’n Skokkende video van ’n man wat besig is om sy vrou na bewering in hulle slaapkamer aan te rand terwyl hulle minderjarige dogtertjie dit moet aanskou en hom probeer keer, dien as getuienis in ’n saak wat tans voor die hof is nadat dit aanvanklik teruggetrek is.
Die voorval het reeds vyf jaar gelede plaasgevind, maar maak tans weer opslae nadat dit heropen is op aandrang van AfriForum.
Die video van ’n Kaapse sakeman wat sy vrou, met sy dogter in dieselfde bed, na bewering slaan en wat wys hoe die dogter haar ma probeer beskerm, is Woensdag deur AfriForum op hulle webwerf gedeel.
Hierdie video kan sensitiewe kykers ontstel.
Die sakeman, wie se naam nie genoem mag word nie om sy minderjarige dogter te beskerm, het Dinsdag in die Bellville-landdroshof op verskeie aanklagte van aanranding verskyn.
AfriForum sê in ’n verklaring die wrede werklikheid van geweld is weer blootgelê met die verskyning van die skokkende kringtelevisiebeeldmateriaal. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens die ma en kind op.
Die beeldmateriaal sal deel vorm van die getuienis teen die beskuldigde, wat ’n suksesvolle sakeman in Kaapstad is.
Die tonele in die video herinner aan die Jaco Swart-aanrandingsaak verlede jaar wat tot landwye verontwaardiging en veroordeling gelei het.
Suid-Afrikaners was woedend oor die ligte vonnis waarmee Swart, ’n selferkende vrouelslaner, weggekom het. Hy is skuldig bevind aan aanranding met die doel om sy vervreemde vrou, Nicoleen, ernstig te beseer. Die Pretoria-Noord-streekhof het Swart gevonnis tot ’n boete van R20 000, sowel as drie jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.
In die jongste video kan gesien word hoe ’n man op ’n bed ’n vrou oorrompel, haar na bewering oor haar hele lyf, insluitend haar gesig, slaan, en haar wurg. Terwyl hy dit doen, probeer ’n jong meisie die aanranding keer.
Volgens AfriForum is verskeie voorvalle van die beweerde aanranding deur die egpaar se geslotekringtelevisie vasgevang. In Augustus 2018 het die privaatvervolgingseenheid se kliënt ’n saak van aanranding teen haar man geopen.
Die polisie het die beskuldigde gearresteer, en hy is later borgtog toegestaan.
“Ongelukkig het jare se fisieke en emosionele mishandeling sy tol op die vrou en haar dogter geëis. Haar destydse prokureur het aan die aanklaer gesê dat hulle emosioneel ongeskik is om te getuig en die saak is daarna teruggetrek,” sê AfriForum in hulle verklaring.
Ná die vrystelling van die Jaco Swart-video verlede jaar het AfriForum se privaatvervolgingseenheid met die vrou vergader wat nou bereid is om met die saak voort te gaan. Die eenheid het vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig en die saak is heropen.
Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder, het sy dank uitgespreek teenoor die NVG dat hulle die saak weer op die rol geplaas het. “Ons sal hierdie saak fyn dophou om te verseker dat geregtigheid geskied. Ons doen ’n beroep op slagoffers van geslagsgebaseerde geweld om te praat en ondersteuning te soek. Daar sal altyd iemand wees om aan jou sy te staan, soos ons eenheid wat baie vroue in soortgelyke posisies bygestaan het,” sê Bateman.
Hy sê hy het begrip vir mense wat bekommerd is omdat die video op sosiale media gedeel word, maar dit word met die toestemming van die ma versprei, anders sou hulle dit nie gedoen het nie.
Bateman het die versekering gegee dat hulle sal toesien dat hierdie video's toegelaat word as bewyse teen die beskuldigde, anders as tydens die Jaco Swart-aangeleentheid waar die hof dit nie wou toelaat nie.
Die saak is tot 16 Februarie 2023 uitgestel.