Skrywer se oënskynlike selfdood word ondersoek

  • 0

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

Die oënskynlike selfdood van die medeskrywer van die opspraakwekkende boek Die Seuns van Bird Island het ongekende reaksie onder Suid-Afrikaners uitgelok en die polisie is besig met ’n geregtelike ondersoek.

Die polisie sê hulle vermoed in die stadium geen gemene spel nie, maar dit gons behoorlik op sosiale media oor Mark Minnie se skielike dood. Die boek handel oor ’n beweerde pedofielnetwerk waarby die destydse minister van verdediging, Magnus Malan, na bewering betrokke was. Vriende en oud-kollegas van Malan het die bewerings ten sterkste ontken en sê daar steek geen waarheid in nie.

Twee van die boek se hoofkarakters, die gewese minister van omgewingsake Johan Wiley, en Dave Allen het ook hulle eie lewens geneem.

Netwerk24 berig dat Minnie volgens ’n polisiebron Maandagoggend na ’n vriend se kleinhoewe naby Port Elizabeth gegaan en gesê het hy wil wegkom van alles en almal. Sy lyk is later op die kleinhoewe aangetref met ’n vuurwapen langs hom. Die polisie het met ’n geregtelike ondersoek begin, maar gesê hulle vermoed geen misdaad nie. Die vriend het glo op Minnie se liggaam afgekom met ’n skietwond in sy kop en ’n vuurwapen langs hom. Die polisie was wel Dinsdag nog op soek na Minnie se selfoon asook sy motor.

Die boek se opdraggewende redakteur, Maryna Lambrecht van Tafelberg Uitgewers, het haar skok uitgespreek oor Minnie se dood. Sy het aan News24 gesê Minnie was opgewonde oor die boek se publikasie en die nuwe leidrade wat dit opgelewer het. Sy sê hy was vasbeslote om die saak verder te ondersoek en het nou saamgewerk met ’n aantal mense wat met nuwe inligting na vore gekom het.

Die joernalis en assistentredakteur van Daily Maverick, Marianne Thamm, wat die boek se voorwoord geskryf het, het op Twitter gesê sy is verpletter deur die nuus en dat iets omtrent Minnie se dood nie klop nie.

Sy het Dinsdag in Daily Maverick geskryf verskeie ander slagoffers van die beweerde pedofielnetwerk het glo na vore gekom sedert die boek se publikasie. Daily Maverick beweer ook dat daar verdere ondersoek ingestel word na ’n “staatsgesanksioneerde” eenheid wat tydens die apartheidsjare moontlik gebruik is om skynbare selfmoorde na te maak om dit na selfdood te laat lyk.

Die reaksie op sosiale media oor Minnie se dood was uiteenlopend. Verskeie mense was skepties dat dit selfdood is terwyl ander gewaarsku het teen samesweringsteorieë.

Minnie se stiefdogter Tamsin Amy het haar skok uitgespreek oor haar stiefpa se dood. Sy het op Facebook gesê sy weet nie waar om te begin as sy daaroor moet praat nie. Amy wat tans in Sjina is, sê hoewel Minnie nie haar eie pa was nie, het hy haar soos sy eie dogter behandel. “Ek het letterlik my hart voel breek en uitmekaar val nadat ek die nuus van my familie oor die foon ontvang het,” het sy op Facebook geskryf.

 

News24 berig dat die skrywers van die boek vir hulle lewe gevrees het sedert die boek twee weke gelede op die rak verskyn het. Hulle het glo dreigemente en anonieme navrae oor hul doen en late ontvang sedert die boek verskyn het. Volgens News24 se bronne het Minnie Vrydag met een van sy bronne vergader en was hy van plan om Maandag nog een te ontmoet.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top