...
Die bakkery beplan glo om die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as toekomstige kopers van daaglikse gebakte brood te nader.
...
Suid-Afrikaanse soldate verruil nou glo hulle gewere vir meel en broodpanne om die weermag se begroting te laat klop.
Die finansieel uitgehongerde Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het volgens berigte ’n hele ketting bakkerye geopen om te help om sy troepe te voed en die weermag se beursie te vul.
Die DA se skaduminister van verdediging, Kobus Marais, sê in ’n verklaring die besluit wat skynbaar deur die bevel van die SANW-ondersteuningsformasie geneem is om bakkerye stig, is "bisar".
Hy sê sy party gaan dit nie daar laat nie. Hy gaan aan die minister van verdediging, Thandi Modise, skryf om ’n ondersoek aan te vra na die SANW se “bisarre besluit” om ’n ketting van bakkerye te skep, wat moontlik onreëlmatige en verkwistende uitgawes is, sê Marais.
Die weermag se vyfde huisbakkery en die eerste in die Wes-Kaap is glo twee weke gelede by die weermagvoorraadbasis in Kaapstad geopen. Foto’s van die soldate en amptenare wat die bekendstellingsgeleentheid bygewoon het, is op verskeie webwerwe geplaas. Dit het die wenkbroue van opposisiefigure soos Marais laat lig en verskeie vrae laat ontstaan.
Marais sê terwyl die DA erken dat die SANW met ’n kontantprobleem sit en ’n aantal bedryfsuitdagings in die gesig staar, is die opening van bakkerye nie die oplossing nie.
Hy sê hierdie bakkerye val buite die weermag se mandaat. Volgens hom stel dit die SANW oop vir onreëlmatige en verkwistende besteding van sy reeds beperkte fondse.
“Hierdie besluit beklemtoon weer eens die gebrek aan strategiese denke en versiendheid binne die SANW se leiersgeledere,” sê Marais.
Om sy begrotingskontrakte aan te spreek, moet die SANW volgens hom hervorm en herposisioneer word om die hedendaagse uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, die hoof te bied.
Volgens die webwerf DefenceWeb lui onbevestigde berigte dat “weermagbrood” teen R20 per brood verkoop word, ver bo die normale kleinhandelprys.
Dit blyk volgens die webwerf dat die bakkerye, benewens die verskaffing van brood aan militêre basisse en eenhede, ook ander klante in die oog het, soos die polisie en plaaslike inwoners. Die verskaffing van produkte aan die publiek kan glo ’n oortreding van die SANW se reëls en regulasies wees.
A decision, seemingly taken by the command of the SA Army Support Formation, to set up on-base bakeries is “bizarre”.#SANDFhttps://t.co/4Kz6hjFoai
— defenceWeb (@defenceWeb_Afr) November 30, 2021
Dit is glo alles die gevolg van die SANW se desperate soeke na ’n kontantinspuiting. Die weermag staar ’n groot begrotingskrisis in die gesig voor aanstaande jaar se begroting en hoop glo dat hulle bakkerye die situasie sal help beredder.
The South-African berig dat SANW-kaptein Desiree Boipelo Kolokoto die weermag se pogings verdedig het.
“Sanlam en Liberty het onderneem om die SA Nasionale Weermag te ondersteun en saam te werk om gemeenskappe te help om besighede te ontwikkel om werk te skep, onder meer soos die Mobile Fresh Market as deel van die boerderyprojekte van Koba-Tlala,” het Kolokoto volgens die webwerf gesê.
Die bakkery by die Kaapstad-eenheid staan amptelik bekend as ASB Western Cape Maqoma Bakery en staan gereed om brood aan weermageenhede in sy verantwoordelikheidsgebied te lewer.
Die bakkery beplan glo om die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as toekomstige kopers van daaglikse gebakte brood te nader. Kolokoto het volgens The South African gesê dit “moedig sinergie aan” en help om ontslae te raak van die silobenadering om sodoende die negatiewe impak van die begroting te beveg en selfonderhoud in verskeie staatsdepartemente te help skep.
DefenceWeb sê sover bekend is die bakkeryprojek in die weermag die gevolg van ’n opdrag deur generaal-majoor Mzikayise Tyhalisi wat in Februarie vanjaar uitgereik is. As algemene offisier in bevel van die weermagondersteuningsformasie het hy glo opdrag gegee dat alle steunbasisbevelvoerders so gou as moontlik bakkerye moet stig. Die eerste wat gereageer het, was ASB Johannesburg by Lenz suid van die land se ekonomiese spilpunt waar die uitdaging was om brood te bak om aan eenhede in Suid-Gauteng te voorsien. ’n Aanvanklike teiken van 6 000 brode per dag, wat drie keer per week afgelewer word, is glo gestel.
Luister hier na ’n klanksnit van die DA se skaduminister van verdediging, Kobus Marais, oor die weermag se bakkerye.