Skroewe draai al stywer om Eskom tot verantwoording te roep

  • 0

Eskom moet nie net gereed maak vir landwye protesoptogte op straat nie, maar staar ook al hoe meer regsaksies in die gesig.

Die burgerregte-organisasies AfriForum en Build One South Africa (Bosa) en die DA is die jongstes wat aangedui het dat hulle regsoptrede teen Eskom beoog, of ondersteun.

Bosa se woordvoerder, Sbu Zondi, het Dinsdag in ’n verklaring gesê die organisasie skaar hom by die breë koalisie Suid-Afrikaners wat begin het met regsoptrede teen Eskom en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan.

Die leier van die DA, John Steenhuisen, het aangekondig dat sy party ’n dringende interdik by die Hooggeregshof gaan indien om Eskom te verhoed om sy jongste toegestane tariefverhogings in werking te stel.

Vroeër de week het ’n groep prominente Suid-Afrikaners gesê indien die elektrisiteitsvoorsiening nie teen die einde van hierdie week stabiliseer nie, sal daar regstappe teen die regering gedoen word vir die oortreding van sy plig om energie te verskaf.

Die groep bestaan ​​onder andere uit die UDM, Bosa, IVP, die National Union of Metalworkers of SA (Numsa), die beleidsontleder Lukhona Mnguni, eienaar van Ikasi Farming Phiwe Mehlo, Ntsikie Mgayiya van Ntsikie Mgayiya Real Estate, die Circle, ’n vrywillige aktiewe burgerskaporganisasie met lede in Kaapstad, Oos-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal, Mastered Seed Foundation – ’n Christelike familiestigting geregistreer as ’n niewinsgewende organisasie en ’n Mthatha-gebaseerde druk- en handelsmerkmaatskappy Fula Property Investment.

Die prokureursbrief wat die groep aan minister Pravin Gordhan en André de Ruyter gerig het, kan hier gelees word.

Dinsdag het AfriForum in ’n verklaring aangekondig dat hulle ook  regsaksie teen Eskom geneem het om inligting rakende die kragverskaffer se omstrede kontrakte in te win.

AfriForum het op 12 Julie 2022 ’n aansoek ingevolge die Wet op Openbare Toegang tot Inligting (PAIA) op Eskom beteken. Die PAIA-aansoek het inligting oor aktiewe kontrakte geëis wat Eskom met verskeie diensverskaffers het, insluitend steenkoolverskaffers en vervoermaatskappye.

Eskom het op hierdie aansoek geantwoord, maar sleutelinligting is geredigeer en van AfriForum weerhou. AfriForum het op 28 September 2022 interne appèl aangeteken, asook daarop gewys dat Eskom nie voldoende verduidelik het waarom die inligting weerhou is nie. Daarom het AfriForum aangevoer dat Eskom nie aan die PAIA-wet gehoor gegee het nie. Eskom het egter nie op die interne appèl gereageer nie en AfriForum sê hulle is nou genoodsaak om regstappe te doen met die doel om ’n hofbevel te bekom wat Eskom verplig om dié inligting vry te stel.

“Die mislukking van Eskom is besig om die land onberekenbare skade te berokken. Daarom veg AfriForum in die hof vir deursigtigheid en dat die inligting oor Eskom se kontrakte bekend gemaak moet word. Indien AfriForum met die aansoek slaag en enige ongerymdhede gevind word, sal daar op die strengste moontlike wyse teen Eskom opgetree word,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud.

Die DA sê in hulle verklaring in die lig van die toenemende elektrisiteitskrisis en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se besluit om Eskom se onbekostigbare tariefverhogings van 18,65% vir die 2023/24-boekjaar en ’n verdere 12,74% vir die 2024/25-boekjaar toe te staan, het hulle hul prokureurs opdrag gegee om by die Hooggeregshof van Suid-Afrika aansoek te doen vir ’n interdik om die implementering van hierdie tariefverhoging te keer.

Steenhuisen sê Suid-Afrikaners, wat reeds ’n derde van 2022 in duisternis moes deurbring en nou belas word met onbepaalde fase 6-beurtkrag, sal nou na verwagting ook betaal vir die plundering en wanbestuur van Eskom deur buitensporige tariefverhogings.

As deel van die DA se aansoek vra hulle ook die hof om die regering te beveel om binne 30 dae ’n omvattende plan in te dien, insluitend korttermyn-, mediumtermyn- en langtermynstappe, om die energiekrisis te voorkom.

Steenhuisen sê dit het duidelik geword dat die regering nie in die belange van die burgers van hierdie land sal optree of hulle sal beskerm teen stroomonderbrekings en onbekostigbare elektrisiteitstariewe tensy hulle deur ’n geregshof daartoe verplig word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top