Slaan SA ’n "foutbal" met Anderson en Klaasen se Wimbledon-oorwinnings?

  • 0

Dit was ’n goeie week vir Suid-Afrika op die sportveld, maar nie in enige van die voorspelbare sportsoorte waarin die land gewoonlik presteer, soos rugby, krieket, gholf of in atletiek nie. Hierdie keer was dit op die tennisbaan – en wel by Wimbledon.

Die groot nuus was die verrassende wyse waarop Kevin Anderson, ’n  speler wat bekend is vir sy wipplank-vertonings, kompleet asof hy nie oor sogenaamde grootwedstrydtemperament beskik nie, met die “koning van Wimbledon”, Roger Federer, afgereken het.

Links: Kevin Anderson (Foto: si.robi - Anderson WM17 (5) [CC BY-SA 2.0] via Wikimedia Commons). Regs: Roger Federer (Foto: Roger_Federer_(26_June_2009,_Wimbledon)_2.jpgSqueaky Knees from Cornwall, UK derivative work: TW-RF (talkRoger_Federer_(26_June_2009,_Wimbledon)_2.jpg [CC BY 2.0] via Wikimedia Commons)

Anderson het Woensdag op dié wyse die eerste Suid-Afrikaanse enkelspel-speler in 35 jaar geword wat tot die semi-finale by Wimbledon kon deurdring.Voorheen, in 1983, was dit Kevin Curren.

Dit was vir hom ’n  “eer” om die baan met Federer te deel, het Anderson agterna getwiet. Ook hierin is ’n spesiale Suid-Afrikaanse konneksie: Federer se ma is ’n gebore Suid-Afrikaner. (Nóg ’n aanhaling uit Anderson se twiet bevat ook ’n gewilde Suid-Afrikaanse Engelse woord – nice: “Thanks to all the fans for your support and nice messages,” lui dit.)

So oorweldigend was die opgewondenheid oor die Anderson-oorwinning dat dit wil voorkom asof weinig mense, selfs in die media, bewus was van die prestasie wat ’n ander Suid-Afrikaanse tennisster die vorige dag behaal het. 

Raven Klaasen (Foto: Sirobi [CC BY-SA 3.0] via Wikimedia Commons)

Die dubbelspel-speler Raven Klaasen en sy spanmaat, Michael Venus van Nieu-Seeland, het ná ’n vier uur-lange stryd met Jamie Murray van Brittanje en Bruno Soares van Brasilië afgereken. Dieselfde uithouvermoë het aan Anderson sy oorwinning besorg.

Maar die verskil tussen die twee prestasies is dat die een (Anderson s’n) soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het – dit was immers Federer wat aan die verloorkant was, terwyl die ander een (Klaasen s’n) net hier en daar ter sprake gekom het.

Toegegee, ek het self per abuis op Klaasen se wedstryd afgekom. Dit was gedurende impulsiewe kanaalspronge met die televisie se afstandbeheer, want daar was nog tyd oor voor die Sokkerwêreldbeker-halfeindstryd tussen Frankryk en België sou afskop. Maar toe bly ek vasgenael voor die TV om Klaasen en Venus se wedstryd te ondersteun – en hulle het dit beslis nodig gehad omdat Murray en Soares regdeur na die beter paar gelyk het.

Die ironie moet ’n mens nie ontgaan nie: Suid-Afrika en Nieu-Seeland is geswore vyande op die sportveld, veral wat rugby betref, en dalk ook krieket. Hier was twee tennisspelers van die twee lande egter nou in dieselfde span wat, tussen slukkies water en klein happies piesang deur, vir Brittanje en Brasilië kaf gedraf het.

Die uiteenlopende wyse waarop die Suid-Afrikaanse publiek en media, en regering, op onderskeidelik Klaasen en Anderson se oortuigende oorwinnings gereageer het, het egter opnuut die “foutbal” in die SA-samelewing uitgewys.

Miskien het dit met ’n opregte oorsig te make: dubbels by Wimbledon is uiteraard nie so gewild soos die enkelspel nie. Wat nog te sê as jy Kgothatso Montjane is wat aan die gestremde afdeling deelneem – selfs al is jy die eerste Suid-Afrikaanse swart vrou wat gekwalifiseer het!

Kgothatso Montjane (Foto: Anna Vasalaki [CC BY-SA 4.0] via Wikimedia Commons)

Nogtans val dit ’n mens op dat tot die President, Cyril Ramaphosa, die leier van die amptelike opposisie, Mmusi Maimane van die DA, en die ministerie van sport se woordvoerder, Mickey Modisane, omtrent onmiddellik op Anderson se oorwinning gereageer het.

Modisane het aan die nuusagentskap AFP gesê: “We have always considered him [Anderson] an ambassador and he continues to wave the flag. We are very excited.”

Geen melding van Klaasen en Montjane nie. Indien dit enige troos is, was dit goed om te sien dat hulle darem naskrifte was in twiets deur Ramaphosa en Maimane nadat Anderson’n ieder en ’n elk verras het.

Ramaphosa: “Congratulations to Kevin Anderson for reaching the men’s singles semi-finals and to Raven Klaasen for reaching the men’s doubles semi-finals at #Wimbledon. All the best to Kgothatso Montjane who’s going to become the first SA black woman to play at Wimbledon. We are proud of you all.”

Maimane: “Congratulations to Kevin Anderson and Raven Klaasen for flying the South African flag high at Wimbledon.”

Beteken dit dat hulle meer waarde heg aan Anderson se prestasie omdat die mans enkelspel as die vernaamste item by Wimbledon beskou word? Beteken dit selfs die sportministerie hou nie noodwendig al die gebeure rondom Suid-Afrikaanse sportlui dop nie – veral omdat hulle dikwels, soos met tennis of atletiek, in die buiteland gevestig is?

Of wys die vinger na die media op wie tog nog staat gemaak word om die eerste verteller en optekenaar van die geskiedenis, ook sportgeskiedenis, te wees?

Hoe ookal, as jy in ag neem dat Klaasen ook in 2016 na die halfeindronde van Wimbledon deurgedring het en dat geen ander swart SA-vrou voor Montjane haar verskyning op die grasbane van The All England Club gemaak het nie, is hulle prestasies in ’n sekere sin groter as Anderson s’n.

Maar sáám het Montjane, Klaasen en Anderson, die land se hart vinniger laat klop en aan die ontslape vader van die nasie, oudpresident Nelson Mandela, in sy 100ste verjaardagmaand ’n vroeë verjaardaggeskenk besorg. Die publiek, media en regering se “foutbal” ten spyt.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top