"Skole se 30 persent slaagsyfer moet na 50 persent verhoog word"

  • 0

Build One South Africa (BOSA) se leier, Mmusi Maimane, het die departement van basiese onderwys versoek om die land se gemiddelde slaagsyfer van 30% tot 50% te verhoog.

Maimane glo dit sal leerders beter voorberei vir die universiteit en die arbeidsmark.

BOSA het ’n openbare petisie van stapel gestuur wat reeds meer as 20 000 handtekeninge het, waarin die afskaffing van die 30% slaagsyfer geëis word. Die petisie beklemtoon openbare ontevredenheid met ’n stelsel wat leerders se toekoms in gedrang bring en lae standaarde handhaaf.

BOSA het ook aan die speaker van die nasionale vergadering, Thoko Didiza, geskryf om ’n dringende parlementêre debat oor die stand van onderwys te versoek.

Maimane sê in ’n verklaring wanneer die parlement in Februarie vir die staatsrede (SONA) open, sal BOSA daarop aandring dat onderwyshervorming ’n topprioriteit vir 2025 moet wees.

“Minister Gwarube het die geleentheid om ’n nuwe pad vir onderwys uit te stippel. Ons eis deursigtigheid en werklike oplossings, nie ANC-foefies nie,” het Maimane gesê.

Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het vroeër die matriekuitslae vir die klas van 2024 bekend gemaak en ’n amptelike slaagsyfer van 87,3% aangekondig. BOSA sê met die eerste oogopslag skets hierdie syfer ’n prentjie van vooruitgang en sukses. As daar egter verby die oppervlak gekyk word, is die werklikheid volgens die party baie meer kommerwekkend.

“Die waarheid, gestroop van politieke spin en manipulasie, openbaar ’n stelsel in krisis. Van die 1,2 miljoen leerders wat hul skoolreis in graad 1 in 2013 begin het, het slegs 615 000 daarin geslaag om matriek in 2024 te slaag. Dit is ’n werklike slaagsyfer van net 51%. Dit beteken dat meer as 590 000 jong Suid-Afrikaners agtergelaat is, hul toekoms verduister deur ’n stelsel wat hulle moes opgehef het.

“Terwyl sommige van hierdie leerders moontlik alternatiewe onderwysrigtings gevolg het, soos tegniese en beroepsopleiding, het die meerderheid waarskynlik deur die krake geval. Hulle staar ’n skrikwekkende toekoms tegemoet, een waar dit ’n opdraande stryd sal wees om betekenisvolle werk te kry of die ekonomie te betree,” het Maimane gesê.

Hy sê onderwys is die hoeksteen van enige suksesvolle samelewing. Dit is die grondslag waarop gemeenskappe, ekonomieë en die toekoms gebou word. “Tog is hierdie fondament in Suid-Afrika besig om te verbrokkel. Die matriekuitslae van 2024 dien as ’n skerp herinnering aan die dringende behoefte om ons onderwysstelsel te herbesin en te herbou.”

Om kwessies op die grond aan te spreek, het BOSA ’n skoleklagte-blitslyn bekend gestel per e-pos by education@bosa.org.za. Hierdie platform stel ouers, onderwysers en leerders in staat om uitdagings soos water- en sanitasiekwessies, handboektekorte en infrastruktuurvertragings aan te meld.

Alle bekommernisse sal saamgestel word en aan die minister van basiese onderwys en die parlement se onderwys-portefeuljekomitee vir aksie voorgelê word.

BOSA sê hulle sal ’n reeks gedetailleerde skriftelike vrae aan Gwarube voorlê om kritieke data te ontbloot wat dikwels versteek word.

Dit sluit vrae in soos:

  • Wat is die gemiddelde punt vir elk van die volgende vakke in die NSS-eksamen oor die afgelope vyf jaar: Wiskunde, Wiskunde Geletterdheid, Fisiese Wetenskap, Ekonomie en Rekeningkunde?
  • Hoeveel studente het die IT-eksamen oor die afgelope vyf jaar afgelê en hoeveel het meer as 50% en meer as 60% behaal. Wat doen die departement om hierdie punte te verbeter?
  • Wat is die status van jaarlikse nasionale assesserings wat die vorige minister gesê het hervat sal word, gaan dit heringestel word en hoe gaan dit uitgevoer word?
  • Wat was die uitvalsyfer – in reële getalle – vir studente in graad 10 vir elk van die afgelope vyf jaar?

BOSA sê deursigtigheid is noodsaaklik as daar uitnemendheid en vertroue in die onderwysstelsel herbou wil word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top