Skoolkinders word as “politieke ammunisie” gebruik

  • 0

Die vakbond Solidariteit gaan met ’n omvattende regsproses begin om die onderwyseres wat na ’n rasseherrie by die Laerskool Schweizer-Reneke geskors is, by te staan.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, sê hulle het die beste regspan aangestel om die saak namens die geskorste onderwyseres te hanteer.

Hermann het op Facebook geskryf dit was ’n boendoehof wat haar in die openbaar skuldig bevind het. “Die ware weergawe gaan talle hoë profiel mense met rooi gesigte laat. Hierdie is ’n onskuldige juffrou met ’n goeie hart.”

Bron: Facebook

Die rasseherrie wat die hele land aan die gons het, het ontstaan nadat ’n onderwyseres, Elana Barkhuizen, ’n foto geneem het van ’n kollega se klas waarin wit en swart kinders op die oog af van mekaar geskei is en by afsonderlike tafels sit.  Die onderwyseres in wie se klas die foto geneem is, Elsabé Olivier, wou nie met die media praat nie omdat sy deur die onderwysdepartement aangestel is.

Verskeie inwoners op die dorp is woedend omdat die onderwyseres geskors is net omdat sy ’n foto van haar kollega se klas geneem het. Kort na die voorval is daar ook ander foto’s op sosiale media geplaas waar wit en swart kinders saam by een tafel sit.

Netwerk24 berig dat die geskorste onderwyseres erg getraumatiseerd is en dat sy die dorp verlaat het omdat sy vir haar eie veiligheid gevrees het nadat die voorval deur politici aangeblaas is.

Terwyl politieke partye soos die EFF, die ANC en selfs Patricia de Lille se nuutgestigte Good-party dit as rassisties afgemaak het, het een van die swart ouers op die dorp in die bres getree vir die geskorste onderwyseres.

Bron: Facebook

Joseph Phutieagae het aan Rapport gesê sy seun was verlede jaar in haar klas en het geblom. Volgens Phutieagae kan die geskorste onderwyseres bietjie Tswana praat en sy skuif ook die nuwe  kinders wat sukkel met Afrikaans aanvanklik eenkant toe om spesiale aandag aan hulle te gee.

Hy het na afloop van verlede week se voorval ’n WhatsApp-boodskap aan haar gestuur waarin hy sê hy is jammer oor wat met haar gebeur het. Hy beskuldig die politici daarvan dat hulle die kinders vir ammunisie gebruik in ’n politieke oorlog omdat dit Meimaand verkiesing is.

Patricia de Lille is een van die politici wat op sosiale media deurgeloop het omdat sy die voorval glo vir politieke gewin uitbuit. Sy het op Facebook geskryf die meeste Suid-Afrikaners is nie rassiste nie en dat haar party ’n klag by die menseregtekommissie gaan lê oor die voorval.

“Tannie Pat se grootbek is nou stil. Sy moet verskoning vra vir die witmense en wit kinders van die klas asook die klasjuffrou wie onnodiglik gekruisig is. Neee ... weet jy sal dit nooit doen nie. Te GROOT vir tannie se skoene,” het een van die deelnemers aan die gesprek op haar Facebookplasing reageer.

Die provinsiale onderwysdepartement se woordvoerder, Freddy Sepen, het aan Eyewitness News gesê hulle sal die week met die onderwyseres gesels in wie se klas die gewraakte foto geneem is.

Hy het aan die nuusagentskap gesê die departement probeer agter die kap van die byl kom en probeer met ’n oplossing vorendag kom wat die probleem kan oplos.

Die menseregtekommissie sal die skool ook die week weer besoek. Dr André Gaum van die kommissie sê hulle sal die skool saam met Noordwes se departement van onderwys besoek as deel van hulle voortgesette ondersoek en wil graag hê dat die skool weer so gou as moontlik normaal funksioneer.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top