’n Laerskool in Musina in Limpopo moes gesluit word nadat besmette vlermuise wat die skool se dak ingevaar het, ’n gesondheidsrisiko vir die kinders in die skool ingehou het.
Van die onderwysers het beweer dat slange ook gereeld by die skool doodgemaak moet word aangesien hulle deur die vlermuise in die klaskamers gelok word.
Van die skoolkinders het glo reeds siek geword as gevolg van besmetting wat deur die vlermuise veroorsaak is.
Limpopo se Departement van Kommunikasie sê in ’n verklaring ’n gesondheidsinspekteur van die Departement van Arbeid het die skool gesluit ná ’n proaktiewe inspeksie wat verlede Vrydag (27 Mei) by die Laerskool Sigonde plaasgevind het.
Die departement het Maandag in ’n verklaring gesê die skool voldoen nie aan die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, Wet 85 van 1993 soos gewysig, nie.
Die wet spesifiseer dat indien die toestand van ’n gebou die gesondheid en/of veiligheid van persone bedreig, of waarskynlik sal bedreig, bewoning of gebruik van die betrokke gebou ingevolge artikel 30 van bogenoemde Wet met onmiddellike ingang verbied moet word.
’n Mobiele klaskamer wat deur die graad 2-leerders gebruik word, is op die oomblik die enigste klas in die skool wat nog funksioneer. Die skool sal gesluit bly totdat die nodige regstellings gedoen is en daar van die vlermuise ontslae geraak is.
Volgens die departement het graad R 1, 4, 5, 6 en 7 vlermuise in die klaskamers se dakke gehad; die vlermuise kan klaarblyklik siektes en selfs moontlik dood veroorsaak.
Die graad 4-klaskamer het ook krake by die deurkosyne gehad wat met die graad 5-klas verbind is.
WATCH:Limpopo primary school infested with bats on classroom roofs in Musina @ECR_Newswatch pic.twitter.com/oPtWxfa2SE
— Logic Malinga (@Logic_Malinga) May 31, 2022
Tydens ’n inspeksie het die inspekteur verneem dat daar op Dinsdag 24 Mei altesaam 50 leerders van die skool afwesig was omdat hulle siek geword het weens die besmetting wat deur die vlermuise veroorsaak is.
Die waarnemende provinsiale inspekteur, Reckson Tshitshivheli, het gesê gesondheid en veiligheid is deel van die departement se besigheid en hulle laat niks aan die toeval oor nie. Hy sê werkgewers moet seker maak dat hulle op enige gegewe tydstip aan die nodige wetgewing rakende veiligheid van geboue voldoen.
“Wanneer hulle nie seker is nie, moet hulle ons nader sodat ons hulle kan help om hul huis in orde te kry.
“Inspeksies is ons daaglikse besigheid en wanneer ons enige lewensgevaarlike situasies teëkom, sal ons ongelukkig die gebou moet sluit,” het Tshitshivheli gesê.
Hy het die inspekteurs geprys wat nie die gesondheid en veiligheid van persone in gevaar stel nie en hulle aangemoedig om voort te gaan om hul werk te doen om nienakoming van die wet te voorkom.
Vlermuise gebruik dikwels geboue as ’n toevlugsoord. Omdat vlermuise gesondheidsgevare vir mense kan inhou, behoort skole op hoogte te wees van die basiese inligting oor vlermuise, hondsdolheid en die wette rakende vlermuise.
Vlermuise kan ook, soos hulle vlieg, oordraagbare siektes van die een gebied na die ander bring en selfs hondsdolheid op dié manier versprei.
In die VSA word daar onder meer aanbeveel dat skole ’n terreinspesifieke vlermuisbestuursplan ontwikkel wat opvoeding, opleiding, voorkoming en reaksiestrategieë insluit en voorsorg tref wat dit moeilik maak vir vlermuise om hulle intrek in die geboue te neem.