Skrikwekkend hoë moordsyfer in SA bekend gemaak

  • 0

Die moordsyfer in Suid-Afrika is skrikwekkend hoog en het die afgelope boekjaar met byna sewe persent toegeneem.

Die jongste misdaadsyfer wat Dinsdag in die parlement bekend gemaak is, skets ’n donker prentjie van Suid-Afrika se misdaadsituasie. Daar word gemiddeld 57 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor en die syfer het die afgelope jaar met 1 320 moorde toegeneem vergeleke met die vorige jaar.

Die Minister van Polisie, Bheki Cele, het tydens die bekendmaking van die jongste misdaadstatistiek in die parlement toegegee die moordsyfer in Suid-Afrika is skrikwekkend hoog. Hy het die eerste misdaadsyfer sedert sy jongste aanstelling as minister van Polisie aan die Portefeuljekomitee oor Polisie in die Parlement bekend gemaak.

Cele sê die polisie sal hard moet werk om die moordsyfer in Suid-Afrika te laat daal. Die moordsyfer vir 2017/218 het met 6,9% tot meer as 20 000 gestyg, waarvan 19% vroue en kinders is.

Die meeste bendeverwante moorde het in die Wes-Kaap voorgekom terwyl Gauteng bo-aan die lys is ten opsigte van moorde wat verband hou met taxi-geweld. Gauteng is ook bo-aan die lys wat betref moorde deur mense wat die gereg in eie hande neem (mob-justice), gevolg deur die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Die motiewe vir dié moorde is egter nie altyd bekend nie.

KwaZulu-Natal is die provinsie waar die meeste moorde plaasgevind het (4 382), gevolg deur Gauteng (4 233), die Oos-Kaap (3 815) en die Wes-Kaap (3 729). In die Vrystaat was daar die afgelope boekjaar 1 054 moorde, in Noord-Wes 950, Mpumalanga 922, Limpopo 911 met Noord-Kaap wat die minste aantal moorde gehad het, naamlik 340.

Mpumalanga en die Noord-Kaap is die enigste twee provinsies waar daar die afgelope jaar ’n afname in die moordsyfer was.

Oor ’n tienjaartydperk was die aantal moorde in Suid-Afrika die laagste in 2011/12 toe daar 15 554 moorde aangemeld is. Dit het egter die volgende ses jaar toegeneem tot meer as 20 000 moorde wat die afgelope jaar aangemeld is.

In totaal is daar die afgelope jaar sowat twee miljoen misdade in Suid-Afrika aangemeld. Cele het tydens ’n nuuskonferensie in Kaapstad gesê hy was skaam toe hy die misdaadstatistieke aan die president en die kabinet moes voorlê omdat dit slegte nuus is.

Bankrowe en vragmotorkapings het ook die afgelope jaar toegeneem. Die polisie se hoof van misdaadnavorsing en statistiek, Norman Sekhukhune sê die getal transito-rooftogte het vir drie agtereenvolgende jare gestyg.  Die jongste misdaadsyfer toon dat transito-rooftogte sedert 2016 toegeneem het tot 238 voorvalle wat die afgelope boekjaar aangemeld is.

Van die ander misdade wat toegeneem het, is daar seksuele misdrywe, vragmotorkapings en veral bankrooftogte wat met meer as 300% gestyg het vergeleke met die vorige jaar.

Misdade wat die afgelope jaar afgeneem het, is inbrake by huise, motorkapings, huisrooftogte en sake-rooftogte.  

Die spesiale misdaadeenheid, die Valke, het ook onder skoot gekom. Cele het gesê: “Iemand het ’n missie gehad om seker te maak die Valke is nie Valke nie en wou seker maak hy het ’n groot skêr om hul vlerke mee te knip.”  

Hy het die versekering gegee die Valke se nuwe hoof sal sorg dat die Valke weer vlerke kry en sê hy sal nie huiwer om seker te maak hulle doen weer hulle werk nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top