Sodat die mense se stemme gehoor kan word

  • 0

Die DA het goeie rede gehad om sy 25-jarige bestaansjaar op Dinsdag 24 Junie te vier as ’n kwarteeu van “politieke progressie” soos wat dit in ’n mediaverklaring gestel is.

Partyleier John Steenhuisen, wat ook die amp van minister van landbou in pres Cyril Ramaphosa se kabinet beklee, het die DA se groei of ontwikkeling stapsgewys uitgespel:

  • Dit het begin by die party se rol as ’n sterk amptelike opposisie in die Nasionale Vergadering.
  • Hierna as ’n kampvegter vir grondwetlike demokrasie en die regte van alle Suid-Afrikaners.
  • En uiteindelik sou die party in ’n posisie wees waar dit deesdae op al drie regeringsvlakke ’n rol speel: munisipaliteite en distriks- en metrorade; provinsiale regerings; én – sedert ’n jaar gelede – ook in Ramaphosa se Regering van Nasionale Eenheid (RNE).

’n Mens sou reken dat die President, ook in sy hoedanigheid as ANC-leier, die DA met hul prestasie geluk sou wens, gegee hul samewerking in die RNE. Helaas het dit nie gebeur nie. In plaas van ’n verjaardagboodskap het Ramaphosa eerder die dag daarna ’n DA-genomineerde adjunkminister, Andrew Whitfield, summier in die pad gesteek.

Die amptelike rede daarvoor was dat Whitfield sonder Ramaphosa se goedkeuring ’n besoek aan Amerika onderneem het. Hoewel dit deur die DA gereël is, het Whitfield nie slegs sy partybaas (Steenhuisen) se instemming benodig nie; ook sy regeringsbaas (Ramaphosa) moes sy handtekening daartoe voeg. Whitfield kon skynbaar nie wag daarvoor nie – of het gewoon besluit dit sal nooit kom nie – en gevolglik het hy sy eie kop gevolg. So veel soos wat hy agterna formeel verskoning sou vra, sou ook dit, soos sy aansoek vir goedkeuring, op dowe presidensiële ore val.

Uit die DA was die reaksie van so ’n aard dat dit wou-wou lyk of die RNE weer wankel, maar die party se dreigemente blyk toe net ’n illustrasie van hul groot skrik oor Ramaphosa se Whitfield-optrede te wees. Of ’n strategie om tyd te wen sodat hulle ’n behoorlike plan van aksie kon uitwerk: Ramaphosa is 48 uur gegee om ANC-ministers oor wie se koppe korrupsiewolke hang, uit hul poste te verwyder. In die agtergrond was daar gissings dat die DA selfs ’n mosie van wantroue in die staatshoof kon instel. Maar die strengste optrede waaraan die party tot nou uitvoering gegee het, was om sy onttrekking aan die nasionale dialoog aan te kondig.

Wat die party ter verduideliking hiervoor aanbied, is dat hy die nasionale dialoog as ’n ANC-foefie beskou en ook nie kan insien hoedat die koste (na raming sowat R700 miljoen) ooit geregverdig kan word nie. In sommige kringe is hierdie aankondiging beskou as ’n desperate poging deur die DA om aansien te probeer herwin nadat sy ultimatum aan Ramaphosa deur ’n doodse stilte van die President self begroet is. Maar oudpres Thabo Mbeki het dit sy taak gemaak om Steenhuisen die leviete voor te lees oor wat hy beskou as ’n afjak deur die DA van landsburgers, wat lank reeds hul versugting duidelik gemaak het vir ’n gesprek oor die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar.

Hierdie uitdagings word nie slegs aan die “nege vermorste jare” van die Jacob Zuma-era toegedig nie, maar is in werklikheid meegebring deur ’n drie dekade lange wagperiode op wat reeds met die oorgang in 1994 belowe is: ’n beter lewe vir almal en nie die agteruitgang wat sedertdien ’n uitstaande kenmerk van ons land geword het nie. Wat die DA betref, kan hierdie situasie omgedraai word slegs indien van die ANC as steeds die meerderheidsparty in die land ontslae geraak word. Terwyl die DA egter self nog aanbly in die RNE, is daar bepaalde protokolle waarby hy (of sy RNE-verteenwoordigers, om meer presies te wees) moet inkoop en moet uitleef. Steenhuisen is daarop gewys dat sy party dalk die reg het om uit die nasionale dialoog te onttrek, maar nie hy of enige ander kabinetslid nie. Ons sal moet sien hoe hanteer die party dié penarie nader aan 15 Augustus, wat die datum vir ’n nasionale konvensie is, ter voorbereiding van die dialoog.

Die prominente rol van nasionale stigtings, waaronder Mbeki s’n, tesame met dié van oudpres FW de Klerk en ANC-leiers, soos Oliver Tambo en Albert Luthuli, asook aartsbiskop Desmond Tutu, is ook in Mbeki se brief aan Steenhuisen gekommunikeer om die geloofwaardigheid van die beplande dialoog te bevestig. Groeperinge soos Convergence4SA het egter vroeër reeds kapsie gemaak daarteen dat die staat en die stigtings se rol in die proses nie die burgerlike samelewing se deelname moet oorskadu nie.

Waarom sou daar tog die behoefte aan ’n nasionale dialoog wees as dit nie is om aan landsburgers ’n geleentheid te gee om eerste, die meeste en die hardste te praat, terwyl die politici sit en luister nie? Politieke verteenwoordigers kry reeds in verskeie ruimtes geleentheid om hul kant van die (land)saak te stel, soos in munisipale raadsvergaderings, wetgewerkomitees, parlementêre portefeuljekomitees en ook sittings van dié drie verskillende regeringsinstellings.

Sommige kommentators beskou die DA se besluit as ’n oordeelsfout; ander probeer die party oorreed om tog nog deel te neem. (Dit is ten spyte daarvan dat Helen Zille, wat die voorsitter van die DA se gesaghebbende federale raad is, nou onthul het dat sy in elk geval uit die staanspoor teen die idee van ’n nasionale dialoog was. Uhm, dit wys natuurlik op verdelingslyne tussen verskillende magsbasisse in die party.) Maar in die algemeen wil dit voorkom asof gewone mense in ieder geval nie veel oor die DA se deelname of afwesigheid gepla is nie – en dit is in ooreenstemming met ’n sinisme wat uit die staanspoor oor alle partye eintlik maar bespeurbaar was. Mense is keelvol vir die daaglikse probleme wat met wanbestuur en gewoonweg korrupte optrede deur amptenare te doen het. Hulle is platgeslaan deur leë beloftes. En was dit nie vir die maatskaplike toelae wat maandeliks aan omtrent die helfte van ons bevolking van 60 miljoen uitgedeel word nie, sou jy maklik teen hierdie tyd reeds met meer baie meer opstande as net die Julie 2021-plundery te doen gekry het.

Hermann Pretorius van die IRR (Instituut vir Rasseverhoudinge) huldig die mening dat verkiesings reeds ’n dialoog is. “Wat op dees aarde is die rede [dan] waarom politieke partye byeen moet kom?” vra hy. Die IRR se peilings is ook ’n manier waarop landsburgers aan die woord gestel word – en in een van die mees onlangse peilings het Suid-Afrikaners onder meer hul afkeer van rasgedrewe wetgewing soos swart bemagtiging duidelik gemaak, asook dat werkloosheid hul grootste kwelling is.

Maar dit was voordat die aankondiging gemaak is dat ’n nasionale konvensie op 15 Augustus sal plaasvind en as voorloper sal dien vir die dialoog wat iewers in volgende jaar sal plaasvind. Dit klink na ’n onnodig lang, uitgerekte affêre – en dit is ongelukkig hoe dinge gedoen word as die staat die dryfveer daaragter is.

Die reaksie op die DA se onttrekking uit die nasionale dialoog neem egter die fokus weg van dit waaroor hierdie samehorigheidsprojek eintlik behoort te gaan, naamlik landsburgers se bekommernisse. En om saam oplossings daarvoor te bedink: hoe om werk te skep; sake burokraties vir entrepreneurs te vergemaklik; grondeienaarskap vir opkomende boere te fasiliteer; en iets wat ’n organisasie soos Kaapse Forum op die agenda wil plaas: hoe om gemeenskappe in staat te stel om meer selfstandig te raak en minder staatsafhanklik.

Met ander woorde, die nasionale dialoog kan nie ’n gesprek van bo (regering) na onder (burgerlikes) wees nie, maar een waar almal gelyke inspraak het. Is dit dan nie waar nie dat as die politici tot nou hul werk behoorlik gedoen het, die “people” nie sou hoef te geëis het dat sodanige gesprek moet plaasvind nie? Só beskou, is die DA se onttrekking aan die nasionale dialoogproses dalk nie ’n slegte idee nie, maar ook net mits dit meer ruimte gaan skep vir gewone landsburgers om hul sê te sê – én na geluister te word. Dit sal iets wees om te vier.

Lees ook:

’n Anderse "familievergadering"

https://www.litnet.co.za/die-nasionale-dialoog-die-kortlangpad-of-die-langkortpad-13-junie-2025/

Vuurwerke verwag in parlement na DA en ANC se twis

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top