Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het nog ’n oorwinning behaal in die stryd teen Covid-korrupsie toe dit die wins uit ’n onwettige R4,73 miljoen-kontrak vir persoonlike-beskermingsuitrusting (PPE) van Tepa Trading and Projects (Edms) Bpk teruggevorder het.
Die Spesiale Tribunaal het op 30 Oktober 2025 beslis dat die kontrak, wat in 2020 deur die Mpumalanga Departement van Gesondheid toegeken is, onwettig, ongrondwetlik en ongeldig was. Die hof het Tepa Trading verbied om enige van die wins te gebruik of te verkwis om te verseker dat die geld aan die staat terugbetaal word.
Die kontrak was bedoel vir die verskaffing van 220 000 drielaag- chirurgiese maskers tydens Covid. Volgens die SOE se ondersoek het die tenderproses nie aan enige wetlike vereistes voldoen nie. Daar was geen mededingende bodproses nie, geen behoorlike beoordeling van die verskaffer se vermoë nie, en moontlik is die maskers nooit gelewer nie.
“Hierdie uitspraak is deel van ons voortdurende poging om staatsfondse wat tydens die COVID-19-ramptoestand verlore gegaan het, terug te kry,” sê die SOE in ’n verklaring wat gister (Donderdag) uitgereik is. “Verskaffers wat nie aan wetlike vereistes voldoen nie, het geen reg op wins uit staatskontrakte nie.”
#SIUWorkingForYou| SIU SECURES R4.7 MILLION PPE CORRUPTION ORDER AGAINST TEPA TRADING IN MPUMALANGA
The Special Investigating Unit (SIU) has secured a court order to recover the profits from a R4.73 million PPE contract that was unlawfully awarded by the Mpumalanga Department of… pic.twitter.com/bMZaKoyH5j
— Special Investigating Unit (SIU) (@RSASIU) November 6, 2025
Die hofbeslissing volg uit president Cyril Ramaphosa se Proklamasie R23 van 2020, wat die SOE gemagtig het om alle onreëlmatighede in PPE-kontrakte landwyd te ondersoek. In Mpumalanga alleen het die eenheid reeds 605 kontrakte ter waarde van R572 miljoen ondersoek.
Die jongste uitspraak sluit aan by ’n reeks soortgelyke hofsuksesse in die provinsie. In Junie 2025 is twee kontrakte van R9,1 miljoen met Vitae Zoe (Edms) Bpk ongeldig verklaar weens oortredings met temperatuurmeters. In Oktober is R2,4 miljoen van Nozihle Construction and Projects bk teruggevorder.
SIU AUTHORISED TO INVESTIGATE ALLEGATIONS OF MALADMINISTRATION IN THE PROCUREMENT OF PRINTERS AND PHOTOCOPY MACHINES
President Cyril Ramaphosa has signed a new proclamation authorising the Special Investigating Unit (SIU) to investigate allegations of maladministration in the… pic.twitter.com/gwdJpRM93F— Special Investigating Unit (SIU) (@RSASIU) November 3, 2025
Tot dusver het die SOE se veldtog teen PPE-korrupsie gelei tot R174,5 miljoen in hofbevele, R170 miljoen se gekanselleerde kontrakte en R32,5 miljoen wat reeds effektief teruggevorder is.
Volgens die SOE het die ondersoek aan die lig gebring dat die Departement van Gesondheid nie ’n deursigtige of regverdige verkrygingsproses gevolg het nie. ’n Amptenaar sonder die nodige magtiging het glo kontrakte goedgekeur – een van verskeie onreëlmatighede wat die hof as onwettig bevind het.
Die eenheid sê die patroon is duidelik: Senior amptenare in Mpumalanga het tenders sonder behoorlike prosedures aan onbekwame verskaffers toegeken. In baie gevalle is goedere nooit gelewer nie, of teen buitensporige pryse. Die SOE het reeds 25 dissiplinêre verwysings gemaak en 189 klagtes oor PPE-kontrakte landwyd ondersoek.
Mpumalanga bly een van die brandpunte van korrupsie-ondersoeke. In Julie 2024 is bates ter waarde van R52,6 miljoen in vier provinsies verbeurd verklaar in ’n gesamentlike aksie van die SOE, die Valke en die Batebeslagleggingseenheid. Dit was deel van ’n groter netwerk van bedrog in die Departement van Openbare Werke, waar 22 amptenare en verskaffers betrek is.
In ’n afsonderlike saak is twee broers, Thulani en Bheki Manzini, in 2022 in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en korrupsie in die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta). Hulle het glo R5,9 miljoen uit ’n tender vir sanitasieprojekte verduister. Die saak duur steeds voort.
#KnowYourSIU| Part of the SIU’s mandate is to recover any money and/or assets the State has lost due to corruption, maladministration and misconduct. pic.twitter.com/NweYD6psTk
— Special Investigating Unit (SIU) (@RSASIU) November 4, 2025
Die hoof van die SOE, Andy Mothibi, het in ’n vorige verslag gewaarsku dat korrupsie die staat se vermoë om basiese dienste soos gesondheidsorg en onderwys te lewer, ernstig ondermyn. Sy waarskuwing kom te midde van die aanloop tot die G20-beraad wat oor twee weke in Johannesburg gehou word, waar Suid-Afrika se bestuur van openbare fondse waarskynlik onder die vergrootglas sal wees.
Na die jongste uitspraak sal die SOE Tepa Trading se finansiële rekords ondersoek om die presiese wins te bepaal. Indien daar bewyse van bedrog of sameswering met staatsamptenare is, sal die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys word vir strafregtelike vervolging.
Die SOE sê die jongste stap gaan nie net oor geld nie, maar oor aanspreeklikheid. “Korrupsie sal nie ongestraf bly nie,” lui die verklaring.
Lede van die publiek met inligting oor soortgelyke oortredings kan dit anoniem rapporteer by 0800 037 774 of siu@hotline.co.za.
Met sowat R471 miljoen se moontlike herwinning nog in die pyplyn sê die SOE sy werk bly van kardinale belang vir die herstel van vertroue in openbare instellings – veral in Mpumalanga, waar korrupsie steeds diep wortel skiet.
