Die vakbond Solidariteit se Regsgilde het ’n lansie vir Afrikaans gebreek in die regsberoep.
Solidariteit het bekendgemaak dat die Regspraktisynsraad (RPR) uiteindelik aan die Solidariteit Regsgilde bevestig het dat toelatingseksamens vir regslui in sowel Afrikaans as Engels beskikbaar sal wees.
Solidariteit en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het die RPR in die Hooggeregshof aangevat nadat die RPR op 4 Maart 2019 ’n kennisgewing gepubliseer het waarin eensklaps weggedoen word met Afrikaans as amptelike taal van eksaminering.
Volgens Henru Krüger, sektorhoof by Solidariteit se Regsgilde, het die hofaansoek breedvoerig daarop gewys dat die afskaffing van Afrikaans geen regsbasis het nie. “Uiteindelik het die RPR gekapituleer en op 13 Januarie 2020 weer ʼn kennisgewing uitgereik ingevolge waarvan die kennisgewing van 4 Maart 2019 teruggetrek is,” het hy gesê.
Solidariteit sê in ’n verklaring dat sedert die terugtrekking van die kennisgewing wat Engels as die enigste taal van eksaminering toelaat, die RPR groot verwarring en onsekerheid geskep het deur nie te kommunikeer dat die status van Afrikaans as taal van eksaminering herstel is nie.
Die Regsgilde het die RPR weer op terme geplaas om Afrikaans as taal van eksaminering te bevestig en die nodige duidelikheid is nou uiteindelik volbring, het Solidariteit dié week gesê.
“Die stryd is egter nog nie verby nie. In Augustus vanjaar het die RPR ’n konseptaalbeleid bekend gemaak wat Engels se dominante posisie in die howe bevestig, Afrikaans onderdruk en van enige ruimte beroof, en wat boonop enige kans wat ander tale het om as regstaal opgebou te word, in die wiele ry.
“Die Regsgilde het kommentaar teen die beleid ingedien en het ook ’n formele klag by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad ingedien,” verduidelik Krüger.
In ’n afsonderlike saak het Solidariteit Jeug Woensdag ’n dringende skrywe aan die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) gestuur waarin hy die hulpskema maan om onmiddellik ’n einde te maak aan sy wanbetaling aan tersiêre instellings. Die aanmaning volg in reaksie op NSFAS se versuim om sy kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor beurshouers met die uitbetaling van beursgeld aan tersiêre instellings na te kom.
Verskeie beurshouers is onlangs deur hul betrokke tersiêre instellings ingelig dat NSFAS versuim het om hul studiegeld te betaal. Hierdie versuim van NSFAS om sy verpligtinge teenoor sy beurshouers na te kom, het tot gevolg dat die betrokke studente nie hul studie kan voortsit of afhandel nie.
“Studente is van hierdie beursgeld afhanklik om te kan studeer en hul studie te kan voltooi. Om uit die bloute te hoor jou studiegeld is nie betaal nie, is ʼn geweldige skok, veral vir ʼn student wat dit juis nie kan bekostig om hierdie koste self te dra nie. Hierdie versuim deur NSFAS het nie net ʼn direkte impak op studente se studie nie, maar beroof hulle in werklikheid ook van hul toekoms,” sê Paul Maritz, die bestuurder van Solidariteit Jeug en Loopbaanontwikkeling.
In die aanmaning dring Solidariteit daarop aan dat NSFAS al sy verpligtinge onmiddellik hervat en dat hy sal onderneem om sy kontraktuele en statutêre verpligtinge, soos uiteengesit in die beursooreenkomste, sonder enige verdere versuim na te kom.
“Hierdie studente het almal suksesvol aansoek gedoen vir die beurse, maar NSFAS het, sonder om enige rede daarvoor te gee, bloot ophou betaal. Solidariteit kan nie toelaat dat hierdie versuim deur NSFAS net aanvaar word nie. Wanneer ʼn ooreenkoms aangegaan word, moet albei partye daarby hou. Solidariteit sal dus nie skroom om verdere regstappe te doen indien NSFAS nie aan hierdie eise voldoen nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit.
- Lees die aanmaning hier.