Sleg vir SA as ANC nou slae kry by stembus

  • 0

Een van die slegste scenario’s vir Suid-Afrika sal wees as die ANC in die komende verkiesings minder as 50 persent van die stemme kry. So sê die Uitvoerende Sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Konstitusie (CASAC), Lawson Naidoo. Naidoo het vier moontlike scenario’s geskets hoe die uitkoms van 8 Mei se verkiesing Suid-Afrikaners sal raak.

Lawson Naidoo

Dit was tydens ’n gesprek by die gespreksgroep DINK in Somerset-Wes. CASAC is ’n nie-regeringsorganisasie wat hom beywer vir die beskerming van die land se grondwet.

Scenario een is ’n uitslag waarin die ANC meer as 60 persent van die stemme op hom sal verenig. Dit sal volgens Naidoo die beste uitkoms vir die land wees onder die huidige omstandighede. Indien die ANC minder as 60 persent van die stemme kry, sal dit die swakste verkiesingsuitslag wees wat die ANC nog ooit gehad het sedert die land in 1994 ’n demokrasie geword het. Hy voorsien nie dat die ANC minder as 60 persent van die stemme sal kry in vanjaar se verkiesing nie.

Naidoo sê as die ANC meer as 60 persent van die stemme kry sal dit president Cyril Ramaphosa se hand sterk om ontslae te raak van diegene in die ANC wat steeds in die Zuma-kamp is en so ook korrupsie vas te vat.  As die ANC minder as 60 persent van die stemme kry, sal die Zuma-faksie in die ANC die blaam voor Ramaphosa se deur lê. Dit skep die moontlikheid dat hy as president herroep kan word deur sy eie party soos wat destyds met Thabo Mbeki gebeur het. Dit sal beteken dat die Zuma-faksie weer beheer sal oorneem van die ANC wat slegte nuus sal wees vir Suid-Afrika.

Volgens Naidoo is die slegste scenario een waar die ANC gedwing sal word om ’n koalisieregering met die populistiese EFF te vorm.

Met verwysing na die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die grondwet om grond sonder vergoeding te onteien, het Naidoo gesê dit is nie nodig om die grondwet te verander nie omdat daar reeds voorsiening gemaak word dat grond onder bepaalde omstandighede sonder vergoeding onteien kan word.

Bron: The Paternoster Group

Volgens Naidoo moet Suid-Afrika die volgende vyf jaar maksimaal gebruik om toe te sien dat die land se grondwet in elke moontlike opsig beskerm en behoorlik uitgevoer word. Hy voorsien nie dat Ramaphosa vir ’n tweede termyn as president van die land verkies sal word nie. Daarom is dit volgens hom van die uiterste belang dat die nodige strukture nou in plek gekry word om seker te maak Suid-Afrikaners se grondwetlike regte word beskerm asook die onafhanklikheid van die Openbare Beskermer en ander “Hoofstuk 9”-instellings soos wat die grondwet vereis.

Wat hom die meeste bekommer is die apatie wat daar by die land se jeug is om hulle as kiesers te laat registreer. Minder as die helfte van die land se jong stemgeregtigde kiesers tussen die ouderdom van 18 en 29 jaar het hulle vir vanjaar se verkiesing laat registreer. Dit is minder as in enige vorige verkiesing.

 

Naidoo sê dit is ’n uiters kommerwekkende tendens. “As die land se jeug nie vertroue het in die demokratiese prosesse van die land nie, voorspel dit groot moeilikheid vir die toekoms.”

Hy voorspel dat die ANC op die langer duur op ’n kreeftegang sal gaan en uiteindelik die mag om alleen te regeer sal verloor. Net soos wat die Indian National Congress wat Indië na onafhanklikheid gelei het met Mahatma Gandhi stelselmatig agteruit geboer het totdat hulle die mag verloor het.

Naidoo sê die party wat die mag by die ANC oorneem of saam met hom in ’n koalisie sal regeer, is nog nie gebore nie. Hy sê dit sal beslis nie die EFF of DA wees nie. Daar sal ’n splinternuwe party tot stand kom wat beteken daar sal oor die volgende paar jaar ’n herposisionering in die Suid-Afrikaanse politiek plaasvind.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top