Naby Ceres in die Koue Bokkeveld
Foto: Patrick van Wyk
Groot dele van die Wes- en Oos-Kaap is onder ’n sneeukombers bedek na die eerste sneeuval die seisoen en binnelanders kan hulle voorberei op ysige weer die res van die week.
In die noordelike dele van die Oos-Kaap juig die boere nadat die eerste goeie reën in bykans sewe jaar damvlakke laat styg het.
By Nieuwoudtville in die Bokkeveld het van die watervalle wat twee jaar laas geloop het oor die kranse gestroom.
Foto’s van die sneeubedekte landskap het soos ’n veldbrand oral op sosiale media verskyn na die welkome wintersneeu. @ReenvalSA is een van die platforms op sosiale media wat foto’s van die sneeu geplaas het.
Verskeie passe was gesluit as gevolg van die sneeu en motoriste is gewaarsku om versigtig te wees op die gladde paaie.
Op Sutherland en Porterville het dit kompleet soos die spreekwoordelike wit Kersfees gelyk terwyl die Bergrivier by die Paarl weer in volle stroom is. Sutherland, wat een van die koudste plekke in die land kan word, se sterrekykkoepels was toe onder die sneeu.
Die weerburo voorspel ysige weer vir die res van die land namate die kouefront wat die Kaap getref het, verder binneland toe beweeg. Van die koudste plekke vir die res van die week sal volgens die weerburo Bloemfontein en Ficksburg wees waar die temperatuur tot so laag as -9°C kan daal.
Die Suid-Afrikaanse weerdiens het mense gewaarsku om hulle plante en diere te beskerm teen die erge koue wat op pad is. Johannesburgers kan hulle regmaak vir koue net bokant vriespunt terwyl Pretorianers ’n ietwat warmer 4°C kan verwag.
Die Facebook-groep Reënval in SA sê hulle verwag ryp oor groot dele van die land en het ’n volledige kaart met landswye temperature op hulle webwerf geplaas.
In Kaapstad het die informele nedersettings kwaai deurgeloop onder die swaar reën. Volgens Netwerk24 is bykans 4 000 huise in Khayelitsha, Philippi en Macassar op die Kaapse Vlakte oorstroom.
Die Eersterivier in Stellenbosch
Foto: Gerrit Rautenbach
Swaar reën het sedert Vrydag in groot dele van die Wes-Kaap geval. Volgens ’n weerkundige, Tbabisile Nhleko, is sowat 124 millimeter binne 24 uur op Ceres aangeteken, met 51mm in Stellenbosch, 65mm in die Grabouw-omgewing en 31mm in Kaapstad, het RSG berig. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê geen verdere reën word vir die res van die week in dié provinsie voorspel nie.
Kaapstad se hoofopgaardamme is gemiddeld reeds meer as 48% vol. Dit is byna dubbel soveel as verlede jaar dié tyd toe die damme minder as 25% vol was. Die gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap was Maandag 41,5% teenoor 23,6% verlede jaar in dieselfde tyd. Die Bergrivierdam is reeds ’n stewige 78% vol teenoor 35% verlede jaar.
Buro: NB