Slagting in Suid-Afrikaanse media laat joernaliste verpletterd en verslae

  • 0

..............

“Ander publikasies wat geraak word, is die Afrikaanse en Engelse weergawes van die koerant Son op Sondag wat gesluit word, asook verskeie streekskoerante. Die redaksionele produksie van tydskrifte soos SarieFair Lady en Weg! sal uitgekontrakteer word.”

..............

Suid-Afrikaanse joernaliste het met skok en woede reageer op wat bestempel word as ’n slagting in die Suid-Afrikaanse mediabedryf. Die mediareus Media24 het bekendgemaak dat die maatskappy vyf tydskrifte en twee koerante wil sluit en die getal uitgawes van maandelikse tydskrifte wil verminder.

Een van die land se oudste en bekendste dagblaaie, Volksblad, verdwyn ook as gedrukte koerant en sal slegs vyf dae per week elektronies beskikbaar wees.

Foto: Canva.com

“Ons voel gruwelik in die steek gelaat en in die tande geskop. Ek is verpletterd. Wat meer kan ek sê?” het ’n voormalige redakteur van Volksblad, Hennie van Deventer, op Facebook geskryf.

Meer as 500 werknemers van Media24 kan hul werk verloor weens die maatskappy se besluit om die mes in te lê.

Volksblad en Die Burger Oos-Kaap se gedrukte uitgawes bly in die slag, terwyl verskeie tydskrifte aansienlik afgeskaal gaan word en ander gaan sluit.

Van Deventer sê sy hart bloei vir al sy kollegas van alle generasies, en ook vir die huidige span wat dapper bly stry het tot die einde.

“My hart bloei vandag. Ons is verenig in ons ongeloof en diepe verslaenheid oor die ondenkbare wat in ons leeftyd waar geword het. Laat Naspers so ryk wees soos hy wil. Sprekende as Volksblad-man, beteken sy potte vol goud vir my niks.”

Hy sê ’n groot boom in die Suid-Afrikaanse perswese kantel met die verdwyning van Volksblad as gedrukte koerant. “Erfenis is daarmee heen. Vir daardie koerant was ek lief soos vir ’n eie naaste. Die 12 jaar as sy redakteur was goue jare. Dit sal ek nooit vergeet nie.”

Ander publikasies wat geraak word, is die Afrikaanse en Engelse weergawes van die koerant Son op Sondag wat gesluit word, asook verskeie streekskoerante. Die redaksionele produksie van tydskrifte soos Sarie, Fair Lady en Weg! sal uitgekontrakteer word. Die vlagskipweekblaaie Huisgenoot, You en Landbouweekblad sal steeds intern uitgegee word.

Die uitvoerende hoof van Media 24, Ishmet Davidson, sê die koronaviruspandemie het die inkrimping van die gedrukte media verhaas. Hy sê die sirkulasie en advertensie-inkomste het sedert April skerp gedaal, en daar is geen vooruitsig dat die bedryf sal kan herstel nie. Hy sê die enigste opsie is om sommige tydskrifte en koerante te sluit, te verminder of uit te kontrakteer. Volgens Davidson sal groter klem gelê word op digitale media soos News24 en Netwerk24 wat die afgelope maande buitengewone groei getoon het.

Volgens Van Deventer is dit brutale opportunisme van Media24 om agter die koronavirus te skuil as rede vir die stap. Hy sê die maatskappy skuil agter die “COVID-skerm om onheilige planne uit te voer, kamma weens die ‘nuwe omstandighede’. Asof Naspers dit nie oor en oor kan bekostig om ’n monument in stand te hou vir die taal en kultuur wat hom op die wenpad geplaas het nie.”

Volksblad se redakteur, Gert Coetzee, het die nuus Dinsdag in ’n e-pos aan sy intekenare bekend gemaak. “Hiermee neem ek vrymoedigheid om direk tot die punt te kom: Soos reeds aangekondig, verskyn die laaste uitgawe van Volksblad in papierformaat op 8 Augustus en vanaf 10 Augustus verskyn die vyf uitgawes op weeksdae net in digitale formaat, wat op ons digitale tuiste, Netwerk24, beskikbaar is.”

Hy sê die rede vir hierdie ingreep is eenvoudig. “Die COVID-19-pandemie het die bestaande dalings in ons reeds kwesbare drukmedia verhaas en dit het onvolhoubaar geword om Volksblad in papierformaat in die Vrystaat en Noord-Kaap uit te gee. Voorts kos papier, drukwerk en brandstof te veel om ’n streekuitgawe met ’n relatief klein sirkulasie oor so ’n groot gebied te versprei. Lesers kry ook toenemend hul nuus aanlyn en ondernemings adverteer al hoe meer hul produkte digitaal.”

Coetzee sê in sy e-pos toe die sakemodel teenoor die vernietigende uitwerking van die pandemie op die ekonomie opgeweeg is, het dit geblyk dat dit onwaarskynlik is dat sake in die afsienbare toekoms sou verbeter of herstel. “Ons het dus geen ander keuse nie as om ons besigheid te herstruktureer om die verliese in ons drukmedia-portefeulje te beperk. Terselfdertyd is ons besig om ons besigheid in die algemeen te omvorm namate ons die oorgang maak, nou vinniger as ooit tevore, na ’n aansienlik meer digitale toekoms.”

Volgens Van Deventer wou Davidson dit egter al vier, vyf jaar gelede doen. Hy sê daar was ’n geweldige oorlog agter die skerms gewees. “Mense soos Ton Vosloo en Salie de Swardt was gelukkig nog daar om aan die koerant se kant te veg. Noudat hulle weg is, tel geestelike skatte niks. Net aardse skatte wat by die nuwe Naspers gewig dra.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top