaarbaar dat ’n onderwyser op hierdie manier doodgemaak word. Daar is bewerings dat dit ’n sluipmoord was, maar ons kan nie daarop uitbrei nie,” het Jantjies volgens die Daily Maverick gesê.

Motshekga sê in haar verklaring haar departement se program oor veiligheid by skole sal voortgaan om hulle te beywer vir ’n klimaat van geen geweld by skole. “Daarom sal die adjunkminister van basiese onderwys, dr Reginah Mhule, en ander adjunkministers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Maatskaplike Ontwikkeling en verskeie ander rolspelers die veldtog teen geweld in skole verskerp. Dit sluit ook geslagsgebaseerde geweld in.”

Die Minister sê die veiligheid van onderwysers, leerlinge en ander personeel is ’n kollektiewe verantwoordelikheid van die hele gemeenskap. Sy sê elkeen het ’n rol om te speel om die geweld en kriminaliteit by skole te help beëindig.

’n Internasionale opname het reeds in 2019 bevind dat Suid-Afrikaanse skole meer gevalle van afknouery, dwelm- en alkoholverwante voorvalle, diefstal en vandalisme as skole in enige ander land het.

Die onderwyskenner Danie van Wyk het destyds in ’n artikel op LitNet gesê dit is alombekend dat daar in slegs 20% van Suid-Afrikaanse skole sinvolle onderrig kan plaasvind. Hy sê gewelddadige voorvalle het ’n uiters nadelige effek op die onderwysstelsel in die geheel en dra grootliks tot die onderprestasie van vele skole by.

“Die agteruitgang van gemeenskappe se omstandighede vind ook in ons skole neerslag. Daar word gereeld in die media oor onderwysers wat deur leerders aangerand en selfs vermoor word, berig. Voortdurende bendegeweld op die Kaapse Vlakte en op ander plekke het ’n verwoestende effek op die onderwys van daardie gemeenskappe. Lede van die publiek word aanhoudend getraumatiseer sonder dat ’n oplossing vir die geweldskrisis in die vooruitsig gestel word,” het Van Wyk in sy artikel op LitNet gewaarsku.

Hy sê dit wil voorkom asof die onderwysowerhede die gewelddadige toestande in skole ignoreer. “Die gebrek aan dissipline onder leerders is ’n kwessie wat besonderse aandag behoort te geniet. Daar is ’n behoefte aan ’n geïntegreerde plan waarin ouers, onderwysers, gemeenskappe én die onderwysowerhede ’n rol speel. Skoolgemeenskappe sal eienaarskap van hul skole en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan moet aanvaar. Aandag aan maatskaplike probleme sal uiteindelik ’n positiewe effek op gemeenskappe se waardesisteme hê,” het hy gesê

Sy volledige artikel hieroor wat op LitNet verskyn het kan hier gelees word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top