Slawerny in die kerk, misdaad uit die tronk en ’n gay monarg?

  • 0
Slawernyverlede en die kerk in die kollig

Die NOS berig dat daar binnekort navorsing gedoen gaan word oor die rol van die kerk en Nederland se slawernyverlede. Die destydse Hervormde Kerk in Nederland was nou verbonde met die koloniale verlede, aangesien dit destyds die staatskerk was. Een van die navorsers, Dienke Hondius, sê die slawehandel en die kerk se betrokkenheid daarby is ’n veelsydige geskiedenis. “We gaan de kerkelijke archieven vanaf de 16de en 17de eeuw bekijken. Wat mij betreft doen we niet alleen onderzoek naar de christenen, maar kijken we ook wat breder, na alle godsdiensten.”

’n Voorbeeld van die spore van die slawernygeskiedenis is die praalgrafte van slawehandelaars in Nederlandse kerke. Die handelaars en eienaars van plantasies het groot bedrae geld aan die kerk geskenk. Daar sal ook gekyk word na die geskiedenis van die doop. “Sommige kinderen van wette eigenaren en tot slaafgemaakte vrouwen werden gedoopt. En in de meeste gevallen werd dat kind of de moeder niet vrij,” sê Hondius. Sy beklemtoon ook dat daar teenstanders van slawerny was. “Het is echt niet zo dat iedereen erbij betrokken was. Ook christenen hebben zich tegen de slavernij gekeerd.” Al hierdie aspekte sal ondersoek word.

Die skriba van die Protestantse Kerken Nederland (PKN), René de Reuver, sê hy hoop dat lesse uit die geskiedenis geleer kan word. Die PKN gaan aan die ondersoek meewerk.

Twee koninginne is ook ’n moontlikheid

Volgens die Nederlandse kabinet hoef kroonprinses Amalia nie afstand te doen van die troon selfs al wil sy liewer met ’n vrou trou nie. Demissionêre premier Rutte het in antwoord op ’n vraag in die kabinet gesê hy sien geen probleem daarmee om ’n wet in te voer wat dit moontlik sal maak dat ’n kroonprins of -prinses met iemand van dieselfde geslag mag trou en hul plek as monarg behou nie. Die vrae in die kabinet volg na die publikasie van die boek Amalia, de plicht roept, waarin die hipotese bespreek word dat die prinses afstand van die troon sou moes doen sou sy met iemand van dieselfde geslag wou trou. Rutte wou niks sê oor die vraag wat die status van kinders uit so ’n huwelik sou wees nie. Hy sê egter dit is voortydig om nou oor so ’n kwessie te bespiegel. “Het is niet dienstig om nu vooruit te lopen op een dergelijke weging. Dit is te zeer afhankelijk van de feiten en omstandigheden van het specifieke geval, die, zoals je ook terugkijkend kunt vaststellen bij het familierecht, door de tijd heen kunnen veranderen.”

Misdaadbaas Ridouan Taghi reël glo misdaad uit die tronk

Een van die advokate van die misdaadbaas Ridouan Taghi, Youssef T, is verlede week in hegtenis geneem onder verdenking daarvan dat hy met Taghi ’n moontlike ontsnapping uit die tronk en dwelmhandel bespreek het. Taghi is die hoofverdagte in die Marengo-saak, waarin 17 verdagtes verantwoordelik gehou word vir reeksmoorde en pogings tot moord tussen 2015 en 2017, en word in ’n ekstra-beveiligde inrigting aangehou. Youssef T is die neef van Taghi en het hom gereeld in die tronk besoek en deur ’n glaspaneel met hom gepraat. Dit blyk nou dat die twee geheime tydens hierdie sessies boodskappe oor misdaad uitgeruil het. Behalwe dat hulle vermoedelik oor dwelmhandel en ’n moontlike ontsnapping gepraat het, is die openbare ondersoeker van mening dat Taghi deur middel van sy advokaat met dwelmhandel voortgegaan het. Dit blyk ook dat die twee persoonlike besonderhede oor bewaarders by die inrigting gedeel het. Die vermoorde Peter R de Vries, wat die kroongetuie Nabil B in die Marengo-saak ondersteun het, was ook bewus van die situasie en het dit volgens Het Parool ook vantevore aangemeld. In dié stadium is daar nog geen aanduiding dat Taghi op enige manier by die moord op De Vries betrokke was nie.

COVID-19-besmettings styg weer

Die NOS berig dat die getal besmettings met die koronavirus in Nederland die afgelope week met ’n yslike 48 persent gestyg het. Die afgelope week is 17 832 nuwe besmettings aangemeld teenoor 12 016 die week vantevore. Die getal positiewe toetse is ook aan die styg. Dit dui daarop dat die virus aan die begin van die wintermaande besig is om verder te versprei. Ook die opnames in hospitale van mense met COVID-19 is aan die toeneem, ondanks die hoë graad van inentings. Vir die eerste keer sedert 22 September is daar weer meer as 500 mense met COVID-19 in die hospitaal.

Die Covid-toegangsbewys mag bly

Intussen het ’n regter in Den Haag beslis dat die kontrolering van besoekers aan onder meer restaurante, teaters en kuierplekke nie diskriminerend is nie en derhalwe geldig is, berig die NOS. Die uitspraak volg in weerwil van openbare teenstand en betogings die afgelope paar weke ná die invoer van die koronapas of Covid-toegangsbewys. Advokaat Bart Maes het ’n dringende hofaansoek teen die Nederlandse staat ingedien om die invoer van kontroles deur middel van QR-kodes “onwettig, strafbaar en discriminerend” te verklaar. Volgens Maes is die maatreël in stryd met internasionale verdrae en die Grondwet. Die regter het egter nie saamgestem nie en het beslis dat die staat “op begrijpelijke wijze” die noodsaak van die maatreëls verduidelik het en dat die invoer van die toegangsbewys die risiko op besmetting verklein. Die regter het ook in sy uitspraak gesê dat die toegangsbewys nie in stryd met die verbod op diskriminasie is nie, omdat dit vir almal ouer as 13 jaar geld. Mense kan ook kies of hulle hul wil inent of ’n bewys wil toon dat hulle nie die virus onder lede het nie.

Talle bly maskers dra ondanks versoepeling

Sedert 1 Oktober is dit in België nie meer nodig om ’n masker te dra nie, berig VRT. Uit ’n ondersoek blyk dit egter dat werkgewers dit steeds verkies dat personeel dit wel doen uit vrees vir siekte en ’n moontlike vierde golf. Volgens die ondersoekburo Liantis is dit opmerklik dat slegs 10% van werkgewers wil voortgaan met die reëling dat werknemers by die huis mag bly werk en dat slegs ’n beperkte groep op kantoor werk. Meer as 90% van werkgewers wil weer spanbyeenkomste organiseer. Indien werkgewers glo dat die risiko van besmetting te groot is, kan hulle volgens wet personeel steeds verplig om maskers te dra. “Dan is het aangewezen om hier goed over te communiceren met je medewerkers en uit te leggen waarom je bepaalde keuzes maakt,” sê Matthias Debruyckere, regskenner by Liantis. “Een werkgever moet immers de gezondheid op de werkvloer waarborgen.”

Stygende energiepryse onder die loep

Die styging in energiepryse in Europa het geen keer nie en die winter het nog nie eens begin nie. Dit het daartoe gelei dat lande soos Frankryk by die mark ingegryp het en ’n beperking op stygende pryse ingevoer het. Die NOS berig dat die Nederlandse kabinet nou ook met “gerichte maatregelen” iets wil doen om die stygende pryse die hoof te bied. Demissionêre minister van ekonomiese sake Stef Blok sê ná ’n vergadering met betrokke partye dat die kabinet die probleem baie ernstig opneem en as iets nie gedoen word nie, kan verbruikers skerp stygings in hul energierekeninge te wagte wees. Blok sê daar word verskeie opsies oorweeg om “een deel van de prijsstijgingen op te vangen”. Hy waarsku egter dat die ingryping uitvoerbaar moet wees. Van die opsies wat oorweeg word, sluit in om te kyk of verbruikers deur belasting vergoed kan word of dat BTW tydelik verlaag kan word. Daar word ook na beter isolering van huise gekyk. Na verwagting sal die kabinet teen Vrydag ’n aankondiging in dié verband maak.

Meisie van 15 red man wat verstik

Die 15-jarige Aline van den Berghe het verlede Donderdag ’n man se lewe gered toe hy by ’n restaurant aan ’n stuk vleis begin verstik het. Van den Berghe was saam met haar ouers in ’n restaurant in Sint-Martens-Latem in België. Sy sê sy wou eers nie saam met haar ouers gaan eet nie, omdat sy die volgende dag ’n toets moes skryf, maar besluit toe om tog te gaan. “Toen ik de man helemaal blauw zag worden, ben ik ernaartoe gesprongen. Ik voelde geen polsslag meer, dus ben ik direct op mijn knieën gegaan en ben ik gestart met de reanimatie. Op een zeker ogenblik was ik moe en dan heeft er iemand anders overgenomen tot de ziekenwagen er was,” sê Aline, wat ’n noodhulpkursus op skool gedoen het. Die slagoffer is nog in die hospitaal, maar hy is buite lewensgevaar. Aline sê sy stel baie belang in hoe die menslike liggaam werk en wil graag later iets in ’n mediese rigting studeer.

Mej Wêreld Nederland onttrek haar aan kompetisie

AD.nl berig dat die Nederlandse skoonheid Dilay Willemstein wat Nederland by die Mej Wêreld-kompetisie in Puerto Rico sou verteenwoordig het, haar van die kompetisie onttrek het omdat sy haar nie teen die koronavirus wil laat inent nie. Inentings is verplig vir deelname aan die kompetisie.

Willemstein het byna 19 000 volgers op Instagram en is in Julie vanjaar as Mej Wêreld Nederland gekroon. Dit was Dilay se droom om aan die kompetisie deel te neem. “Ik heb er dus goed over nagedacht en overwoog het wel om die prik te nemen, maar op een gegeven moment bedacht ik me: Ik ben hier nog helemaal niet klaar voor. Ik voel me er niet goed bij. Ik weet niet of ik later die prik wel zal nemen.”

Met Dilay se onttrekking sal Lizzy Dobbe uit Den Helder Nederland in Puerto Rico verteenwoordig. Dobbe het tweede gekom in die Mej Wêreld Nederland-kompetisie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top