Die skroewe draai al stywer om die minister van justisie, Thembi Simelane, met eise dat sy haar betrokkenheid by die VBS-korrupsieskandaal moet verduidelik.
President Cyril Ramaphosa het Woensdag gesê hy het met kommer kennis geneem van mediaberigte wat bewerings van korrupsie teen Simelane bevat.
Die mediaberigte het die minister verbind met geld wat sy na bewering onbehoorlik van die VBS Mutual Bank ontvang het tydens haar ampstermyn as burgemeester van die Polokwane-munisipaliteit.
Concerning. Evidence of the loan payback needs to be provided. https://t.co/jXdmnxYyYc
— Defend Our Democracy (@ForDemocracySa) August 26, 2024
Ramaphosa het ’n gedetailleerde verslag en inligting van die minister oor die aangeleentheid versoek.
President @CyrilRamaphosa requests briefing from Minister Simelane on the VBS media reports https://t.co/VINzcHwFj0
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) August 28, 2024
Verskeie politieke partye en burgerlike organisasies het reeds hulle kommer uitgespreek oor ’n oënskynlike botsing van belange met die minister, wat toesig moet hou oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), maar nou self verbind word met bewerings wat deur die NVG ondersoek word.
ActionSA het reeds ’n dringende klag by die openbare beskermer teen Simelane ingedien na aanleiding van die onthullings, terwyl die DA ’n versoek by die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee van justisie ingedien het dat die minister voor die komitee moet verskyn om op hierdie bewerings te antwoord.
Ook die burgerlike organisasies Freedom Under Law (FUL), die Ahmed Kathrada-stigting, Judges Matter en Defend Our Democracy het met kommer kennis geneem van beweerde onwettige bedrywighede deur Simelane.
Die organisasies sê in ’n gesamentlike verklaring dit is van kardinale belang dat Simelane volledig en deursigtig op hierdie bewerings reageer.
JOINT STATEMENT: CALLS FOR CLARITY OVER ALLEGATIONS AGAINST MINISTER THEMBI SIMELANE.
Please see the joint statement by the Ahmed Kathrada Foundation (@KathradaFound ), Judges Matter (@WhyJudgesMatter), Freedom Under Law (@FreedomULaw ) and Defend Our Democracy. pic.twitter.com/5LTw0PE0IG
— Defend Our Democracy (@ForDemocracySa) August 27, 2024
Hulle sê Suid-Afrika het die afgelope paar jaar by veels te veel geleenthede gely onder die gevolge van gekompromitteerde individue wat ’n negatiewe impak op die regsektor gehad het, en onder die verwoesting van korrupsie. “Ons sien steeds die skade wat aan bestuursinstellings aangerig word deur ongeskikte individue, en hoe moeilik dit is om die skade wat hulle veroorsaak, te herstel.”
Persepsies van korrupsie en botsing van belange veroorsaak volgens hierdie organisasies aansienlike skade aan die publiek se vertroue in bestuursinstellings en die oppergesag van die reg.
Wat die druk op Simelane verhoog, is die feit dat sy nie net ’n gewone lid van die kabinet is nie, maar as minister van justisie ook die politieke hoof van die regstelsel is.
Dit beteken dat sy die wetlike mag het om waarnemende regters aan te stel, die administrasie van die howe te bestuur en die NVG se begroting te beheer.
“Die minister dra politieke verantwoordelikheid vir sleutelwetstoepassingsagentskappe wat nie net aan die voorpunt van die stryd teen korrupsie is nie, maar ook betrokke is by die ondersoek en vervolging van die ineenstorting van VBS Bank self. Sy sal ook vroeg in Oktober haar pos in die Regterlike Dienskommissie inneem by sy volgende sitting. Daar kan dus geen vraagtekens oor die minister se eerlikheid en etiek wees nie,” lui die organisasies se gesamentlike verklaring.
Hulle het ’n beroep op die minister gedoen om ten volle verantwoording te doen vir haar beweerde betrokkenheid by die voorval en sê dit sal onhoudbaar wees dat sulke ernstige aantygings teen ’n minister in so ’n belangrike portefeulje onbeantwoord bly.
Simelane het tot dusver onskuldig gepleit en gesê die lening was om ’n koffiewinkel in Sandton te koop en sy het dit sedertdien terugbetaal.
Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, sê egter in ’n verklaring die President “het met kommer kennis geneem van die mediaberigte” en “het ’n gedetailleerde verslag en inligtingsessie van die minister oor die aangeleentheid aangevra”.
Politieke waarnemers wys daarop dat Simelane se situasie Ramaphosa in ’n uiters netelige situasie plaas. Die Limpopo-provinsie, wat sentraal staan in die hele VBS-skandaal, het ’n deurslaggewende rol gespeel tydens die ANC se vorige nasionale konferensie om Ramaphosa as president van die ANC herkies te kry.