Groot dele van die Wes-Kaap is die afgelope week met ’n sneeukombers bedek. Selfs Tafelberg se piek, waar dit selde sneeu, is op die vooraand van die lente in wit getooi.
Die Wes-Kaap is die afgelope winter geteister deur hewige storms en buitengewoon hoë reënval. Die ysige koue het die provinsie se inwoners die afgelope week behoorlik laat bibber.
Behalwe op Tafelberg is sneeuval onder andere ook in Cederberg, Tulbagh en Franschhoek aangemeld. Sneeu is ook op verskeie bergpieke in die Boland opgemerk in die omgewing van Stellenbosch en Somerset-Wes.
Cape Town - SNOW on Table Mountain pic.twitter.com/6QvcqWCxHg
— TrafficSA (@TrafficSA) August 28, 2024
Nadat daar Dinsdag bespiegel is of dit werklik op Tafelberg gesneeu het, het die kabelspooroperateurs op hulle Facebook-blad bevestig dat dit wel die gevaal was.
Megan Taplin, bestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, en die Tafelberg-kabelspoor het bevestig dat sneeu op die gewilde toeriste-aantreklikheid geval het.
“Dis amptelik! Dit sneeu op Tafelberg! Die berg is bedek met ’n pragtige laag sneeu, wat ons asemrowende landskap in ’n winterwonderland verander,” het die inskrywing gelui.
Hulle het sommer ook die geleentheid gebruik om Tafelberg te bemark en die publiek gevra om vir hierdie ikoniese landmerk te stem as een van die wêreld se mees gesogte bestemmings, sodat Tafelberg wêreldwyd die erkenning kry wat dit verdien.
Na ’n rekordreënvalsyfer vir Julie en meedoënlose reënval hierdie winter het stormsterk winde sedert Maandagmiddag vir heelwat skade in die Skiereiland gesorg.
SANParke het ook foto’s en videomateriaal van die sneeuval op sy Facebook-blad gedeel.
"Not everyday, or even every winter, that you see snow on Table Mountain! 😃🤗🥶❄️🌨🏔
P.s. apologies for the low quality, taken with my phone 🤭😁"
__
📷 Christoff Theunissen Photography 📍 #TableMountainNationalPark #LiveYourWild #WildIsOurBackyard pic.twitter.com/ljtR7L2Jvr— SANParks (@SANParks) August 28, 2024
Die kragtige winterstorm het ’n pad van verwoesting in groot dele van die provinsie gelaat. Sterk winde en sneeu het wydverspreide ontwrigtings en kragonderbrekings veroorsaak.
Nooddienste in stede is geaktiveer om bome wat omgewaai het, te verwyder en die geaffekteerde gebiede skoon te maak.
’n Oorhoofse bord by die hoofingang na Access Park digby die Kenilworth-sentrum het Dinsdag omgeval as gevolg van die sterk winde. Geen beserings is aangemeld nie; ’n verbygaande motoris is rakelings gemis.
Cape Town - Wet and Windy: Structural Collapse at Access Park pic.twitter.com/4seA6XTIMy
— TrafficSA (@TrafficSA) August 27, 2024
“Die ongunstige weer van die afgelope dag of twee het ’n impakte gehad, soos berigte van omgevalle bome in Tierboskloof, Kenilworth en Bishop Lavis,” het Sonica Lategan, woordvoerder van die Kaapstadse ramprisikobestuursentrum gesê.
Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens het Julie gespog met van die hoogste reënvalsyfers in baie jare.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Dinsdag ’n dringende opgradering uitgereik aan die weerwaarskuwing vir skadelike winde, van geel vlak 2 tot oranje vlak 6, wat onmiddellik van krag was vir sekere dele van die provinsie. Die SAWD het dit later terug na vlak 2 afgeskaal.
Dit het gevolg kort op die hakke van ’n ysige koue front wat Maandag verby Kaapstad beweeg het en massiewe deinings van meters hoog teweeggebring het, aldus Wavescape.
Foto’s van die sneeubedekte bergpieke wat aan die Europese winters herinner, is wyd op sosiale media gedeel.
Local photographer, Francois Lombard, captured these images at the Jonkershoek Nature Reserve in Stellenbosch yesterday 🌨️❄️🩵 pic.twitter.com/aclwQM56fi
— Stellenbosch Municipality (@StellMun) August 29, 2024
Die SAWD het Woensdag ’n maksimum temperatuur van 12 °C voorspel nadat Kapenaars wakker geword het in die ysige toestande met ’n ligte bedekking van sneeu bo-op Tafelberg.
In teenstelling met die Wes-Kaap het ander dele van die land, soos Pretoria, die afgelope week koel tot warm sonnige weer deur die week ervaar, met ’n maksimum van 29 °C en slegs ’n geringe kans op reën Vrydag.
Volgens die weerdiens sal ’n koue front Gauteng egter Vrydag, 30 Augustus tref, wat die temperatuur tot 6 °C sal laat daal, met ’n voorspelde maksimum van 17 °C in die provinsie.
Die volgende koue front sal die sentrale dele van die land na verwagting teen die einde van volgende week tref, maar geen reën word tot 10 September in dié deel van die land verwag nie.