Skole: Nederlandse ouers “staan op omvallen”

  • 0

Foto: Ryan McGuire | PixaBay

 

Jou baas bel en sê: “Klim op Skype! Nou! Daardie kliënt stel belang!”

Jou dogter sug hoorbaar, want hier los jy haar al weer terwyl sy probeer Wiskunde doen op haar iPad. Jy pluk jou T-hemp uit, gooi ’n formele hemp oor jou kop, vee ’n wilde hand deur jou hare, kyk gou in die refleksie van die ruit of die meeste knope oukei lyk en klik met ’n groot glimlag op die videoknoppie.

Twee beelde verskyn: Jou baas in haar snyersrok, netjies agter haar ontwerpertuiskantoorlessenaar, en die kliënt, in ’n pak klere wat waarskynlik meer kos as jou maandelikse salaris.

Jy glimlag. Jou baas bedank jou dat jy, soos altyd, gereed sit met die feite en jy trek s-a-g-g-i-e-s die regte inligtingstuk nader, want skielik herken jy die kliënt en dit was maande laas dat jy daardie produk aangebied het...

Dinge gaan goed. Uit sy ruim kantoor knik die kliënt al hoe meer entoesiasties, want intussen het jy ook sy maatskappy se webruimte opgespoor en jy ad lib nou oor die voordele van julle produk vir sy koninkrykie.

Net mooi op die punt waar jy dink die min slaap het darem nog nie al die breinselle verwoes nie – dankie tog vir ’n geheue wat maande se inligting van iewers kan opdiep – bars die deur agter jou oop. Dit is jou jongste met bruin op sy handjies wat reguit op jou afpyl en gil: “Pappa, ek het ’n poefdoek!”

Die hond sien ook die gaping en kom lek eers jou kind se hand, dan jou gesig.

Jou oudste, steeds vies oor sy nie netnou jou aandag kon kry nie, gryp haar skoolboeke en iPad en storm ook die kamer binne, wat beide die hond en die jongste aan die huil laat gaan.

Gelukkig maar hoor jy die stort se krane toegaan, en onder die lawaai op jou skoot, roep jy jou genoot se naam. Dié kom dadelik tot jou redding, maar besef natuurlik nie jy is op ’n video-oproep nie...

Ons is nie alleen nie

Helaas. Hierdie scenario kan deesdae op enige plek in die wêreld afspeel. Inperking daag mense uit op maniere wat ons nog nooit tevore ervaar het nie. En in Nederland, met hulle baie klein huisies, begin ouers én kinders se gemoedere nou oorkook. Maak in hemelsnaam die skole oop! bulder die burgery.

Die NRC Handelsblad van 3 Februarie 2021 stel dit mooi: “Ouders met jonge kinderen staan op omvallen.”

Ter plaatse sê ’n kollega: “Dis die langste Desembervakansie ooit! As selfs die kinders begin kla, moet jy weet...”

En toe Jean Oosthuizen onlangs hier op Voertaal vertel dat talle ouers nie hulle kinders wil skool toe stuur nie, was daar ’n duidelike koor op Facebook wat sê: “Hulle het ons nie gevra nie!”

Die situasie in Nederland is tans vir baie ouers dieselfde as in Suid-Afrika. Nederlanders kyk jaloers na hulle Suiderbure. In België het skole oop gebly. Die infeksies was relatief laag.

Dalk kan Suid-Afrikaners tong uitsteek vir Nederlandse ouers, want hulle het dit vir lank makliker gehad as ouers in Suid-Afrika. Ter plaatse het die regering in Maart 2020 mense huis toe gestuur, skole gesluit en jou verbied om die huis te verlaat tensy jy basiese goedere moes gaan koop.

In Nederland was dit anders. Hulle regering het van die veronderstelling uitgegaan dat kinders waarskynlik nie COVID-19 kan kry nie, en indien wel, dat hulle nie die virus op groot skaal sal kan versprei nie. (Terloops: Kinders se risiko is steeds uiters laag, die nuwer variante ten spyt.)

Nederland was boonop vir ’n lang ruk in ’n staat van sogenaamde “intelligente inperking”, wat relatief min wetlike beperkinge op die individu geplaas het. Klasse het dus gewoon voortgegaan en maskers was nie verpligtend in die klaskamer nie. Dit terwyl ons in die bed gesit het, of van die huis af moes werk...

Die dilemma was dat onnies die virus gekry het. Baie van hulle. Nuwer variante is ook meer aansteeklik, en skielik het jonger mense ook begin positief toets. Uiteindelik het die regering in Nederland besluit: Basta, kinders moet tuis bly. Nederland is ’n ryk land en kinders wat nie self ’n skootrekenaar kon bekostig nie, kon in die meeste gevalle een van die skool kry. Maklik. Mos?

Hibriede onderrig

Selfs ná skole gesluit is, het die praktiese Nederlanders talle uitsonderings gemaak op hulle eie reëls.

  • Kinders wat in “kwetsbare posities” is, kon aanhou skool toe gaan. Aangesien dit ’n welsynstaat is, weet onderwysers en skoolbesture watter kinders se huislike omstandighede nie na wense is nie.
  • Verder, sou een of twee van die ouers “een cruciaal beroep” beoefen, kon daardie kinders skool toe gaan.
  • Wat meer is, leerders wat binnekort belangrike eksamens moet skryf, dié wat hulle loopbaankeuse kan beïnvloed, is óók toegelaat om skool toe te gaan.

Die skole is dus nie so vol nie, maar onderwysers in Nederland hou nog die hele tyd skool vir die eksamenskrywers, hulle hou aanlyn skool vir diegene by die huis én hulle onderrig al die kinders wat nie by die huis kon bly nie. Soos in goeie Suid-Afrikaanse skole, waaronder die meer gegoede privaatskole, is daar dus in Nederland gebruik gemaak van “hibriede onderrig”, deels aanlyn, deels in die klaskamer.

Onnies is besig.

Terug skool toe op 8 Februarie!

Met ouers wat kla, en onnies wat al hoe harder werk, het die regering die saak herbedink.

Huise in Nederland is klein. Bitter min ryk mense aldaar het die spasie van ’n middelklashuishouding in Suid-Afrika. Daarom is dit nóg moeiliker om ’n onderwyser-opvoeder-skeidsregter-kosmaker-babawagter te wees én jou beroep van die huis af te beoefen.

Die dilemma waarmee die regering nou sit, is egter dat skoolterreine in Nederland ook bitter beknop is. Die enorme geboue, grasperke en rugbyvelde wat ons ken, bestaan gewoon nie daar nie. Nou moet kinders terug skool toe, en hulle moet sosiale afstand handhaaf...

Wat meer is, Nederlanders is gewoond aan lugversorging. Winter of somer is die temperatuur in geboue dikwels dieselfde. Talle geboue het vensters wat nie kan oopmaak nie, en talle klaskamers het gewoon nie vensters nie. Nou, tydens ’n inspeksie, is bevind dat baie skole se lugversorgingstelsels ver te kort skiet. ’n Amptelike skrywe van die regering het bevind dat slegs “38% van de onderzochte schoolgebouwen voldoet aan de bestaande normen voor een prettige lucht in de klas”.

Tog moes die regering gehoor gee aan die ouers se oproepe, so op 8 Februarie gaan die telge terug.

Om die talle skole wat beter lugversorging benodig te help, het die Nederlandse regering €360 miljoen beskikbaar gestel aan skoolbesture om hulle lugversorgingstelsels te verbeter. Nota bene, die geld gaan nie aan die president se maatjie se vrou se maatskappy nie. Wel, ons hoop nie so nie!

Intussen, terwyl die skole maatskappye moet inkry om te help, móét die skole oop, prettige lug of nie.

Hoe voel die onnies?

Die gevoelens onder onnies in Nederland is baie dieselfde as in Suid-Afrika. Aan die een kant is daar ’n mate van verligting dat leerkragte weer meer direk met hulle leerders sal kan werk, maar hulle eie veiligheid bly ’n probleem.

Die regering spreek wel dié probleem aan deur te beloof dat alle onderwysers in die “basisscholen” (soortgelyk aan ons tipe onderrig) toegang sal hê tot sneltoetse, sou hulle simptome kry. Daar is ook duidelike riglyne vir ouers, kinders en onderwysers oor wie wanneer liefs by die huis moet bly.

Soos in Suid-Afrika is die vraag egter hoe beheer ’n mens ’n klomp kinders? Hoe hou jy hulle 1,5m van mekaar af weg? Hoe maak jy seker hulle was hande? Ja, dit is wat die amptelike skrywe van die regering sê: 1,5m van mekaar en was julle hande...

“Ja, ja,” mopper die onnies.

Die oulikste opmerking oor die hele aangeleentheid kom van die Rijksoverheid se eie webblad. Presies vyf dae voor almal moet terug skool te gaan, staan daar: “Er komen extra maatregelen om risico van verspreiding van het virus op scholen verder te beperken. Na overleg met de onderwijspartners worden ook de richtlijnen voor scholen aangepast. Meer informatie hierover volgt zo snel mogelijk.”

Ja, boet. Eendag sal onderwysers in Suid-Afrika en in Nederland kan staaltjies uitruil. Ouers ook. Daardie staaltjies gaan nie veel verskil nie.

Dit wil voorkom of ’n klein bietjie VOC-DNS steeds skuil in die regerings van Nederland én Suid-Afrika. Ons mag verskillende tale praat, maar soms klink die kommunikasie van die onderskeie regerings aan die burgery maar baie dieselfde.

Lees ook:

Die geweld in Nederland – ’n Suid-Afrikaner probeer verstaan

  • 0
Top