Suid-Afrika het die afgelope week gesidder weens die plofbare onthullings oor beweerde korrupsie, politieke inmenging en georganiseerde misdaad binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Tydens parallelle sittings van die Madlanga-kommissie van ondersoek en die parlementêre ad hoc-komitee, het getuienis na vore gekom wat die land se strafregstelsel opnuut onder die vergrootglas plaas.
Die Madlanga-kommissie, wat deur president Cyril Ramaphosa ingestel is om sistemiese wanfunksies in die SAPD te ondersoek, het skokkende bewerings aangehoor deur twee anonieme getuies wat slegs as A en B bekend staan. Daar is onder andere getuig hoe ’n persoon wat verkeerdelik as ’n fluitjieblaser aangesien is koelbloedig doodgeskiet is.
Die Madlanga-kommissie, onder voorsitterskap van afgetrede Konstitusionele Hof-regter Mbuyiseli Madlanga, het sy vierde week van verhore gehou, met ’n fokus op sistemiese korrupsie en die bedreiging wat getuies in die gesig staar.
DAY 12 | The Commission resumes today as the anonymous witness (X) testifies remotely through a representative.
📹: @SABCNews#MadlangaCommission pic.twitter.com/VlCMg1aTa6
— Madlanga Commission (@MadlangaInquiry) October 14, 2025
Die speurders het onder andere getuig oor inmenging in misdaadkartelondersoeke deur hoëvlakbeamptes uit misdaadintelligensie. Hulle het inligtinglekkasies en intimidasie van getuies beskryf.
Daar is ook verwys na die omstrede sakeman Brown Mogotsi as Senzo Mchunu, die minister van polisie wat op verpligte verlof geplaas is, se informant.
Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het vroeër gewaarsku dat die strafregstelsel in sekere provinsies op die rand van totale ineenstorting is weens die invloed van georganiseerde misdaad en politieke beskerming van korrupte elemente.
Volgens Mkhwanazi is daar bewyse dat misdaadgroepe direk inmeng in operasionele besluite, en dat senior beamptes wat bande het met politieke partye, ondersoeke saboteer en getuies intimideer. Hy het ook gewaarsku teen die “verpolitisering van misdaadbestryding” en het ’n beroep gedoen op ’n onafhanklike teenmisdaadstruktuur wat buite politieke invloed funksioneer.
Intussen het die parlementêre ad hoc-komitee, onder voorsitterskap van Molapi Lekganyane, dié week voortgegaan met ’n aparte ondersoek na spesifieke bewerings wat Mkhwanazi vroeër vanjaar gemaak het tydens ’n nuuskonferensie wat die bal aan die rol gesit het vir die huidige ondersoeke. Die komitee se mandaat is om politieke inmenging, korrupsie en kriminele infiltrasie in die SAPD te ondersoek.
[WATCH]
Parliament’s Ad Hoc Committee probing corruption and interference in the justice system has begun its proceeding with former police minister Bheki Cele on the stand. Tune in to SABC News platforms for the Live broadcast.#AdHocCommittee pic.twitter.com/xJrLl4mS2Y— SABC News (@SABCNews) October 23, 2025
Die afgelope week se onthullings het skokgolwe deur die politieke landskap gestuur. Opposisiepartye het die regering daarvan beskuldig dat hulle te lank gewag het om op bewerings van sistemiese korrupsie te reageer. Burgerregte-organisasies het intussen gevra dat beskermingsmaatreëls vir fluitjieblasers verbeter word, en dat onafhanklike vervolgingseenhede heringestel word.
Die Madlanga-kommissie se werk is nog in ’n vroeë stadium, maar die intensiteit van die bewerings dui reeds op ’n moontlike hersiening van die hele SAPD-struktuur. Die parlementêre komitee sal op sy beurt moet bewys dat dit nie net ’n simboliese proses is nie, maar ’n werklike poging om verantwoording af te dwing.
In ’n land waar misdaad en korrupsie reeds diep gewortel is, kan hierdie ondersoeke die begin wees van ’n langverwagte hervorming – of net nog ’n episode van politieke bedrog en misleiding.
Hierdie week se onthullings beklemtoon veral die dringendheid vir getuiebeskerming en stelselhervormings om ’n “mafiastaat” te voorkom. Suid-Afrikaners wag op konkrete stappe om vertroue te herstel.
Die tydelik geskorste minister van polisie, Senzo Mchunu, asook die vorige minister van polisie, Bheki Cele, was twee senior politici wat die afgelope week deur parlementslede van alle partye met vrae gepeper is tydens hulle verskyning voor die parlementêre ad hoc-komitee.
Yesterday we completed the questioning of suspended police minister Senzo Mchunu. Today we start with Former police minister, Bheki Cele. #AdHocCommittee pic.twitter.com/gSOE5ygdtH
— Ian Cameron (@IanCameron23) October 23, 2025
Cele sê hy ken die omstrede Suid-Afrikaanse sakeman en vermeende dwelmsmokkelaar Cat Matlala, wat in die middel van ’n groot kriminele en korrupsieskandaal staan, “baie goed”, maar hy het ontken dat hy Brown Mogotsi ken. Cele sê hy ken Matlala sedert verlede jaar.
Former police minister Bheki Cele says he knows Vusumuzi Cat Matlala "very well", but he has denied knowing Brown Mogotsi. Cele says he has known Matlala since last year.
The Ad Hoc Committee hearing continues.
▶️https://t.co/i0BNMXuiky pic.twitter.com/Q3AxYoVQWX— IOL News (@IOL) October 23, 2025
Mchunu hou vol dat die ontbinding van die eenheid wat politieke moorde ondersoek, nie polities gemotiveerd was nie, maar is gepeper met vrae daaroor. Hy het enige bande met Mogotsi en Matlala ontken, maar wel sekere teenstrydighede in sy getuienis erken.
Die afgelope week se getuienisse beklemtoon dat korrupsie ’n “kanker” in die SAPD is, met WhatsApp-boodskappe wat dui op moontlike inmenging van buite. Vakbonde soos Popcru het eerlike beamptes in die polisie verdedig, maar die openbare vertroue in die polisie kwyn.
